top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 29 Julie 2024

Koos Espach


Paulus gaan na Rome (3)

 

Dis beter om te gee as om te ontvang

 

Hand. 27:3 – “Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus en het hom toegelaat om sy vriende te besoek. Hulle het hom van die een en ander voorsien.” (3)

 

Vergelyk ook 1 Pet. 4:8-9 – “Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 9 Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.”

 

Wanneer ons deur die Bybel ‘blaai’ is dit treffend om die ooreenkomste wat inhoud betref, tussen Paulus en veral Petrus se eerste brief, raak te sien. Net soos Paulus benadruk Petrus ook die regte gebruik van gawes om mekaar te dien en gasvry teenoor mekaar te wees. Hy sê dat elke Christen ten minste een genadegawe uit die Here se hand ontvang het en gee ook riglyne hoe ons daardie genadegawe behoort aan te wend. Paulus se vriende in Sidon kon sy skeepsreis na Rome beter maak deur aan hom gasvryheid te betoon. Sodoende kon sy medereisigers, heidene, geharde matrose en ander gevangenis, God se grootheid en majesteit deur sy vriende se optrede, sien.

 

Die God wat Paulus en ons dien, is nie alleen die Skepper nie, maar ook die getroue en liefdevolle onderhouer van sy skepping. God weet nie net alles nie, maar Hy sorg ook dag vir dag. Ek meen, Hy het aan ons sy kosbaarste, sy beste, sy Seun gegee! Sal Hy dan nie ook dié dinge gee wat ek en jy op ons lewensreis nodig het nie: genade in elke beproewing en krag vir elke dag. Soos ons reeds gesê het: gasvryheid kom van ver (Gen. 18). Bybelse gasvryheid gaan om die gesindheid van ons hart waarmee ons dinge doen. Iemand het gesê Bybelse gasvryheid en omgee vir vriende, familie en selfs vreemdelinge, het vir ons Christene ‘n ‘eiesoortige en bekoorlike klank,’ want dit is asof die Here self ontvang word – “Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves ...” (Matt. 25:35).

 

Sommige mense kan nie sommer net gee nie. Sommige mense is so besig met hul eie lewe dat gee en ander help nie deel is van hulle prentjie nie. Nou hoor ek ook iemand wat sê hy het nie eers vir homself nie, hoe kan hy vir ander gee? Wel, gasvryheid beteken nie altyd om iets te kan gee nie, ‘n goeie en vrolike woordjie kan iemand anders opbeur, dit bied gasvryheid aan daardie persoon se hart wanneer ek en jy ons harte oopmaak.

 

Gelukkig is ons Christene mos mense wat lief is om te gee. Ons onthou immers Jesus se woorde dat dit ‘n mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35). Daarom die leuse van ons gemeente: Oorgee – Omgee – Uitgee. Ons word beweeg om goed te doen aan ander. As ons dink aan die omwandeling van Jesus Christus op aarde, kry hierdie woorde lewe. Dit is so beskrywend van dié God wat ons aanbid en bely. Johannes beskryf dit in sy evangelie: "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê(Joh. 3:16). God gee. Hy gee Homself vir die mens om ons te red en te laat lewe.

 

Maar, alweer die maar, hier is ’n kinkel in die kabel. Die omstandighede wat hier geskilder word, is nie so rooskleurig nie. Ja, dis maklik om goed te doen as dit ons pas. Dis lekker om ander te help as dit deel van ons beplanning is. Wanneer ons so besig is met ons eie dinge en nie weet watter kant toe met ons tyd en krag nie, wanneer timing heeltemal uit is, is dit nie so maklik om iemand te help nie. Dis juis hier waar ons op ons tande moet byt en ‘n plan probeer maak om te help. Al het ons self nie genoeg nie, moet ons ander help wat honger is. Wanneer ons tyd in die dag heeltemal te min is om ons eie dinge klaar te kry en iemand klop aan die deur om net ’n paar woorde van ontferming te soek, is dit ons verantwoordelikheid om die bus net daar te stop en eers aan daardie persoon aandag te gee.  

 

God gee sonder om terug te verwag. Hy het immers vir ons gesterf toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8). In God se gee lê die element van genade. Wat Hy gee, gee Hy uit genade en in oorvloed. Om ’n kind van God te wees, is nie altyd ligte musiek nie. Dit eis ’n pond of meer vleis en tyd en geld en energie en nog meer, ook, of veral, as dit nie geleë is nie. Laat ons dan nie brom-brom help nie, maar laat ons bietjie sonskyn gee in verkluimde harte. Soms is dit nodig om ’n stuk van onsself te gee. En eintlik is dit heel fine, want Jesus het Sy hele lewe gegee. 

 

“Werklik gasvry is ons ook nie deur dit wat ons kan weggee nie, maar deur onsself te gee met dit wat ons het en is” (H. Deissen)

 

Gebed: Here, ek hou van gee, maar U weet dat ek baiemaal sug as dit my nie pas nie. Verander my gesindheid asseblief. Gee my ‘n gasvrye hart sonder om te kla. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page