top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 19 Junie 2024

Koos Espach


Paulus word aangehou (5)

 

Van uitstel kom afstel

 

Hand. 24:25b – “Dit het Feliks laat bang word, en hy het gesê: ‘Dit is nou genoeg! Gaan maar terug, en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep.”

 

Feliks het bang geword. Vir wie? Tog nie vir Paulus nie. Paulus is ‘n gevangene en staan geboeid voor hulle. Maar die geboeide het Feliks deur ‘n ‘teleskoop’ laat kyk, sodat die verre toekoms nader gebring is. En wat hy daarin gesien het, was nie goed vir hulle nie – die oordeel van die hemelse Regter was in sig! Feliks het bang geword vir die oordeel, maar het hom nie bekeer nie. Hy was die soort mens wat die waarheid nie wou ken nie, omdat hy nie van plan was om sy sondige lewe te laat vaar nie. Hy beëindig die gesprek met Paulus onder die voorwendsel dat hy nie meer tyd gehad het nie.

 

Feliks stuur Paulus terug na sy sel toe – en so laat hy die kans van ‘n leeftyd, trouens, die kans van ‘n ewigheid, deur hulle vingers glip. Hy kon nie, of wou dalk nie as heiden, God se stem deur sy Gees herken nie: “Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: ‘Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie ...” (Heb. 3:7). Selfs Drusilla, sy Joodse vrou, swyg eerder as om haar man reg te help. En Feliks sê: “Nie vandag nie” – wat eintlik toe nooit beteken het.

 

Dit laat ons dink aan die hardkoppige Israeliete en Moses. Die Hebreërskrywer haal uit Psalm 95 aan om God se toorn teen die halstarrige Israelse woestyntrekkers te beklemtoon. ‘n Reis wat ‘n paar weke sou duur, word vir die Israeliete veertig jaar van swaarkry in die woestyn. Op die koop toe die Goddelike eed: “In hierdie selfde woestyn sal die lyke bly lê van almal van twintig jaar en ouer wat teen God in verset gekom het” (Num. 14:29). Dit alles omdat hulle eerder na die stem van hulle eie begeertes geluister het en nie na God nie.

 

Wat is die oplossing uit hierdie dilemma? Eenvoudig: Ek en jy moet nie dieselfde fout maak wat Feliks en Drusilla of die Israeliete gemaak het nie. Ons moenie in dieselfde strik trap nie, maar terwyl daar nog ‘n vandag is, vandag luister na die Here se stem. Ons kan nie en mag nie uitstel nie! Van uitstel kom afstel – die fout wat Feliks gemaak het! Ons moenie uitstel nie. Ons moet luister wanneer die Here praat en nie hardkoppig wees nie. Ook nie vol verskonings nie, of te besig nie. Vandag as ons sy stem hoor, moet ons daarop reageer. Môre of wanneer ek eendag oud is, is dalk te laat. Daar is dalk nie ‘n môre nie, dalk nie ‘n oudag nie!

 

Ons moet uit Israel en Feliks se foute leer. Hulle het gesê môre is nog ‘n dag. Môre sal ons die Here dien. En toe môre aangebreek het, het hulle gesê ons sal later wanneer ons tyd het, na Jou luister Here. En toe gebeur môre, óf later, nooit nie. God se volk het herhaaldelik sy roepstem verontagsaam. Feliks het uitgestel. God het moeg geraak vir hulle hardkoppigheid en besluit genoeg is genoeg! Die poorte van die beloofde land het vir die Israeliete toegemaak. Álmal ouer as 20 jaar wat uit Egipte uitgelei is, is in die woestyn dood, behalwe Josua en Kaleb (Num. 14). Die poorte van die hemel het vir Feliks en Drusilla ook toegemaak. Die enigste ander poort wat vir hulle nog oopgestaan het, was die hel!

 

Vir die Here is daar net een tyd: vandag. God se tyd is vandag. “Vandag as ons sy stem hoor, moet ons nie hardkoppig wees nie”. As ons nog nie op hierdie roepstem van God gereageer het nie, kan ons nie langer uitstel nie. Ons moet onthou ons aanbid en glo wel in Liewe Jesus, maar volgens die Bybel raak God hewig ontstel wanneer mense sy roepstem aanhoudend verwerp. Vra maar die Jode en Feliks en só baie ander. Met respek, God is nie ‘n oupatjie in ‘n rystoel wat sy kop goedig knik oor die onnutsighede van sy kleinkinders nie. Hy is liefdevol en geduldig, maar sy Almagtigheid laat nie toe dat met sy goedheid gemors word nie. Moenie uitstel nie. Reageer vandag en kies jou eindbestemming (Joh. 1:12). Ons mag sonder Christus lewe, maar ons durf nie sonder Hom sterf nie.

 

“Die grond onder ons voete en die anker in ons lewe is dat Christus ons enigste en perfekte regverdigmaking en vryspraak is. As ons nie reageer op sy roepstem nie, is ons sonder Hom en die hel is dan ons voorland” (Martin Luther).

 

Gebed: Hemelse Vader, ek wil nie langer uitstel om op U uitnodiging te antwoord nie. Maak my verstandig. Laat my luister, begryp en gehoorsaam. Vandag sê ek opnuut ja op U roepstem. Hou my vas asseblief Here, styf vas. Moenie my los nie. Amen.

コメント


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page