top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 25 Junie 2024

Koos Espach


Paulus voor Festus (2)

 

Praat en leef die waarheid

 

Hand. 25:4-7 – “Festus het egter geantwoord: ‘Paulus word in Sesarea aangehou, en ek is van plan om binnekort daarheen terug te gaan. 5 Julle bekwaamste manne kan dan saam met my gaan en hom aankla as hy iets verkeerds gedoen het. 6 Hy het ‘n dag of ag, hoogstens tien, daar deurgebring en toe na Sesarea toe teruggegaan. Die dag na sy aankoms daar het hy op die regbank gaan sit en beveel dat Paulus voor hom gebring moet word. 7 Toe Paulus binnekom, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van ‘n hele klomp ernstige dinge beskuldig, wat hulle nie kon bewys nie.”

 

Festus laat hom nie deur die priesterhoofde en leiers van die Jode oorrompel nie en bly onversetlik. Paulus word in Sesarea aangehou en dit is waar hulle bekwaamste manne moet gaan en Paulus aankla. Festus verwys glad nie na hulle vorige klag voor Feliks nie en nooi hulle om ’n nuwe aanklag teen Paulus te bring as hulle sou dink dat hy iets verkeerds gedoen het. Hy het nie gekom om Feliks se sake wat hy (na twee jaar) nog nie afgehandel het, klaar te maak nie. Elke saak moet nuut voor hom gebring word waarop hy sal besluit of dit ’n wettige klag is wat die Jode aan hom gaan voorlê, al dan nie. Ons sien hier weer hoe God ‘n heiden gebruik om sy gesant Paulus, teen onreg te beskerm.

 

Ongeveer tien dae later het Festus op die regterstoel in Sesarea gaan sit en bevel gegee dat Paulus voor hom gebring moet word. Paulus kom in, geboeid en onder bewaking, twee jaar al. “Die gevangene deur sy diens aan Jesus Christus” (Ef. 3:1), staan alleen teenoor die magte van die destydse wêreld. Sy innerlike, geestelike krag word geput uit die gemeenskap met Christus Jesus en die Naam wat geweldig vyandskap en haat by sy volksgenote veroorsaak.

 

Die “bekwaamste” Jode wat van Jerusalem af gekom het, het rondom Paulus gaan staan as teken dat hy nie dié keer gaan loskom nie. Hulle het hom van alle kante van baie en ernstige misdrywe beskuldig en sommer nog klagtes daarby gevoeg. Festus moet hoor dat Paulus ‘n “pes” is, ‘n tempelskeurder, ‘n Nasarener, ‘n veragter van die Wet, verraaier, oproermaker, aankondiger van ‘n ander koning – nie die keiser nie, maar Jesus. Soos in die vorige verhoor voor Feliks kon hulle egter nie een van hulle klagtes bewys nie – alles net gerugte!

 

Voor Feliks het hulle gesê Paulus moet self die bewyse lewer waarvan hulle hom beskuldig (24:8). So kon die Sanhedrin ook geen bewyse teen Jesus vind nie, en moes Hy self die bewys lewer van wat hulle as godslastering beskou het: Mark. 14:55-64 – “Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om ‘n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie.” Die Joodse Raad se hantering van Jesus in die vroeë oggendure van daardie verdoemende Vrydag, was volgens hulle eie opgestelde en voorskriftelike prosedures, glad nie tegnies korrek nie. Alle etiese beginsels, prosedures en regverdigheid is oorboord gegooi.

 

Ons wil vandag amper uitskree en vra wat het van reg en geregtigheid geword? Tydens hierdie onregverdige, lamlendige “verhoor” van Jesus, is geen bewyse gevind dat Hy Hom skuldig gemaak het aan enige misdryf nie. Jesus was veroordeel voor Hy verhoor was. Hy het geen kans of hoop gehad op geregtigheid nie.

 

Vals beskuldigings is een van die maklikste maniere om iemand se naam deur die modder te sleep. En wanneer dit gebeur het, is dit baie moeilik om die skade wat aangerig is, later weer ongedaan te maak. In hierdie geval het dit uiteindelik tot Jesus se “skuldigbevinding” en kruisiging gelei. Hierdie sogenaamde getuies, het deur hulle verkeerde optrede en leuens, gehelp om die Seun van God se doodsvonnis te vel. (Ek wonder hoe groot hulle ontnugtering gaan wees wanneer hulle op die oordeelsdag voor Jesus gaan staan en besef dat hulle leuens hulle ingehaal het.)

 

As kinders van God erken ons dat Hy oor ons hele lewensbestaan, heerskappy voer en ons daarom nie vals gerugte moet versprei nie. Ons dien mos net die Een groot Waarheid, die Waarheid van die Woord. Wanneer ons nie die waarheid praat nie, speel ons in die hand van die bose. “Omdat ek ‘n Christen is, kan jy my te alle tye op my woord neem”, is woorde wat as onkreukbare wyse van ons, op alle terreine, gebruik moet word. Oral waar ons vrae moet beantwoord of informasie moet verskaf en dit met ons handtekening bevestig word, oral waar ons ons bevind – by familie, in die huwelik, die owerheid, die kerk, wanneer ons kwaad word, moed verloor – oral – moet ek en jy ons waardigheid as God se kinders behou.

 

Hoe ken mense ons? Is ons woorde betroubaar? Kan ander op ons woorde peil trek? Praat en leef ons die waarheid? Beelddraers van God kan positief op al die vrae antwoord. Vir ons as gelowiges beteken dit dat die enigste geldige manier om na ander te kyk, die Here se manier is.

 

“Moenie dat ons God se standaard van die waarheid aftrek na ons vlak van prestasie nie” (Martin Luther).

 

Gebed: Ag Here, ek en my groot mond het U koninkryk al soveel skade berokken. Here, laat U waarheid my lei en onderrig my daarin (Ps. 25:5a). Maak my gees en gedagtes nuut sodat ek alle valsheid kan aflê en ons onder mekaar die waarheid praat (Ef. 4:23, 25). Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê (Ps. 141:3). Amen.

댓글


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page