top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 15 April 2024

Koos Espach


Paulus en die Romeinse kommandant (2)

 

Broers en susters in Jesus Christus

 

Hand. 22:26-29 – “Toe die kaptein dit hoor, gaan hy na die kommandant toe en sê: ‘Wat gaan u doen? Hierdie man is ‘n Romeinse burger.’ 27 Die kommandant gaan vra toe vir Paulus: ‘Sê vir my, is jy ‘n Romeinse burger?’ ‘Ja,’ antwoord Paulus. 28 Toe sê die kommandant: ‘Ek het ‘n groot som geld betaal om die burgerreg te verkry.’ En Paulus sê: ‘Maar ek het dit deur geboorte gekry.’ 29 Die soldate wat vir Paulus moes gésel, het hom dadelik losgemaak, en selfs die kommandant het bang geword toe hy  besef dat Paulus ‘n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het.”

 

Paulus se vraag oor sy Romeinse burgerskap was seker soos ‘n sweepslag vir die kaptein en nog ‘n gróter skok vir die kommandant! As Paulus ‘n Romeinse burger is, kan hulle in ernstige moeilikheid wees net omdat hulle hom laat boei het, nie om eens van die moontlike géseling te praat nie! En die houding van die offisiere verander onmiddellik. Die gevangene se situasie verander na bevoorregte. In plaas daarvan dat hy gegésel word, verander Paulus se status van die mindere na hulle meerdere – hy het sy Romeinse-burgerskap deur geboorte verkry, die kommandant moes dit koop (moontlik omkoopgeld) – en die toue word losgemaak. Sy landgenote se gille van “weg met hom”, baan die weg vir Paulus na Rome, soos ons later sal verneem.

 

God laat nooit die goeie werke van Sy hande vaar nie (Ps. 138:8), Hy voer dit end-uit. En Hy gebruik sy Gees om die pad vir Paulus vorentoe te baan. Paulus blyk hier om die Romeinse bevelvoerder, se meerdere te wees – hy ken immers sy identiteit: kind van God! Net soos vir Paulus, is die Gees van God vir ons ook Leidsman in die lewe sodat ek en jy ons identiteit as kinders van God kan ontdek. Die oomblik wat ons Jesus Christus in ons lewe ingenooi het, was ons nie meer deel van onbekendes wat doelloos rondswerf nie, of soos die kommandant wat ‘n groot som geld moes betaal om êrens te kan behoort nie. Ons is kinders van God! Ons is broers en susters in Jesus Christus!

 

Ja, goed, dalk nie altyd sulke goeie kinders nie want ons maak nog baie foute. Afgesien van wie ons is of wat ons in die verlede verkeerd gedoen het, en nog steeds doen, ons is vir ons hemelse Vader steeds kosbaar. Daaraan herinner die Gees ons elke dag wanneer Hy besig is met sy heiligmakingsproses. Elke gelowige in Jesus Christus is vir God opsy gesit en God verwag van sy kinders om heilig te lewe: “Wees heilig want Ek is heilig,” staan geskryf op ‘n hele paar plekke in die Bybel. Om heilig te wees beteken om anders te wees. Dit vra dat ons elke dag meer sensitief sal raak vir sonde en sondes waarvan ons bewus is, te laat staan.

 

Die bekende CS Lewis gee vir ons ‘n pragtige beeld van heiligmaking: “God is soos ‘n tandarts. Wanneer ons na Hom toe gaan met ‘n sonde wat hinder, ondersoek Hy ons volledig en sy behandeling is nie eenmalig nie. God verseker ons as ons Hom vertrou, verwyder Hy nie net die een ding wat gepla het nie, maar elke verkeerde ding uit ons lewe, tot binne die wortel-kanaal! En Hy hou aan met die ‘behandeling’ want Hy wil hê dat ons só sal lewe dat ander mense vir Hom in ons lewe sal raaksien.”  

 

Paulus se burgerskap het vir hom verskeie deure oopgemaak, veral by die heidene. Wat sien ander mense as hulle na ons kyk? Nog beter, wat sien die Here as Hy na my en jou kyk? Die beste toets of ons op die regte pad van heiligmaking is, is om te kyk hoeveel eienskappe van die vrug van die Heilige Gees teenwoordig is in ons soos wat Paulus skryf aan die Galasiërs: “Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Gal. 5:22-23). Julle sal met my saamstem, heiligheid is nie maklik nie. Ons sal dit ook nie op ons eie regkry om heilig te lewe nie. Dalk is dit nie ‘n slegte idee om CS Lewis se raad van God se onophoudelike ‘behandeling’ te aanvaar, en Hom toelaat om ons te verander soos wat Hy ons graag wil hê.

 

Iemand het gesê ‘daar is min dinge wat gevaarliker is, as om tevrede te wees en te bly net soos ons is. Die enigste bewys van lewe, is geestelike groei.’ Ons moet God toelaat om ons geloof te voed deur Jesus Christus en die Heilige Gees wat in ons werk. Klink maklik, maar hóé doen ons dit? Geestelike voedsel is op elke bladsy van God se Woord te vind; God is net ‘n gebed ver van ons af; God het aan elkeen van ons genadegawes geskenk, ons moet dit net aanwend; lééf die nege eienskappe van die vrug van die Gees. Ons moet heilig lewe omdat God ons sy kinders gemaak het. Die wonderlike waarheid is dat Hy ons eerste sy kinders gemaak het, ons kán dus nou só leef dat dit duidelik is ons is sy kinders.

 

“God kom die lewe van elke individu met ‘n private en persoonlike deur binne” (Ralph Emerson).

 

Gebed: Hemelse Vader, maak my heilig soos U heilig is. Help my om aan U eise vir heiligheid te beantwoord, sodat Jesus se heerlikheid in my gesien kan word. Dankie vir al die genadegawes wat U tot my beskikking stel om geestelik te groei. Hou asseblief aan om my te ‘behandel' om voedsel uit U woord te put en deur volhardende gebed die krag sal kry om te groei in die geloof. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page