top of page

Gedagte vir Vandag

26 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (58)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (4)

(Matt. 21:1–22:46)


Die intog van Jesus in Jerusalem (4)

(Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-38; Joh. 12:12-19)

Deelnemer, toeskouer of donkie?

Matt. 21:10-11 – “Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: ‘Wie is hierdie man?’ Die skare het geantwoord: ‘Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”


Jesus gaan Jerusalem binne. “Die hele stad is in beroering.” Anders as ander oorwinnaars op 'n trippelende oorlogsperd, wys Sy donkie dat Sy koningskap nie dié van wapengeweld en magsonderdrukking is nie, maar van vrede en met die stil-werkende krag van sy Gees. Mense vra “wie hierdie man is?” Volgens ‘n groot deel van die skare is Jesus die bekende “profeet van Nasaret in Galilea.” Wie is die Messias, die Jesus van die Bybel dan? Jesus se oorwinning het nie gelê in die oorwinning van die Romeinse Ryk nie, maar in die oorwinning oor die Ryk van die Duisternis! Jesus se bevryding was nie die bevryding van die juk van Rome nie, maar die bevryding van die sonde en sondemag van die mens. Jesus se oorwinning was nie in die simboliek van ‘n oorlogsperd en ‘n swaard nie, maar as nederige op die rug van ‘n donkie, sittende op die kruis van die donkievel, op pad na die kruis op Golgota!


Jesus is vir sommiges van die skare die “Seun van Dawid wat in die Naam van die Here kom. Vir ander is Hy die profeet van Nasaret in Galilea” en Hy ry op ‘n donkie. Ek het al baie gewonder wat die donkie gedink en gevoel het? Op sy rug dra hy Jesus, wat ‘n “hele stad in beroering bring.” Iemand vertel dat donkie die volgende oggend ná die intog, dorpsput toe gestap het en vir die mense daar gevra het: “Gooi julle nie julle klere voor my neer nie, weet julle nie meer wie ek is nie?” Toe hy nie reaksie daar kry nie, stap hy trots, fier en regop markplein toe. “Waar is die palmtakke? Gister nog het julle klere en takkies gestrooi waar ek loop!” Ook geen antwoord van almal daar nie. Seergemaak en deurmekaar bekla hy sy lot by sy ma wat die vorige dag hom vergesel het op die intog-rit. “Dom kind” raas sy liefdevol, “besef jy dan nie dat sonder Jesus, jy maar net ‘n gewone donkie is nie?” “Wie is hierdie man,” hierdie Jesus vir jou en my?


Jesus maak vandag nog hierdie emosies by mense wakker, by mense wat Christen-deelnemers is of Christen-toeskouers wil wees. By ons wat vir Jesus aangeneem het, is daar vreugde omdat ons weet Hy is ons Koning, die Oorwinnaar, die Verlosser en Here op Wie die wêreld gewag het! Ons as Christen-deelnemers weet dat “Jesus weer op 'n wit perd gaan kom met 'n swaard uit Sy mond en triomfantelik die finale oorwinning sal behaal” (Op. 19:11-21). Ons weet die Here wil hê ons moet betrokke wees by Sy koninkryk, nie sodat ons paadjie geteer is hemel toe nie, maar omdat ons dankbaar is vir dit wat Hy reeds vir ons gedoen het. Ons weet Hy lei ons na oorwinning, “Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus” (2 Kor. 2:14). Sodra ons dink ons het meer probleme as wat ons kan hanteer, tel Hy ons saam met Hom op die rug van die donkie en ry ons die nuwe Jerusalem binne.


Die Christen-toeskouers daarenteen, is soos die toeskouers by ‘n rugbywedstryd. Die geskree en fluit van die skare laat mens wonder waar die beste spelers is, op die pawiljoene of op die veld? Hulle bly egter skreeuende en raak nooit betrokke nie. In die kerke is daar altyd dieselfde skreeuende toeskouers – hulle kan presies sê wat alles verkeerd is met die werk in die gemeente; die kerkraad wat nie hulle wyke besoek nie, behalwe vir die diaken wat net geld kom haal; die dominee wat nie goed preek nie; die “band” speel te hard tydens sang; te veel Engelse liedjies word gesing; die terte wat verkoop word by die kerkbasaar is suur, en …, en … en ...? Christen-toeskouers wat van alles, en altyd, beter weet en lekker kan skree. As jy hulle vra om ook betrokke te raak, is hulle áltyd te besig en die verskonings is meer as die skree.


Is ek en jy deelnemer of toeskouer, dankbaar of kla-kous, of dalk donkie? Sonder Jesus is ons nie veel anders as die donkie nie. Wonderlik soos wat God ons gemaak het is ons sonder Jesus maar net gewone, sondaarmense. Maar, die oomblik wat ons besef en glo dat die lewe net sin het in Jesus Christus, verander ons van doodgewone sondaarmense na mense wat Jesus op ‘n keer Sy vriende genoem het. Ons word nuwe mense, mense wat van binne af deur God se Gees nuut gemaak word om nuut te kan leef. Mense wat weer kan begin groei na die beeld van God, mense wat God se verteenwoordigers hier op aarde word, mense wat God se mense word, mense met ‘n toekoms, en mense met ‘n lewe vol sin, vreugde en vrede. Mense wat Jesus se opdrag uitvoer om dissipels te gaan maak (Matt. 28:19). Mense wat nie gedurig kla en fout vind met alles en almal nie – dis ‘n mosie van wantroue in die Here!


Besef ons elke dag hierdie dinge? Onthou ons elke dag weer, en weer, wie ons werklik in Christus is? En as ons dit besef, hoe lewe ons? Lyk ons lewens nuut? Sien ander die vreugde in ons? Is vrede werklik deel van ons lewens? En wat maak ons met daardie liefde van God wat niks of niemand ons van kan skei nie? Is ons die donkie op die plein en by die waterput, of is ons die donkie onder Christus? Sonder Christus is ons niks en bly ons toeskouers. Met Hom is ons alles. Word ons dankbare deelnemers. “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir Hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor My Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemel is” (Matt. 10:32-33).


“Let us not glide through this world and then slip quietly into heaven, without having blown the trumpet loud and long for our Redeemer, Jesus Christ. Let us see to it that the devil will hold a thanksgiving service in hell, when he gets the news of our departure from the field of battle” (C.T. Studd).


Gebed: Here, maak my ‘n deelnemer, want as ‘n sondaar wil ek soos U, onverskrokke uit dankbaarheid, vooruit loop as getuie van die verlossing in Jesus Christus. Here, soos ‘n kruis deel is van ‘n donkie se rugvel en hy daardie kruis lewenslank op sy rug dra, wil ek graag my kruis ook dra en U volg. Ek wil U eintlik orals dra en nederig en in afhanklikheid versoek dat U nooit van “my rug sal afklim” nie, maar “my raad te gee en U oog oor my te hou” (Ps. 32:8b), my te “stuur” in die rigting wat U my wil hê. Amen.

Commenti


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page