top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 25 April 2024

Koos Espach


Die komplot teen Paulus (1)

 

‘n Wêreld in donkerte gehul

 

Hand 23:12-15 – “Die volgende dag het die Jode ‘n komplot teen Paulus gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. 13 Daar was meer as veertig mense wat so saamgesweer het. 14 Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde toe gegaan en gesê: ‘Ons het ‘n dure eed afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie. 15 Julle moet nou namens die Joodse Raad die versoek aan die kommandant rig dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom op pad hierheen dood te maak.”

 

Paulus het die Here se bemoediging van die vorige nag baie gou nodig gekry, want die volgende dag het die Jode ’n komplot teen hom gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Hulle het God se straf oor hulleself ingeroep as hulle nie sou doen wat hulle beloof het nie. Vir hulle was God se eer op die spel. God is die God van Israel, nie van die wêreld nie, het hulle geglo. Paulus leer mense dat die Joodse wette nie meer geld nie, hulle moet net in Jesus glo. Nee, dis godslasterlik – hy moet dood. Duisende Jode sou gereed wees om Paulus te dood, maar dis ‘n geheime sameswering. Om lekkasie van die bose plan te voorkom, moet die getal dus tot die uiterste beperk word. Net ongeveer veertig sal handelend optree.  

 

Die Jode het Paulus deurgaans vervolg, hom uit Antiogië verdryf (13:50), uit Ikonium laat vlug (14:6), in Listra tot die dood toe gestenig (14:19), in die nag uit Tessalonika laat vlug (17:10), die skare in Berea teen hom opgesweep (17:13), hom in Korinte belaster (18:6), in Jerusalem uit die tempel gesleep en probeer doodmaak (21:30), maar as die toppunt van hulle verwerping van sy getuienis oor die opstanding van Jesus as die Seun van God en Redder van die mensdom, plaas hulle hier hulle eie lewe op die spel om hom dood te kry.

 

Noudat die Jode in die openbaar niks teen Paulus kon uitrig nie, het hulle in die geheim teen hom saamgesweer. Hulle het die priesterhoofde en die familiehoofde ook betrek, en vir die Joodse Raad is dit ‘n uitkoms dat die gehate Paulus van die aarde moet verdwyn. Hulle duiwelswerk kry ‘kerklike sanksie,’ net soos “die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk bymekaargekom het in die woning van Kajafas, die hoëpriester. Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak” (Matt. 26:3-4). Ironies is dit nie die ongelowige wêreld, of die leiers van ander godsdienste, of selfs satan nie, hierdie besluit word geneem deur ‘n spesiale vergadering van die Joodse Raad – die Algemene Sinode van die kerk van daardie tyd – Jesus moet sterf!

 

Die evangelie-skrywers hou hier ‘n spieël voor ons en herinner ons daaraan dat dit vroom en godsdienstige mense is wat Jesus gevange wil neem en kruisig; vroom en godsdienstige mense wat teen Paulus saamsweer, in die donker konkel – in beide gevalle, eintlik bereid is om moordenaars te word! Dis mense met ‘n vaste sisteem van reg of verkeerd, kerkmense, net soos ons. Is daar nie dalk iets van die Joodse Raad wat in sommige van vandag se mense, steeds deurskemer nie?

 

Nooit, ons wil nie vir Jesus doodmaak nie! Maar, maak ons nie dalk soms Sy werk ongedaan nie. Drentel ons nie maar net lui-lui agter Jesus aan nie, of leef ons die boodskap van Christus met ywer uit? Sondae hoor ons wat Jesus gedoen het en nog steeds doen, ons lees wat Hy vra, ons loof en prys Hom, maar wanneer ons rondom ons kyk, sien ons bitter min die toepassing hiervan. Plaas ons nie maar elke dag ons eie belange voorop in plaas daarvan om Hom ten volle te volg nie? Laat sak jy ook jou kop in skaamte soos wat ek doen? Eintlik maak ons dan Jesus se werk ongedaan!

 

Wat is die implikasie hiervan? Die wêreld is feitlik in totale donkerte gehul wanneer dit by die waarheid van die evangelie, wat die meeste saak maak, kom. Niemand kan ooit volkome tot die lig beweeg sonder Jesus nie. Die tendens van ‘n menigte mense is deesdae egter om die spot te dryf met ons Christene. Hulle maak grappe oor die kerk wat vrek swak is. Hulle lag orals in hul mou vir mense wat sê daar is ’n Skepper God wat Sy Seun gestuur het om te kom sterf vir sondaars se vrag sonde. Dit is mense wat hulle monde vol het van die sterwende kerk waarvan hulle ‘lidmate’ is, maar self nooit ‘n vinger verroer nie. Mense van niksdoen, kerkmense wat sê hulle is Jesusvolgelinge – maar met dieselfde asem: “Jammer, my program is vol. Ek is baie besig!”

 

Die invloed van my en jou lig moet verder strek as ons huis en ons gemeente, tot daar waar dit nie só werk in die gewone samelewing nie. Almal behoort te sien en te ervaar dat ons die Here dien en God daardeur verheerlik. “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra” (Fil. 2:15-16). En dit kan nie wag vir eendag wanneer ... (vul jou eie ‘oortuigende’ verskoning in). Dit mag dalk te laat wees en omdraai nie meer moontlik is nie.

 

“Ons is die lig vir die wêreld, maar niemand anders as God kan dit aanskakel nie. Bly by Hom” (Austin Lewis).

 

Gebed: Vader van alle lewe, moenie dat ek meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. Keer my voordat dit dalk te laat is. Ek kies om my nie te skaam vir die evangelie van Jesus nie, en ek “wil gebruik maak van elke geleentheid om lig te wees, want ons leef in ‘n goddelose tyd” (Ef. 5:16). Vorm my sodat ek nuttig kan wees in U koninkryk. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page