top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 24 April 2024

Koos Espach


Paulus voor die Joodse Raad (6)

 

God se Almag

 

Hand. 23:11 – “Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: ‘Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.”

 

Die spektakel tussen die Fariseërs en Sadduseërs was besig om hand uit te ruk ná Paulus se verklaring dat hy glo in die opstanding van die dooies. Die oor en weer skreeuery kan dalk ontaard in ‘n geveg – en die oorsaak vir die dringende vergadering, Paulus, staan eenkant en niemand steur hulle meer aan hom nie. Die kommandant besluit dit is beter om Paulus, ter wille van sy eie veiligheid, terug te neem na die Romeinse soldatekaserne toe.

 

Lukas vertel verder dat die Here daardie nag aan Paulus verskyn het om hom te bemoedig. Die Here herbevestig Paulus se roeping. Ondanks sy gevangenskap, sal hy nog in Rome getuig soos hy in Jerusalem getuig het. In kritieke oomblikke van sy lewe tot dusver, het Paulus telkens besondere openbarings van die Here ontvang om hom moed in te praat en voor te berei vir die pad vorentoe. Dit word vir hom duidelik gemaak dat wat ook al gaan gebeur, volgens die plan van God sal wees. Paulus ontvang God se spreekwoordelike stempel van goedkeuring en sy kwelgedagtes word verdryf – buite tussen die Jode is dit donker, binne die kaserne in aanhouding is dit nag – maar nou het hy God se versekering dat hy ook in Rome sal getuig.

 

Sy gebed is verhoor: “Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om (Rome) te besoek nie” (Rom. 1:10). “Hou net moed Paulus!” En sy antwoord: “Ja Here, nou is my moed groot" – “O Here, U is die lig in my lewe. As U by my is, verdwyn die donker. 30 Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ‘n hele bende storm. Niks sal my kan keer nie. Ek spring oor ‘n hoë muur. 31 God se pad is volmaak. Jy kan alles glo wat Hy sê. 33 God gee my al die krag wat ek nodig het. 36 U self beskerm my en red my waar ek U nodig kry” (Ps. 18:29-36 – Die Boodskapper).

 

Die Here het met Paulus gepraat en sy hart gevul met geloof wat Hy vir Paulus sou doen! Terwyl ek vandag se teksvers gelees het, het ek nederig gewonder of ek werklik al ‘n lewende verbintenis met God ervaar het soos Paulus hier getuig? Het ons al in ons harte gevoel dat God in ons werk en veral, nie vir ‘n oomblik getwyfel het of God sy werke enduit met ons sal volvoer nie? Dan moet ek bely, ek het soms getwyfel in God se almag. Ek het al baie gewonder of God regtig my hoor – veral wanneer dit vir my voel of daar nie ‘n connection met God is nie! Maar dan tref die Psalmis se woorde ons: “God is my sterkte” (Ps. 73:26); “Die Here is my lig en my redder ... my toevlug” (Ps. 27:1); “U het my gebed gehoor en my nuwe krag gegee” (Ps. 138:3). Ag, en dis maar net enkele verse van bemoediging, die Bybel is vol daarvan!

 

Dan besef ons opnuut, elkeen wat in geloof voor die opgestane Here kniel, behoort God se Woord vir hom of haarself toe te eien en Hom aanbid as ons Almagtige God – ons God wat Homself reeds eeue gelede aan Abraham bekend gemaak het: “Ek is God die Almagtige” (Gen. 17:1). Dieselfde geld vir Christus wat met Paulus gepraat het. Ons lees ook in Kolossense 1:11 en 13-14: 11 “Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard ... 13 Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14 Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.”

 

As ons dit met ons hele hart glo dat die Here se krag voortdurend in ons werk, hoef ons nie te twyfel of God met ons ‘n verbintenis het nie, ons kan met vreugde sê: “God is my lewenskrag.” Miskien het ons soms net tyd nodig om die Here se Almagtigheid, Sy grootheid te begryp. As ons Hom egter die eer gee wat Hom toekom en ons geloof sterker word van wat ‘n wonderlike en Almagtige God ons aanbid, sal ons gedring voel om in nederige aanbidding voor Hom te kniel. En wanneer ons bid, te bid met ‘n dankbare en toegewyde hart wat weet dat die Here wél ‘n verbintenis met ons het. Glo dan dat Hy kragtig in my en jou sal werk. Hou net moed!

 

“Ons kan onsself met volkome gerustheid toevertrou in die hande van ons Almagtige God wat die ganse heelal in stand hou” (Paul Friedrich Richter – 1763-1825).

 

Gebed: Vader, leer my deur u Gees in U deurdringende genade om altyd te onthou dat niks te groot is om buite U Almag te val, of te klein is om nie deur U sorg omvou te word nie. Vir U is niks onmoontlik nie! “Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!” (Ps. 95:6). Hy gee ons moed. Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page