Gedagte vir Vandag
Woensdag, 12 Junie 2024
Koos Espach
Paulus word aangehou (1)
Geen kompromieë nie
Hand. 24:24-25a – “Na ‘n paar dae het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal om meer van hom te hoor oor die geloof in Christus Jesus. 25 Paulus het met hom gepraat oor ‘n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel.”
Deur Paulus nie te vonnis nie, erken Feliks dan eintlik Paulus se onskuld. Maar waarom stuur hy Paulus terug tronk toe? Wel met sekere voordele, maar die eintlike redes word deur Lukas in verse 26 en 27 verstrek. Later meer daaroor. Lukas vertel dat Feliks en sy Joodse vrou Drusilla ’n paar dae later vir Paulus laat haal het om meer van hom te hoor oor die geloof in Jesus Christus. Paulus die geboeide gevangene, het ander planne. Hy wil sy twee hoorders gevange lei tot die regverdigheid van Christus Jesus.
Drusilla was die jongste dogter van Agrippa I, wat Jesus se dissipel Jakobus, met die swaard omgebring het, daarna vir Petrus in die tronk gestop het (Hand. 12:2-3). Sy is as 14 jarige aan die koning van Kommagene belowe maar haar broer, Agrippa II, het haar met die koning van Emesa in Sirië laat trou. Twee jaar later, toe sy 16 was, rokkel die heidense goewerneur Feliks, met die hulp van Atomos, sy towenaar vriend van Siprus, haar van haar man af en sy word Feliks se derde vrou.
Om te praat oor die geloof in Christus Jesus beteken dat daar nie kompromieë gemaak word nie. Paulus het die waarheid geleef en hy was ook bereid om vir die waarheid te sterf. Daarom het hy nie gehuiwer om reguit met Feliks en Drusilla oor gehoorsaamheid, selfbeheersing en die komende oordeel te praat nie. Hy het die sake aangeraak waaroor Feliks en Drusilla albei sensitief en moontlik skuldig, moes gevoel het.
Gehoorsaamheid gaan oor die regte verhouding met God. Hy wat Jesus vir ons gebring het met sy dood en opstanding uit die dood, en die doen van die regte dinge volgens God se wil. Feliks se optrede teenoor sy onderdane kon nie altyd die toets deurstaan nie, en sy optrede om Drusilla van haar man te laat afsien, moes hulle gewete aangespreek het. Sy het blykbaar ook haar geloof in die God van die Jode afgesweer om met die Romeinse afgodedienaar te trou. En om waaragtige vrede en versoening te vind in gehoorsaamheid aan God, word net gevind deur geloof in Christus – “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Rom. 5:1). Albei dop die toets!
Selfbeheersing behels om beheer uit te oefen oor jou begeertes en optredes. Volgens Galasiërs 22:22-23 is selfbeheersing die vrug van die werking van die Heilige Gees in die lewe van ’n mens en “dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig” (Gal. 5:24) – ‘n harde bestraffing teenoor die lewens van Feliks en Drusilla sonder om persoonlik te raak!
Paulus laat nie gou los nie. Hy is gewoond om oor die geloof in Christus te praat. Die leer van Christus spreek ook van die komende oordeel van God oor die lewe van elke mens. Paulus het reeds vir Feliks genoem dat hy voor hulle tereg staan omdat hy aan die opstanding van die dooies glo (v. 21). Almal sal opstaan, regverdiges en onregverdiges – “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor. 5:10). Die Skrifverklaarders het dit eens dat Paulus sy ‘regters’, Feliks en Drusilla, met sy toespraak gedaag het voor die Regverdige God, die Regter van hemel en aarde!
Ons moet maar weet, net soos Feliks en Drusilla, die lewe hier en nou bepaal die hiernamaals. “God sal elkeen vergeld volgens sy dade.” (Rom. 2:6). Wat ons nou doen of nie doen nie; hoe ons glo of nalaat om te glo, is maniere waarop ek en jy ons voorberei vir die ewigheid. Die keuse is uitsluitlik myne en joune. Om onsensitief te wees teenoor die geloof in Christus Jesus en die sonde, is om onsensitief te wees teenoor die teenwoordigheid van Jesus Christus in ons lewe! Daar kom ‘n eindoordeel, waar elkeen, sonder uitsondering, voor die hemelse Regter sal móét verskyn. Dáár sal die finale skeiding plaasvind. “Die Seun van die mens sal in Sy heerlikheid kom om die mense te skei soos ’n herder die skape van die bokke skei” (Matt. 25:31–46).
Die rede dat daar op die dade gelet word, is dat die dade bewys lewer van die innerlike gesteldheid en gesindheid van die mens. Die lewe wat ons lei, is eintlik ‘n getuienis van ons geloof wat in ons is. 7 “Aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe; 8 maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.” (Rom. 2:7-8). Ek en jy wat in Jesus Christus glo, weet dat Hy die Weg na God toe is. Wanneer die oordeelsdag aanbreek, kan ons getuig van sy bloed wat volkome versoening vir al ons sondes is. Intussen moet ons dit leef en vir ander vertel wat nog nie vir Christus Jesus ken nie.
“Elke mens moet twee dinge self doen: hy moet sy eie geloof beoefen en self sterf” (Martin Luther).
Gebed: Dankie Vader dat ek nie hoef te vrees vir die oordeel nie want Jesus het vir my daardie versekering gegee: “Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” (Joh. 5:24). Amen.
Comentarios