top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 30 Mei 2024

Koos Espach


Paulus verdedig hom voor Feliks (6)

 

Vestig jou hoop op ons God van ongekende moontlikhede

 

Hand. 24:15 – “Ek het my hoop op God gestel, en net soos hulle verwag ek dat alle mense, goeies en slegtes, uit die dood sal opstaan.”

 

Paulus is nou nie net besig om homself te verdedig teen die tweede aanklag nie, maar bely ook sy geloof. Kragtig erken hy voor die goewerneur Feliks dat hy sy “hoop op God stel ...” Dit is presies hier waar die evangelie onvergelyklik is. Die evangelie is ‘n evangelie van hoop. ‘n Hoop wat nie gegrond is in ons gunstige of ongunstige omstandighede nie, selfs wat die uitslag van Suid-Afrika se verkiesing gaan wees nie, maar in die opstanding van Jesus Christus. Want deur die opstanding van Jesus omskep God die donkerste oomblik van die geskiedenis, naamlik Golgota, in die helderste oomblik van die geskiedenis, naamlik Paasoggend, en daarmee saam die opstanding van “alle mense, goeies en slegtes, uit die dood.”

 

Ek wil my verstout om te sê: alle mense het behoefte aan hoop. Van diegene wat letterlik niks in die lewe oor het nie en alle rede het tot wanhoop, tot diegene wat reken hulle het alles en kan sonder hoop klaarkom. Natuurlik is die teenoorgestelde miskien meer ‘n gegewe. In tye van wanhoop wanneer siekte, finansiële kwellinge en teleurstellings wat deesdae aan die orde van die dag is, veral in Suid-Afrika, soos donker wolke op ons toesak: die korrupsie en werkloosheid, misdaad, om maar enkele faktore te noem, is genoeg negatiewe dinge wat ons wanhopig ons hande die lug laat ingooi.

 

Wel, enigeen wie hooploos of hopeloos voel, moet in die lig van Paasfees kom staan. Ons kan soos Paulus ons hoop op God vestig. God is by uitstek die God van elke nuwe begin, die God van verrassings, van ongekende moontlikhede.

 

Dit word vertel van ‘n ma wat ‘n jong onderwyseres gevra het om haar seuntjie wat erge brandwonde opgedoen het, in die hospitaal te besoek en aan hom die werkwoorde en bywoorde wat hulle tans in die klas behandel het, te gaan verduidelik. Sy was verskriklik ontsteld toe sy sien in watter bedenklike toestand die seuntjie was, maar aan die ‘lewelose’ seuntjie werkwoorde en bywoorde verduidelik sodat hy nie te ver agter is wanneer hy miskien eendag weer terugkeer skool toe nie. Die volgende dag het hy almal geskok – hy het sy wil om te lewe teruggekry. Hy verduidelik later self: “Ek het hoop opgegee, totdat liewe Jesus my besoek het om werkwoorde en bywoorde aan ‘n sterwende seuntjie te kom verduidelik.”

 

Verandering is deel van ons lewe hier op aarde. Van kindsbeen af tot in die gryse ouderdom beleef ons veranderinge wat goed of sleg is vir ons. God is egter onveranderlik en kom ons in ons nood tegemoet met hoop en vertroosting: “Ek sal jou nooit verlaat nie ...” (Heb. 13:5). Wanneer ons ideale inmekaar tuimel en ons dreig om in wanhoop te verval, dink aan die donkerte wat Jesus omring het op Golgota toe Hy as eensame uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat” (Matt. 27:46). God was egter by Jesus om Hom krag te gee om die magte van die Bose te oorwin – “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27b-28).

 

Paulus, die geloofsheld, het geweet wat dit beteken om in die dieptes van wanhoop te verkeer. Tog het hy deur sy geloof nooit opgehou om sy hoop op God te vestig nie en Hom kon loof vir oorwinning en bevryding. Christelike hoop is om sekerheid te hê dat God ons liefhet. Christelike hoop is blywend. Ek en jy kan hoop dat môre ‘n beter dag sal wees omdat God dáár is. Ons kan hoop op ‘n ewige lewe saam met Christus, en daarom saam met Paulus uitroep: “Maar in al hierdie dinge (wat ons hoop wil steel), is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom. 8:37). 

 

Ons is meer as oorwinnaars sê Paulus. Ons kan dus ons arms as oorwinnaars in die lug gooi. Dit is nie ‘n wanhopige gebaar as gevolg van al die negatiewe dinge in die lewe en in ons land of selfs die wêreld nie. Dit is arms oorwinnend in die lug gooi want ons lewensuitkyk berus op die waarheid van die Evangelie en van Christus. Die toekoms is nie in my en jou hande nie, dit is in die hande van Hom wat die spykermerke van Golgota dra, maar wat opgestaan het uit die dood en vir ons wag by die wenstreep. Ons kan dus ons oë gerig hou op die toekoms – ‘n toekoms van hoop wat onwankelbaar gevestig is in ons Here Jesus Christus!

 

“Dié wat in Jesus Christus glo, het eindelose hoop” (Gilbert Beeken).

 

Gebed: Ewig onveranderlike God, skenk my die genade om te hoop op die onmoontlike en U onwrikbaar te vertrou. Op die vooraand van ons land se verkiesing-uitslag plaas ons ons hoop op U vir ‘n beter toekoms. “Uit U en deur U en tot U is alle dinge. Aan U behoort die heerlikheid tot in ewigheid!” (Rom. 11:36). Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page