Gedagte vir Vandag
Donderdag, 8 Augustus 2024
Koos Espach
Die storm op see (6)
God versus storms
Hand. 27:33-36 – “Net toe dit begin lig word, het Paulus almal aangespoor om te eet: ‘Vandag is dit al veertien dae dat julle in spanning wag sonder om iets te eet. 34 Daarom raai ek julle aan om nou te eet. Julle het dit nodig om gered te word. Niemand van julle sal ‘n haar van sy kop verloor nie.’ 35 Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet. 36 Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet.”
Die dag begin breek en dit word effens lig, die storm woed nog aaneen, alles is nog onseker, die groep is in twee verdeel tussen matrose en soldate, ook toorn. Hoe dan anders? Die soldate het die matrose se geloof in hulle ‘reddingsbootjie’ flenters geslaan. Die gevangene Paulus neem die leiding. Die onstuimigheid van die see is nou ook in die harte van die manne en dit moet daaruit. Paulus, met sy onwrikbare geloof en hoop op God, gee raad dat almal nou, na veertien dae moet eet.
Paulus handel met hulle soos ‘n vader met verskrikte kinders doen. Die aandag moet afgetrek word van wat hulle ontstel en verward maak. Hulle dink aan vergaan, maar Paulus praat van behoud. Paulus bevestig sy vermaning en belofte deur voor te gaan, ’n voorbeeld te stel, self brood te neem in sy geboeide hande, God voor hulle almal hardop te dank vir die brood en vir hulle redding, die brood te breek en self daarvan te begin eet. Hulle luister na hom, skep weer moed, begin saam eet en saam regmaak vir die dag se nuwe geweld.
Terwyl die storm woed en die gevaar van skipbreuk al groter word, gaan Paulus kalm en rustig voort om te eet as teken dat hy op God se redding vertrou. Die ete word ‘n gemeenskaplike maaltyd en bring versoening tussen die twee groepe! Dit word deel van hulle redding uit die gevaar, dit herstel hulle liggaamskragte en saam met die vrede tans tussen hulle, die belofte dat niemand van hulle ’n haar van sy kop sal verloor nie. Merkwaardig! Daar is skielik oplewing na die insinking. Wanneer dit by moed inpraat en die verkondiging van God se redding gaan, is Paulus duidelik nou die leier. Julius, die Romeinse offisier én die skeepskaptein speel geen rol meer nie.
Paulus se motivering om te eet omdat hulle dit nodig het om gered te word en niemand van hulle ‘n haar van sy kop sal verloor nie, gaan nie hier net oor die liggaamlike krag wat hulle nodig gehad het om aan land te kom nie. Hy herhaal hier die woorde van Jesus aan sy dissipels van alle tye, dat die hare op ons kop almal getel is (Luk. 12:7) en daar selfs nie ‘n haar van ons kop sal af val nie (Luk. 21:18). Vir ons as gelowiges sê dit iets van elke uitmergelende plek waar ons ons ook al mag bevind. God se hulp kan ook vir ons ‘n nuwe dag laat aanbreek.
Jesus sê dat selfs “die hare op ons kop almal getel is en nie een sal verloor nie”, (dis nou vir dié van ons wat hare het). Só groot is God se liefdesorg oor ons en só waak Hy onophoudelik oor sy kinders. Nooit en nêrens is ons buite die bereik van God nie, God is oral! Ons staan in ‘n nimmereindigende verhouding met ons hemelse Vader wie se liefde vir ons allesomsluitend en ewigdurend is. Watter krisis kan dus in ons pad staan en verhoed dat ons nie daaroor sal kan kom nie? Hy sal ons krag gee. Hy sal ons beskerm en ons die oorwinning laat behaal. Geen struikelblokke kan só groot en onoorkombaar wees dat dit ons van sy liefde sal skei nie!
God is die God van ons lewe. Hy weet van die laste van die lewe wat ek en jy dra, laste wat ons skouers stukkend skaaf. Hy weet van die pad wat ons elke dag moet loop wat maar vaal en eindeloos lyk. Hy weet die lewe is baie dae vir ons net nie meer ‘n lied nie. Hy weet hoeveel mense moed verloor het en wie se hoop elke dag taan want alle pogings om byvoorbeeld, net ‘n werk te kry, is vrugteloos. Baie mense besef nie dat ons tans dieselfde toekoms beleef waaroor ons tien of selfs twintig jaar gelede, ook so oor bekommerd was nie. God is en bly in beheer! Boonop het ons dit tot dusver oorleef en maak ons dit daagliks nog stééds op die een of ander manier. Verstommend né!
Nee, dit is nie verstommend nie. Dit is genade. Dit is alles aan God te danke. Hy is getrou. Hy sorg nog elke dag en voorsien ons van genadebrood. Ja, daar is miskien nie elke dag iets om op die brood te smeer nie, maar God het immers gesorg dat ons vandag gehaal het. Hy het gesorg dat ek en jy vir vandag iets het om aan te trek, ‘n kombers vir die koue het en ietsie vir die maag. Ons moet besef ons het nie eintlik beheer oor ons lewe of liggaam, of selfs die dood nie, ons is daarvoor van God afhanklik. As God dan gesorg het dat ons die lewe en liggaam ontvang het, wat trouens die belangrikste is, kan ons sekerlik Hom vertrou om ons te help om staande te bly in alle ‘storms’ en omstandighede.
“Remember, the biggest troubles you have got to face are those that never come” (William Barclay).
Gebed: Hemelse Here, ek wil vandag opnuut weer al my vrese voor U voete kom neerlê. Vergewe my dat ek nog vir soveel dinge bang is al weet ek só goed dat U reeds op my lewenspad vooruit gegaan het om dit wat moontlik nog gaan gebeur, ook teen kan beskerm. Al weet ek nie wat nog in die toekoms aan die kom is nie, weet ek Wie het reeds gekom, daarom hoef ek nie eens vir die volgende minuut te vrees nie. Amen.
Comments