Gedagte vir Vandag
Maandag, 5 Augustus 2024
Koos Espach
Die storm op see (3)
Hou moed, vertrou altyd op God
Hand. 27:21-25 – “Nadat hulle ‘n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: ‘Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het. 22 Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. 23 Verlede nag het daar ‘n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. 24 Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’ 25 Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het.”
Die stormweer het alle hoop dat hulle gered sou word, van hulle ontneem. Maar, ‘n ander mag kom egter nou tot openbaring teen die demoniese mag van die storm. Die moed van Paulus se geloof kom hier tot openbaring en hy staan as gesant van God op in die storm en kan hy weereens getuig van die God aan wie hy behoort. In my geestesoog sien ek hom en wonder hoe hy 276 mense gaan motiveer om vas te byt en nie tou op te gooi nie? Te midde van die stormgeweld wonder ek of daar al ‘n prediker was wat ooit so ‘n gehoor toegespreek het. Vir twee weke al is hulle uitgemergel, tot die dood toe uitgeput, seesiek, geen of min slaap en boonop vir ‘n lang tyd nie eers meer geëet nie.
Paulus het egter altyddeur in verbinding gestaan met sy God, ons God wat soewerein is selfs oor die natuurmagte. Paulus staan nou en begin: “Manne, julle moes na my geluister het ...” Nee Paulus man, hoe kan jy so kleinsielig wees om in hierdie doodsgevaar hulle te verwyt? Nee, sy ‘berisping’ is nie ‘n verwyt nie. Ook nie ‘n ‘ek-het-julle-mos-gesê-nie!’ Hulle is self nou oortuig en hulle moet hom nou glo. Paulus wil hulle opdra aan sy God, aan mý en jóú God, aan die Allerhoogste wat hulle moed kan laat skep. “Niemand van hulle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan”, hoor hulle. Sy gehoor is geboei. Wat sê die man? Hy het al een maal die waarheid gepraat, maar nou, hoe weet hy dit? Paulus kon met vrymoedigheid getuig van die engel van sy God wat in die nag aan hom verskyn het.
Wat ‘n nag! Vir almal aan boord was die afgelope veertien dae al net nag! Nagte in stormweer is vir elke matroos ‘n verskrikking, wat nog van matrose op ‘n skip waarvan al die toerusting om hom op koers te hou, weggegooi is? Te midde van dit alles, staan Paulus en verplaas sy gehoor met die wonderlike woorde van redding, uit die donkerte na die Lig. Hulle verstaan nou: ‘n Boodskapper van God het gekom na ‘n dienskneg van God – en die blekes, vermoeides, verhongerdes – is ene ore. Paulus se woorde het nou meer krag as die geloei van die stormwind!
Ons almal beleef soms storms. Wel nie op die see nie, maar dit voel asof die ruwe golwe van die lewe soms ons huwelik bedreig, skielike of langdurige ernstige siekte, finansiële terugslae, droogte, of kinders wat verkeerde keuses maak, letterlik enigiets. Dinge lyk dan hopeloos en dit raak dan ook die mense om ons. Watter invloed het ons dan op hulle lewens. Kan ons soos ‘n Paulus opstaan en hulle bemoedig? Kan ons ‘n seën wees vir ander? Die seën wat God ons skenk, mag nie tot my en jou beperk bly nie. Ons weet wel nie wat ander nodig het om geseënd te kan lewe nie, maar die Here weet. Ons plig is om te bid sodat Hy ons in staat kan stel om kanale te wees waardeur sy seën na ander kan vloei.
Net soos hierdie ongelowiges op die skip Paulus dopgehou het, hou mense my en jou ook fyn dop om te sien hoe ons in krisistye reageer. Deur die gesindheid van Jesus Christus in hierdie wêreld, of nog nader, in ons omgewing waar ons beweeg en werk, te openbaar, kan ons ‘n ryke seën wees vir ander. Hoe doen ons dit? ‘n Goeie begin is om saam met die Psalmdigter vir ander te wys “ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en beskermer. Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons” (Ps. 33: 20-21). Ons aanbid ‘n God wat omgee, ‘n God wat volkome betroubaar is. “Hy is die Een op wie ek en jy ons lewe lank kan vertrou ... skryf Jesaja in Jesaja 33:6. Ons kan ons vasmaak aan Hom met die sekere wete dat Hy altyd daar sal wees vir ons.
Die bekende Andrew Murray het op ‘n keer geskryf dat ons vertroue in die Here nie net geloof moet wees nie, maar ‘n ervaring. Is dit nie juis in ons diepste nood wat ons Jesus méér ervaar as gewoonlik nie? Daarom moet ons ons geloof gedurig fokus op, en ons vertroue vestig in Jesus Christus – nie ‘n “biduur” Jesus Christus of ‘n “boek” Jesus Christus nie, maar ‘n Nuwe Testament Jesus Christus. Dié Jesus Christus wat ons in sy Testament ingeskryf het, wat sy Naam op ons voorkop ingraveer het, God wat mens kom word het (Joh. 1:14). “Christus Jesus ... Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Kor. 1:30). Dít is die Here wat sy kinders wil gebruik om ander met volle vertroue na Hom toe te lei sodat hulle ook vlekkeloos voor die troon van God kan staan, heeltemal vrygespreek! Vertrou altyd op Hom!
“Laat ons God dan vertrou, en onsself troos aan die gedagte dat alles goed sal wees as dit volgens die wil van God geskied. Hy weet wat die beste is vir ons tydelike en ewige welsyn en vreugde” (Martin Luther).
Gebed: Here, ek wil graag ‘n goeie invloed wees in my huis, my omgewing, my werk, oral waar ek beweeg. Help my asseblief om tot seën vir ander te wees sodat U goedheid sal seëvier en hulle vertroue in U standvastig sal raak. U Naam ter eer. Amen.
Comments