Gedagte vir Vandag
Donderdag, 11 Julie 2024
Koos Espach
Paulus voor Agrippa (3)
Hanteer probleme in die krag van Christus
Hand. 26:9-11 – “Ek het self gedink dat ek alles in my vermoë moes doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. 10 Dit het ek toe ook in Jerusalem gedoen. Met die magtiging van die priesterhoofde het ek baie van die gelowiges in tronke gestop, en as hulle die doodstraf opgelê word, het ek daarmee saamgestem. 11 Dikwels het ek hulle in al die sinagoges laat straf om hulle te dwing om hulle geloof af te sweer. Ek het hulle so gehaat dat ek hulle selfs in die buitelandse stede vervolg het.”
Lukas bring vir die derde keer die gebeure rondom Paulus se getuienis in die prentjie. Dit klink miskien soos ‘n herhaling en ons is geneig om vinnig daaroor te lees want ons het dit mos al gehoor. Maar, in hierdie geval trek hy Agrippa en Bernice in die stryd, hoop en verwagting van hulle eie volk in. Paulus se geboeide hande strek uit na hulle – selfs konings moet ook ‘n kans kry om gered te word!
Tipies van Paulus bely hy sy lewe voor en ná sy bekering. Met nadruk beweer hy dat hy dit as ’n plig gesien het om die Christene te vervolg, terwyl hy ná sy bekering gedink het dat hy nie geskik is om ’n oordeel in sy eie krag te vel nie (2 Kor. 3:5). Hy het geglo dit is in opdrag van God dat hy die Naam van Jesus van Nasaret moes uitroei. Dat hy alles moes beveg wat gesê is van Jesus en sy volgelinge. Met die magtiging van die priesterhoofde, die elite van die destydse kerk, het hy soos ‘n besetene Jesus-volgelinge tot in buitelandse stede agtervolg (Damaskus).
Dit is opvallend hoeveel gelowiges van hulle BC (before Christ) dae vertel. Deesdae word daar gepraat van Christene met ‘groot getuienisse’ wat graag aan almal wat wil luister, van hulle suksesverhale wil vertel. Dit is natuurlik nie verkeerd nie, want dit is wonderlik as die Here groot dinge deur mense vermag en ons moet Hom daarvoor loof en prys. Dit is my beskeie opinie dat ons egter ook versigtig moet wees om van die Christendom een groot suksesverhaal te maak, want dit is nie heeltemal waar nie. Om net te vertel van hoe sleg jy was in jou BC dae en hoe goed en gelukkig jy nou sedert jou bekering is, kan dalk die persepsie skep dat geloof jou so paar trappies hoër as ander mense maak.
Daar is ongelukkig ook ‘n ander kant, en dis nie ek wat so sê nie. Ek glo geloof bring groot vreugde in ons lewe want die Heilige Gees woon by ons. Paulus sê daar is ‘n ander kant van Christenskap, die slegte kant. Paulus het hierdie slegte kant in sy brief aan die Korintiërs gedeel (2 Kor. 11:22-30). Lees dit gerus. Hy vertel van al sy teenslae en probleme sedert sy bekering. Dit is al waaroor hy kon ‘spog.’ As bekeerling was hy dikwels geslaan; hy het harder gewerk as ander apostels en was dikwels in die tronk; was in lewensgevaar; baie dae sonder kos; met klippe gegooi. Niks dus van die een segetog na die ander nie, net sy swakhede wat hy spreekwoordelik op die tafel kon sit.
Die Bybel beskryf vir ons ook van mense wat teleurgesteld is in God. Mense wat kla dat God nie aan hulle verwagtinge voldoen nie. Moses het byvoorbeeld gekla dat God hom laat swaarkry (Num. 11:14-15). Die Psalmdigter kla oor die voorspoed waarmee goddeloses geseënd is (Ps. 73). Dit lyk of mense wat teen God in opstand is en verkeerde dinge doen, baie gelukkig is en vooruitgaan in die lewe (Mal. 3:15). Dit ontstel óns wat probeer om goed te leef, want dit lyk asof God vandag steeds hierdie onreg toelaat of goedkeur.
Ons maak egter die verkeerde afleiding as ons ding God is nie in beheer nie, of dat Hy gedwee onregverdigheid toelaat. God laat sy son oor almal skyn, selfs die goddeloses (Matt. 5:45). En ja, wie van ons is perfek en sonder sonde? Geloof maak ons nie ‘n paar trappies hoër as ander nie. Geloof is ook nie ‘n kredietkaart sonder limiete nie. Kom ons wees maar eerlik: ons gelowiges kry nie alles wat ons wil hê nie. Ongelukkig woon ons in ‘n gebroke wêreld waar seerkry en teleurstellings aan die orde van die dag is. Dit is die harde werklikheid van Christenskap.
Maar daar is ook gelukkig ‘n positiewe kant. Ons gelowiges word aangemoedig om voort te gaan met ons lewe sonder om ons oor die teëspoed te verknies. Dit wat ons tans het, of dit gesondheid, verstand, geleenthede, ouers, geloof, wel, letterlik alles wat ons het, het God vir ons gegee. Kom ons wees dankbaar oor wat ons al ontvang het en verlang na die dag wanneer God alles weer gaan nuut maak (Op. 21). En dan, daar is plek by God vir mense wat nie ‘n ‘groot getuienis’ het nie, ook vir my en jou. Hy aanvaar ons met al ons swakhede, of dit nou net een of vyf talente is wat ons ontvang het, maak nie saak nie. Die vraag is nie hoeveel ons ontvang het nie, maar wat ons daarmee maak?
“Om ‘n Christen te wees is nie ‘n manier om van die eise van die werklike lewe te ontsnap nie, maar juis ‘n manier waarop ons kan wys hoe ‘n mens dit in die krag van Christus kan hanteer” (Brian Edwards).
Gebed: Dankie Here dat ek nie ‘n ‘groot gelowige’ hoef te wees om iets vir U te beteken nie. In U hart is daar ook plek vir my met al my swakhede. Ek loof en prys U daarvoor. Amen.
Comments