Gedagte vir Vandag
5 Maart 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (63)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (9).
(Matt. 21:1–22:46)
Jesus vervloek die vyeboom (1)
(Mark. 11:12-14; 20-24)
Indrukwekkende vroomheidsvertoon maar geen vrugte!
Matt. 21:18-20 – “Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry. Toe Hy ‘n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: ‘Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.’ En die vyeboom het dadelik verdroog. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: ‘Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?”
Vergelyk ook Jer. 2:21 – “Toe Ek jou geplant het (Israel), was jy ’n goeie wingerdstok, opreg gekweek, maar hoe het jy nie verander in onkruid, in ’n wilde wingerdstok nie!”
Nadat Jesus die tempel gereinig het en al die siekes daar gesond gemaak het, het “Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het” (v. 17). Vroeg die volgende môre bevind Jesus Hom weer op pad terug na Jerusalem waar Hy voortaan in die tempel die grootste gedeelte van die laaste paar dae voor Sy kruisiging, Sy tyd sou deurbring. Aangesien Hy volkome mens was, onderhewig aan alle menslike beperkinge, maar sonder sonde, ondervind Hy ook honger.
“Toe Jesus ‘n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen.” ’n Vyeboom vol blare wek die indruk dat hy vrugte aan het en prikkel die lus om daarvan te eet. By ondersoek blyk dit dat die boom geen vrugte het nie want Jesus “het niks anders as blare daaraan gekry nie”. Maar Markus sê daarby “dat dit nie vyetyd was nie” (Mark. 11:13). Die eintlike tyd vir vye was eers teen Junie. Tydens Paasfees (einde Maart, begin April) was daar dikwels al blare aan die vyebome aan die Olyfberg se oostelike hang, asook klein voorvytjies wat maklik weer kon afval en nie juis eetbaar was nie. Jesus verlang dus van hierdie boom wat vol blare staan, nie die onmoontlike nie. Aangesien die boom nie voldoen aan die verwagtings wat hy self wek nie, beskryf Matteus dan die enigste oordeelswonder van Jesus, wanneer Hy die vyeboom vervloek “en die vyeboom dadelik verdroog.”
Die dissipels gee hulle verbasing te kenne. Tot hiertoe was hulle telkens daarvan getuie dat die woorde van Jesus ’n kragtige werking besit tot heil en seën. Tans ondervind hulle dat dit ewe-eens ’n wondermag tot onheil besit. Net soos Sy seën, het ook Sy vervloeking onmiddellike uitwerking.
Jesus gebruik hierdie situasie nou om ‘n boodskap oor te dra. Die vyeboom stel God se volk voor. Van die Ou Testamentiese tye af was dit ’n beeld wat vir die volk van God gebruik is – hulle is ’n wingerd of ’n ander vrugteboom wat deur God geplant is en wat Hy met die grootste liefde versorg en vertroetel het. Soos enige boer, verwag Hy dan dat hierdie wingerd of vrugteboom, vir wie Hy die beste gegee het en alles gedoen het, ’n goeie opbrengs sal lewer en baie vrugte sal dra. Hier is egter ‘n vyeboom wat “voorgee” om reeds vrugte te hê, maar hy is net vol blare. So het God Sy Seun na Sy volk gestuur, maar, al wat Hy vind by hulle is net blare en geen vrugte nie!
Al God se aanhoudende en liefdevolle werk teenoor hulle het op niks uitgeloop nie. Hulle het daarop geroem dat hulle die bevoorregte verbondsvolk is en neergesien op nie-Israeliete wat heidene was. Die tempel was hulle trots, Hy vind egter ‘n tempel wat geen gebedshuis meer was nie, maar ‘n handelshuis. Hulle het soos skynheiliges lang gebede in die openbaar gebid sodat mense hulle kan sien (Matt. 6:5); hulle gesigte wit gesmeer sodat mense kon sien hulle vas (6:16). Geweldig indrukwekkend, maar vir die Here, wat met die honger van liefdevolle verwagting, vrugte van geloof en gehoorsaamheid by Sy volk gaan soek het, was dit een groot teleurstelling – daar was nie vrug nie, net blare – na die uiterlike was daar mooi woorde en die vroomheid van godsdienstigheid, maar geen ware liefde vir Hom en hulle naaste nie.
Beide die vyeboom en die volk Israel het baie uiterlike vertoon, maar weinig vrug. Jesus het dus nie onbillik opgetree nie, die vyeboom het die vloek verdien, nie omdat dit nie vrugte gehad het, maar omdat dit ‘n uiterlike versiering gehad het wat ‘n valse indruk geskep het. Jesus se vervloeking van die vyeboom was nie omdat Hy gegriefd was en uit die wraak van ’n honger mens, tot so ‘n daad oorgegaan het nie. Dis ’n profetiese verduideliking vir Sy dissipels en ons gelowiges van wat aan die gebeur is – hoe God die verhouding tussen Hom en Sy volk sien, tussen Hom en Sy kinders sien! Vormgodsdiens is vir God nutteloos! ‘n Uiterlike vertoon sonder ‘n geloof gebou op Jesus, en gepaardgaande dankbaarheidsdade, is vervloek!
En wat nou van die feit dat dit nie vyetyd was nie, maak dit nie hierdie ontsettende oordeelswonder van Jesus onregverdig nie? Nee, dit gaan nié oor die vyeboom nie. Dit gaan oor God se volk, God se kinders, “álmal wat Jesus aangeneem het, die wat in Hom glo, dié vir wie Hy die reg gegee het om kinders van God te wees” (Joh. 1:12). Ons is veronderstel om altyd vrug te dra. Ons liefde vir God word mos nooit opgeskort nie. Daar’s nie seisoene in die kinders van God se lewens, sodat ons kan kies wanneer ons nie hoef te glo nie, en nie gehoorsaam aan God hoef te leef nie. Ons moet te álle tye op die Here vertrou en sonder onderbreking vir God en ons naaste liefhê en diensbaar wees in Sy koninkryk!
Die Here moet tydig en ontydig by my en jou langs kan kom, en altyd vrugte kry. Die Here verwag áltyd vrug by Sy volgelinge, by Sy kinders, by die mense wat aan Hom behoort. Die vrugte wat God in ons wil sien, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal. 5:22), en daarom sal God alles wat hiermee wil probeer inmeng, “reg snoei sodat dit nog meer vrugte kan dra! (Joh. 15:2b). Hy spandeer baie tyd om deur Sy “wingerd” te stap, onkruid uit te trek en elke loot te inspekteer om seker te maak hy gaan vrugte dra. Al die “lote” wat die vermoë het om vrug te dra maar wat dalk afgeval het en in die grond of modder lê, tel Hy liefdevol op, snoei dit reg, verander sy posisie en plaas hom in ‘n plekkie in waar hy genoeg son kan kry, weer kan rank en vrugdra soos God dit van ons verwag. Waar bevind ek en jy ons? Dra ons regtig áltyd vrug vir die Here, of is ons geestelike lewe maar net blare? Lê ons dalk in die modder en kort ‘n bietjie snoeiwerk?
“Mense verstaan net soveel van God se liefde en genade as wat hulle in óns, “reg gesnoeide lote”, se lewe sien. Dít is die eerste Bybel wat baie mense dalk lees!” (Rebecca Pippert).
Gebed: Dankie Here dat U my vreugde skenk. Saai my lewe in U hemelse landerye sodat ek ‘n ryke oes in U koninkryk en tot U eer, hier op aarde kan wees. Snoei my reg sodat ek die vrugte van die ware wingerdstok kan dra, en sodat daardie vrugte in die godvrugtige lewe wat in deug en goeie werke tot uiting kom, kan bestaan. Amen.
Comments