top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 26 April 2024

Koos Espach


Die komplot teen Paulus (2)

 

Wat is ons boodskap?

 

Hand 23:16-18 – “Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus  gaan vertel. 17 Toe laat Paulus een van die kapteins roep en sê vir hom: ‘Vat hierdie jongman asseblief na die kommandant toe, want hy het ‘n boodskap vir hom.’ 18 Hy vat hom toe na die kommandant toe en sê: ‘Paulus, die gevangene, het my laat roep en my gevra om hierdie jongman na u toe te bring. Hy het iets om vir u te sê.”

 

‘n Verrassende wending in Lukas se verhaal bring mee dat bevelvoerders van die Romeinse garnisoen bereid is om te luister na wat ‘n Joodse seun te sê het. Paulus se susterskind het gehoor van die beplande hinderlaag, (die moontlike wyse waarop hy van die komplot gehoor het word nie genoem nie), maar oom Paulus in die kaserne moes hoor daarvan. Dit is ook vreemd dat die seun so maklik toegang tot Paulus in die kaserne gehad het. Sonder om te veel te wil bespiegel, kan ons verseker sê dat die Here só sorg dat Paulus op die regte tyd van die aanslag hoor. Ons sien hier weer dat die Here telkens mense gebruik om Paulus te waarsku (vgl. Hand. 9:24; 9:29-30; 17:10; 20:3).

 

Paulus het toe een van die kapteins laat roep en vir hom gevra om die seun na die kommandant te neem, aangesien hy ’n boodskap vir hom gehad het. ‘n Klompie jare vantevore was daar ook ‘n Seun wat by die tempel ‘n boodskap gehad het, ‘n boodskap vir die wêreld: 14 “Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer. 15 Die Jode was verbaas en het gesê: ‘Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!’ 16 Jesus het vir hulle gesê: ‘Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het” (Joh. 7:14-16).

 

Tydens die jaarlikse viering van die loofhuttefees in Jerusalem het Jesus in die tempel voortgegaan om te openbaar dat Hy die Christus is wat van die Vader gekom het en weer na die Vader teruggaan. Soos te verwagte, was die Joodse leiers nie tevrede dat Jesus die mense in die tempel kom onderrig het nie. Hy het nie, soos hulle, aan die voete van die groot geleerde rabbi’s gesit om die wet van God te bestudeer nie. Die feit dat Hy met gesag die volk leer, kan hulle nie ontken nie, maar hulle wil weet waar Hy aan die geleerdheid kom, aangesien Hy dit nie van hulle ontvang het nie.

 

Jesus wou onmiddellik misverstande uit die weg ruim. Hy het nie gekom om die volk te mislei (Joh. 7:12), of om Homself te beskou as ’n selfaangestelde leraar van die volk nie. Hy tree op as die Een wat gestuur is. Hy het lankal al reeds sy opleiding deurloop, ‘n voorreg om by God self te leer. Hy het nie aarde toe gekom om sy eie eer te soek nie, of deur mense opgehemel te word nie, maar slegs om God te verheerlik. Dit is egter nie elkeen wat sal verstaan dat Jesus se leer van God af kom nie. Dit is die Heilige Gees wat ons harte gereed maak om dit te verstaan. Die gesindheid van elkeen van ons, die gesteldheid van die mens se innerlike van die hart, hang daarvan af.

 

Jesus se boodskap is nie oor Homself nie, Hy leer die Jode en feesgangers, en deesdae vir ons, werklik van God. Hy stel ook nie Sy eie saak nie maar bevorder die saak waarvoor God Hom gestuur het. Hy span Hom in om alleen maar die wil van die Vader te doen (Joh. 4:34) en Hom te verheerlik. Daarom is Jesus wat Hy voorgee om te wees – opreg, eerlik, betroubaar en geloofwaardig. Hy is ons Vryspraak, die Heiliging en die Verlossing, ons Wysheid – “Jesus het vir ons geword die wysheid wat van God kom” (1 Kor. 1:30). 

 

Ware wysheid is nie in die mens self geleë nie, dit is ‘n Persoon: Jesus Christus! Hý is die Wysheid “wat van God af kom” en slegs diegene wat met Jesus verenig is, het die Wysheid gevind. Hierdie wysheid word nie op een of ander manier verwerf nie, dit kan nie êrens gekoop word nie, dit is aan God te danke – deur God se genade is dit verkrygbaar by Hom: “Net God weet hoe die pad daarheen loop, net Hy ken die woonplek van die wysheid” (Job 28:12). Die Wysheid se woonplek het oopgegaan en uit die geopende hemel het die Wysheid neergedaal na die aarde toe om mens te kom word (Joh. 1:14).

 

En sodoende het Hy die mens kom vind en wysheid aan hom gegee "om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken” (Matt. 13:11). Die mens het egter die keuse of hy hierdie wyshede wil ontvang, al dan nie. Die vraag is of ons Christene bereid is om die wysheid van Christus, sonder kompromie, op onsself te neem? Om openlik oor Hom te praat, met ons lippe Sy Naam voor mense bely, God in die openbaar aanroep, aan Hom die nodige eer bring. Ons het nie eintlik ‘n keuse nie, want ons plek is by die altaar, ons is kruismense! Ons Christen-gelowiges weet Wie is die verskil tussen lewe en dood! Dít, is ons boodskap!

 

“A man is faced with a simple alternative if he allows Christ into his orbit. He can either do what he likes or he can do what Christ likes; and if he wishes to go on doing as he likes, he must seek to eliminate Christ”

(William Barclay).

 

Gebed: Here, “Rus my toe met alles wat goed is, sodat ek U wil kan doen. Bring in my tot stand, deur Jesus Christus, wat vir U aanneemlik is want aan U behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid” (Heb. 13:21). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page