top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 4 Julie 2024

Koos Espach


Paulus voor Agrippa en Bernice (4)

 

Wie is hierdie Man?

 

Hand. 25:21-22 – “Maar Paulus het hom op die keiser beroep. Hy wou liewer gevangene bly en deur die keiser verhoor word. Ek het toe beveel dat hy aangehou moet word totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.’ 22 Agrippa sê toe vir Festus: ‘Ek sou self ook graag die man wil hoor.’ ‘Môre kan u hom hoor,’ antwoord Festus.”

 

Om homself te verontskuldig dat hy Paulus onskuldig in bewaring hou, verwys Festus tweemaal in die teks dat Paulus self gevra het om in aanhouding te bly vir ’n beslissing deur die keiser. Daarom het Festus opdrag gegee dat die onskuldige Paulus in bewaring gehou word totdat hy hom kan opstuur na die hoër gesag van die semi-goddelike keiser wat moontlik oor die godsdienstige klagtes van die Jode uitspraak sou kon lewer.

 

Agrippa, goed op die hoogte van die Joodse bewegings, ook bekend met die Christendom, het begryp of miskien selfs geweet dat Paulus tot ’n nuwe groep of sekte van hierdie Jesus behoort het, en wou hom graag hoor. Dis begryplik: twee name, dié van Jesus van Nasaret en dié van Paulus, het onder al die Jode van Palestina en ver buitekant die grense van die land groot opspraak verwek! Vir Festus is dit natuurlik ’n uitkoms uit sy verleentheid oor wat hy as rede vir die appél aan die keiser moet skryf en hy gryp die geleentheid aan dat Agrippa die volgende dag vir Paulus kan hoor.

 

Agrippa het lank reeds die begeerte gehad om Paulus te hoor. Sy oom, Herodus Antipas wat verantwoordelik was vir Johannes die Doper se onthoofding, was net so nuuskierig om hierdie Jesus te sien en te hoor – “Herodus het gesê: ‘Johannes het ek self laat onthoof. Maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?’ En hy het geprobeer om Hom te sien te kry” (Luk. 9:9). Herodus se wens is wel later vervul toe Jesus voor hom verskyn het ten tye van sy verhoor.

 

Die nuus van Jesus se magtige dade, bereik nie net die ore van gewone mense en die godsdiensleiers nie, maar ook dié van Herodus. Dit is in hierdie tyd dat sommige mense toe gemeen het dat Jesus ‘n profeet was, ander weer het iets van Elia in Hom gesien en nóg ander het gesê dat Johannes die Doper uit die dood opgestaan het. Herodus se gewete, (die bietjie wat nog oor was), het na aanleiding van al die stories wat hy van Jesus gehoor het, hom laat glo dat dit Johannes die Doper is wat teruggekeer het uit die dood.

 

Dit is eintlik opmerklik dat hy uit al die verskillende menings wat oor Jesus in omloop was, die een kies wat sy skuldige gewete aanspreek. Vir hom was dit onrusbarende nuus. Sê nou net Jesus wás die opgestane Johannes. Herodes word nou verplig om ’n standpunt teenoor Jesus se identiteit in te neem. Hy het hom bly afvra: “Maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?” Dit kan nie anders nie; waar die Naam van Jesus gehoor word, moet ’n keuse plaasvind, moet aksie geneem word! Herodus het probeer om Jesus te siene te kry. Natuurlik beteken dit nie dat hy na Jesus gaan soek het nie, daarvoor was hy as heerser van Galilea te vernaam.

 

Lukas vertel vir ons dat Herodus wel uiteindelik Jesus tydens sy verhoor te siene gekry het. “Herodus was baie bly om Jesus te sien.” Natuurlik om verkeerde redes. “Omdat Herodus soveel van Hom gehoor het, het hy al geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen” (Luk. 23:8). Hy wou sien waartoe Jesus alles in staat is. Hy het Jesus allerlei vrae gevra maar Jesus het stil gebly, en dit het Herodus woedend gemaak. Hy het Jesus begin beledig en ‘n pers koningskleed oor Hom gehang om die indruk te wek dat hy met ‘n koning te doen het. Ai, as Herodus maar net geweet het dat hy eintlik besig was om die Koning van alle konings, die Heerser van alle heersers van hemel en aarde, te verneder!

 

Die ironie van hierdie gebeurtenis is eerstens, dat daar vandag steeds mense is wat dink dat Jesus uitsluitlik net aan hulle selfsugtige behoeftes moet voorsien deur sogenaamde “wonderwerke.” Wonderwerke wat óns krisisse hanteer; óns geloof versterk; óns geestelike lesse leer; óns gebede wat verhoor moet word; óns beter kinders van die Here te maak. Dit is seker nie verkeerd om só te redeneer nie, maar ons moet onthou dat Jesus se wonderwerke geskied nie op menslike aanvraag nie en ook nie om sekere mense te bevoordeel nie. Daar is in ons dag baie mense wat, soos Herodus, naarstig wil weet “wie hierdie man is van wie hulle sulke dinge hoor?” Die Christus wat ons soek, leef in die harte en denke van mense en ons kan “Hom te siene kry” in die glimlag van dankbaarheid, wanneer ons liefde en deernis aan ander betoon. 

 

Tweedens het Herodus die kans van ‘n leeftyd gehad om met die lewende God self in aanraking te kom, maar sy magsbeheptheid het hom vir die waarheid blind gemaak. Die tragiese ironie is dat ‘n mens dalk net een spesiale geleentheid in jou lewe kry om dinge met God reg te maak, maar dikwels sulke kanse onbenut laat verby gaan. Ons moet elke kans aangryp wat die Here ons bied om Hom te dien en natuurlik ander mense ook leer om dit te doen. Ons leef tans in genadetyd, en magsbeheptheid soos in die geval van Herodus, kan ons blind maak vir die waarheid van God se genade, genade wat dalk vir altyd verlore is. En wat dan?

 

“Dit is in die stilte wat God gevind word en deur misteries wat Hy Homself openbaar”

(Frederick Robertson).

 

Gebed: Dierbare hemelse Vader, gee dat ek aanhou sal soek na U teenwoordigheid, sal herken en koester, met die regte motiewe, nie net oor U goeie gawes en ryke seëninge nie, maar omdat daar ware vrede by U te vinde is. Saam met die Psalmdigter ervaar my hart dat dit “goed is om naby U te wees” (Ps. 73:28). Amen.

Bình luận


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page