Gedagte vir Vandag
Woensdag, 31 Julie 2024
Koos Espach
Paulus gaan na Rome (5)
Wie weet die beste?
Hand. 27:8-12 – “Ons het met moeite langs die kus op gevaar en ‘n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea. 9 Ons het baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik geword vir skeepvaart, want dit het al begin winter word. Paulus waarsku hulle toe: 10 ‘Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie maar ook lewensverlies.’ 11 Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die mening van die kaptein en die eienaar van die skip as aan wat Paulus gesê het. 12 Die hawe was nie geskik om daar te oorwinter nie, en die meeste wou liewer daarvandaan wegvaar en probeer om Feniks te bereik. Feniks was ‘n hawe van Kreta wat suidwes en noordwes see toe oop lê, daar sou hulle kon oorwinter.”
Die reis al langs die suidkus van Kreta was moeilik met die wind wat uit die noordweste gewaai het. Uiteindelik het hulle ’n klein baaitjie bereik, wat die naam van Mooi Hawens dra. Aangesien daar meer tyd verloop het as waarvoor hulle beplan het, was die gunstige seisoen vir die skeepvaart verby. Dit is algemeen aanvaar dat die gevaarlikste tyd vir skeepvaart November begin het. Alle skeepvaart het dan tot Maart tot stilstand gekom, nie alleen omdat die betreklik klein skepe die winterstorms nie kon trotseer nie, maar veral ook omdat die sterre waarvolgens die rigting bepaal is, in daardie tyd dikwels onsigbaar was.
Paulus het baie gereis en was van al hierdie dinge bewus. Daarom kon hy hulle waarsku. Maar, Paulus was nie ‘n matroos nie en ook nie ‘n weervoorspeller nie. Die kaptein van die skip en die eienaar het gedink dat daar ’n kans was om ’n beter hawe te bereik verder na die weste langs die suidkus van Kreta, en die offisier het eerder na hulle geluister as na Paulus.
Paulus het egter ‘n ander voordeel gehad. Hy het ‘n lewende verhouding met die lewende Christus gehad. Hy het geleer om mooi te luister. Hy het dinge gehoor wat die ander nie gehoor het nie. Die Romeinse offisier het Paulus se woorde in die wind geslaan. Dit was ‘n fout! Later meer daaroor. Paulus wou ten alle koste veilig in Rome kom. Hy het nie net gebid om na Rome te mag gaan nie, hy het hom dit dikwels voorgeneem om na hulle te gaan om die evangelie te gaan verkondig.
Naas die twee redes wat hy reeds genoem het en waarna ons gister gekyk het, noem hy in sy brief ’n derde rede: “Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen. Ek staan onder ‘n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes, en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig” (Rom. 1:13-15). Hy wou “mense vir Christus wen.” Hy wou ten alle koste mense na Christus toe lei. Hy het self God se genade ontvang en hy beleef die wonder daarvan, daarom kan hy nie anders as om hierdie genadegawe met ander te deel nie. Hy beklemtoon dat hy teenoor alle mense, hoe en wat hulle ook mag wees, ‘n verpligting het.
Hy het ‘n verantwoordelikheid gehad wat hy end-uit moes uitvoer: “Om die evangelie te verkondig omdat hy móét! En wee hom as hy dit nie doen nie!” (1 Kor. 9:17). Dit was nie dat ‘n verpligting op hom afgedwing is nie. Hy wóú dit nie anders gehad het nie, want hy was oortuig dat die Heilige Gees dit in sy hart gelê het! Daar is niks wat Paulus meer verheug het as om te sien hoe die evangelie by die regte adres uitkom; hoe mense hulle rykdom in Christus besef en daaruit lewe; hoe mense in geloof onwrikbaar daaraan vashou; hoe hulle vrugdraende dienaars van God word.
Arbeiders in diens van die Here verskil van mekaar in oorleg en opdrag, maar saam werk ons vir dieselfde groot saak naamlik die koninkryk van God. Ons beoordeel mekaar dikwels op die uiterlike en menslike vlak; ons kyk na geografiese afkoms of bloedlyn. Ons moet leer om met heeltemal ander oë na mekaar te kyk, ‘n Jesus gesindheid openbaar. Ons moet soos Paulus leer om mooi te luister sodat ons die Gees kan hoor en God se wil bo ons eie begeertes plaas. Dan sal ons groei in geloof en sensitief en gehoorsaam wees aan elke tree wat die Here wil hê ons moet neem. Dit is immers ‘n tree in die regte rigting – “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop “ (Spr. 3:6).
“’n Loods kan hoe ervare wees, maar as hy die instruksies uit die beheertoring ignoreer, is ‘n ramp aan die kom. Hy kan wel nie die lugvaartbeheerder sien nie, maar hy hoor die persoon se stem, en dit is sy enigste leiding om veilig te land. So is dit met God: Wie sy stem ignoreer, stuur op ‘n ramp af” (JP Verster).
Gebed: Here Jesus, U weet alles! Help my om mooi te luister sodat ek U stem duidelik kan hoor. Skenk my die genade om dit sonder huiwering te gehoorsaam. Amen.
Comments