top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 16 April 2024

Koos Espach


Paulus en die Romeinse kommandant (3)

 

Geestelik of wêrelds?

 

Hand. 22:30 – “Omdat die kommandant presies te wete wou kom wat die Jode teen Paulus het, het hy die volgende dag bevel gegee dat die priesterhoofde en die hele Joodse Raad bymekaar moet kom. Hy het Paulus laat haal en voor hulle gebring.” 

 

Die Romeinse kommandant het steeds nie geweet waarom die Jode so woes teen Paulus opgetree het nie. Hy het nou al vir Paulus ’n geleentheid gegee om die skare toe te spreek, maar dit het in ’n gewelddadige lawaai ontaard. Daarna het hy probeer om dit met geweld uit Paulus sélf te kry, maar hom teen Paulus se Romeinse burgerskap vasgeloop. Nou wil hy dit by die Joodse Raad gaan uitvind. Daarvoor laat hy die priesterhoofde en die hele Sanhedrin van 70 lede die volgende dag vergader.

 

Paulus se teenwoordigheid raak vir die Romein ‘n probleem en sy verleentheid word al hoe groter. Dit is tipies van die wêreld, hulle weet nie wat om met die Here se gesante aan te vang nie. Ons ‘gesante’ is gewoonlik nie vegters of oproermakers nie en dikwels die ‘onaansienlikes’ in die oog van die wêreld. Ons is draers van ewige beginsels wat nie van hierdie wêreld is nie, beginsels wat die wêreld nie verstaan of begryp nie – Christus wat gekruisig is, is vir die Jode ‘n aanstoot en vir ander onsin. Maar die feit bly staan, die wêreld kan dit maar glo: God het sy Seun Jesus Christus na hierdie wêreld gestuur sodat ons gelowiges, ín Hulle kan wees. Niemand kan dit weg redeneer nie. Dit is soos dit is, Jesus sê so (vgl. Joh. 17:21).

 

Paulus gaan verder en gee vir ons twee beelde om die mens van hierdie wêreld se geestelike toestand te beskryf. Daar is die onbekeerde mens: 14 “Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin” (soos hierdie kommandant). Dan is daar die mens wat geestelik kan onderskei: 15 “Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie” (1 Kor. 2:14-15).

 

Die Here roep ons en die Heilige Gees dring ons, om daagliks te bid sodat ons gelei en gerig kan word tot die ware geestelike lewe. Dit klink maklik genoeg – ons moet net bid, elke dag bid, en die Gees sal ons lei. Maar dit is nié so maklik nie. Ons mense, selfs Christene, en ek sluit myself hier in, bid met voorbehoud. Ons willetjie moet nog in baie dinge geld. Ons vertrou nie heeltemal dat die Gees ons sal lei nie, en dan vat ons die probleem terug en pas óns wil daarby aan – daardie sogenaamde boggel wat ons terugplaas op ons skouers. Wanneer ons bid, moet ons geheel en al vertrou dat die Gees ons elke dag, die hele dag, sal lei.

 

Dit moet as’t ware ons opregte begeerte wees dat die Heilige Gees ons volkome in besit neem en ons lewe in stand hou. Die Gees sal dan sorg dat ander kan sien dat ons as Jesusvolgelinge, ‘n eenheid vorm saam met ons hemelse Vader en Jesus Christus, dat ons ín Hulle is.  Wat beteken dit om ín Hulle te wees? Om God ín ons lewe te hê, of Jesus ín ons harte of om die Gees ín ons te hê, beteken dat ons ‘n intieme verhouding met Hulle het, en nie noodwendig ‘n fisiese plek aandui waar die drie-Eenheid Hul bevind nie (Hank Hanegraaff – Wat sê die Bybel?).

 

Die Heilige gees wil ons volkome besit! Sjoe, dis diep woorde. Maar dis die waarheid. Wanneer ons bid dat die Gees van ons doen en late beheer sal neem, beteken dit dat God nie sommer net iets klein in ons harte gaan doen en ons steeds die vryheid gee om te doen wat ons wil nie. Dis ‘n fout om só te dink. Die Gees wil ons lewe oorneem. God weet van my en jou onmag, daarom het Hy in sy voorsienigheid bepaal dat die Gees deur sy groot krag, alles wat ons nodig het, volgens sy wil tot stand in ons sal bring.

 

Dit is die Gees van God wat aan ons, deur Jesus Christus, die geloofsoorwinning gee sodat ons ook saam met Paulus, die geloofsmarathon met sukses kan voltooi en kan sê: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou” (2 Tim. 4:7). Ons Christene moet net vasbyt in die geloof soos die atleet van die Hebreërs skrywer: “... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1). Ons het die Heilige Gees ontvang sodat ons kan leer om te alle tye soos gesante van Christus, in die Gees kan leef. 

 

“Gee jou lewe aan God oor: Hy kan deur sy Gees meer daarmee doen as wat jy ooit in staat is om te doen” (Dwight L. Moody).

 

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek ‘n plek het in hierdie wêreld. Deur U Gees kniel ek opnuut by die kruis van Jesus om te sterf aan die wêreld se sonde, sodat alles nuut kan word en ek in die Gees se leiding kan leef. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page