Gedagte vir Vandag
Vrydag, 12 Julie 2024
Koos Espach
Paulus vertel van sy bekering (1)
God ken ons swaarkry
Hand. 26:12-17 – “Terwyl ek hieroor na Damaskus toe op reis was, met volmag en in opdrag van die priesterhoofde, 13 het ek, U Majesteit, helder oordag langs die pad ‘n lig gesien wat uit die hemel gekom het. Dit was helderder as die son en dit het op my en my reisgenote geskyn. 14 Ons het almal op die grond neergeval, en ek het ‘n stem in Hebreeus vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset.’ 15 ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here. Dit is vir My wat jy vervolg. 16 Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. 17 Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe Ek jou stuur.”
Na sy verhaal oor sy lewe voor sy bekering, begin Paulus met die positiewe deel van sy toespraak. Vir die derde keer in Handelinge verneem ons nou van Paulus se bekering op die pad na Damaskus. Lukas gebruik die basisverhaal (vgl. 9:1 ev; 22:6 ev.) maar elkeen van die drie berigte het ’n eie karakter wat aanpas by die gehoor aan wie hy dit vertel. Voor die Jode en Agrippa getuig Paulus van die wonderwerk wat God in sy lewe bewerk het.
Paulus beklemtoon aan Agrippa dat hy nie die getuie moes word van sy eie subjektiewe ervarings nie. Hy moes regop staan om Jesus se opdrag te ontvang want hy sal Jesus se getuie wees van wat hy van Hom gesien het en Hy hom nog sal laat sien. Die verhaal van Paulus se roeping kom baie ooreen met dié van die profete van Israel (Eseg. 2:1). En Jesus se belofte om hom teen die volk Israel te beskerm, herinner aan die Ou Testament (Jer. 1:7). Die Here sal Paulus ook beskerm teen die heidennasies na wie Hy hom sal stuur, wat natuurlik nie beteken het dat Paulus nie ook later vir die evangelie sou ly nie, soos wat hy self skryf: “Onthou altyd dat Jesus Christus ... uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig. 9 Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking. Selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie” (2 Tim. 2:8-9).
Oral is mense wat baie swaar kry. Dalk kry jy wat hier lees ook baie swaar. Hoe maak jy dit? Bid jy ook sonder ophou vir God om tog die uitkoms te bring vir die benarde situasie waarin jy sit? Of het vriende dalk vir jou al gevra wat hulle moet maak in hulle swaar tye? Het jy ‘n antwoord? Sonder om die swaar omstandighede mis te kyk of te maak of dit nie daar is nie, sonder om te probeer om pleisters te plak wat te klein is vir die seer, gee Paulus baie goeie raad. Hy wil voorstel dat ons met alles wat in ons is aan die enigste vaste Rots vasklou: “Onthou altyd dat Jesus Christus ... uit die dood opgewek is.”
Dit is al wat ons kan doen in ons swaarkry. Wanneer ons in swaarkry vasgevang sit kan ons Paulus se raad volg: Glo in Jesus. Hy was dood, maar Hy het die dood oorwin, omdat Sy Abba Vader Hom bygestaan het. Dít is al wat ek en jy nodig het om aan vas te hou. Én dit is genoeg. Onthou dat God ons só liefhet dat Hy bereid was om Sy Seun, Jesus op te offer, te laat doodmaak, te laat neerdaal in die dal van doodskaduwee ... vir my en jou. God het dit gedoen. Hy het reeds Sy liefde aan ons kom wys, Sy liefde laat grondvat voor ons oë, deur die reddende daad van Jesus wat moes sterf aan ‘n houtkruis. Hoe seer, hoe stukkend, hoe vernederend, hoe alleen moes Jesus en ja, God ook nie gewees het nie. En dit alles vir my en jou!
God is aan ons kant. Ons kan dit maar weet en dit leef want Jesus Christus leef. Ek en jy kan weet en vertrou en dit sommer hardop sê dat die Almagtige God, wat Sy Seun uit die dood laat opstaan het, aan ons kant is. En indien ons twyfel, mag ons gerus vra: Hoe groot is my en jou probleem? Dit sal seker nie meer energie van God vra as toe Hy Jesus uit die dood gaan haal het nie? Of hoe? Hier is dus nog ‘n belofte: die Een wat ons uit die swaar gaan help, is oor en oor bevoegd om dit wel te kan doen! Hy word nie net aangevuur deur ‘n hoop liefde nie, maar Hy het ook al die krag wat nodig is om dit wel te kan doen. Hoe lyk ons swaar? Nog nader, hoe lyk jou swaar? Glo dat die Here my en jou hiermee kan help! Sê dit alles vir Hom en gee dit oor!
“As ‘n mens plat op jou rug lê van al die swaarkry, kan jy nêrens anders heen kyk nie, as op”
(Roger Babson).
Gebed: Here, U ken my swaar. U weet dat daar dae is wat ek geen krag het om aan te gaan nie. Hou my hand vas terwyl ek aan U vasklou, sodat ek nie val en seerkry nie. Amen.
Comentarios