Gedagte vir Vandag
Vrydag, 10 Mei 2024
Koos Espach
Paulus word na Feliks toe gestuur (5)
Gryp die geleentheid aan
Hand. 23:31 – “Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris.”
Die militêre geleide van 400 infanteriste (voetsoldate) en 70 ruiters verlaat Jerusalem om 9 uur die aand. Tussen hulle, ook op ‘n perd, ry Paulus. Die bedrywige magsvertoon van die Romeine is sekerlik met haat en woede in die harte van Joodse verbygangers aanskou. As die samesweerders maar net geweet het! Hulle woede sou beslis die toppunt bereik het maar tog magteloos. Twaalf dae gelede het Paulus deur dieselfde poort waardeur hulle nou ry, omring deur medebroers met aalmoese vir die gemeente in Jerusalem, die stad binnegekom. Dit was twaalf dae van intense spanning en het seker vir Paulus met sieleworsteling gepaard gegaan.
En nou verlaat hy Jerusalem om nooit weer daarheen terug te keer nie. Die Romeine neem hom na Antipatris en veiligheid, ongeveer 60km noordwes van Jerusalem. Ons kan hom hoor fluister: “Vaarwel Jerusalem!” Die gesant van God wat die boodskap van heil en vrede in Jesus Christus wou bring, vertrek. Dit laat ons wat hier lees dink aan Jesus se profetiese woorde ongeveer 23 jaar vantevore: 37 "Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie! 38 Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat” (Matt. 23:37-38).
Jesus fel ‘n oordel teenoor Jerusalem, hierdie sogenaamde heilige Godstad waar die Jode Hom ‘n paar dae vantevore ingelei het op ‘n donkie se rug en vereer het as die profeet uit Nasaret (Matt. 21:9-11). Met die woorde van Psalm 118:26: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!”, het hulle lof aan Hom betuig! Hierdie selfde stad sou veertig jaar later in puin gelê word. Die dilemma was dat die tempel ook verwoes word, en die Jode het geglo dat hulle sonder die tempel, sonder God was. Hulle kon nog nie insien dat Jesus die plek van die tempel ingeneem het nie, en Sy aanvanklike preek dat hulle hul moet “bekeer, want die koninkryk van God het naby gekom” (Matt. 4:17), ook vir húlle bedoel was.
Jesus se oordeel oor Jerusalem was die klimaks van die ellende-aankondigings aan Israel. Ten spyte van die herhaling van Jerusalem se moord op die profete, gee God nie op nie. Jesus bevestig Sy lankmoedigheid en geduld na ‘n langdurige en herhaalde bemoeienis met God se volk wanneer Hy sê: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak.” Dit is asof Jesus wil beklemtoon dat Hy “dikwels” die verlange gehad het om hulle van hulle doodsdrif te red, maar sonder sukses!
Hoe moet ons vandag hierdie ellende-uitsprake en strafaankondiging oor die destydse kerkleiers verstaan? Dit het betekenis vir Christus se kerk van alle tye, ook vir ons. Ons kan, en moet nooit God se genade onderskat nie. Die liefde van God in Jesus vir sondaars, sal ons seker nooit na waarde kan peil nie. Selfs in hierdie oordeelsaankondiging kom dit na vore. Sy bemoeienis met ons is onmeetlik groot!
Die beeld wat Jesus hier gebruik van ‘n hen en haar kuikens is bekend van Sy versorgende beeld. Hy het met sy ‘hen-hart’, sy eie lewe in gevaar gestel om sy ‘kuikens’ te red, sy kinders gedra. Jesus het sy natuurlike ouerinstink gevolg, en uit liefde ‘n uitkoms kom gee vir elkeen wat onder sy ‘vlerke’ wil skuil, soos die hen wat met een oog op die kuikens en die ander oog op die valk waak oor haar kuikens. Sy kloek haar kuikens nader en sprei haar vlerke oop sodat hulle onder haar kan skuil tot die gevaar verby is. Sy rek haar nek al in die rondte totdat sy reken alles is veilig, dan strek sy haar regop en vou haar vlerke toe sodat die kuikens weer hulle gang kan gaan.
Hierdie beeld getuig van Jesus se besorgdheid oor ons wat in sonde verval het. Hierdie liefde en geduld is egter nie sonder einde nie. Wanneer ons Sy liefde aanhoudend verwerp, kom daar ‘n dag van oordeel. En dit is die probleem. Jesus kan dit nie keer nie. Jesus kan op water loop en dooies lewendig maak, maar Jesus kan my en jou nie dwing om vir Hom lief te wees nie. Hy smag na ons liefde maar Hy kan dit nie afdwing nie. Wat doen Hy? Soos ‘n “hoenderhen strek Hy sy vlerke oop” om ons te beskerm – soos aan die kruis met uitgestrekte arms – smag Hy daarna om ons tot besinning te roep om sy ‘hen-hart’ te aanvaar en met geloof onder sy ‘vlerke’ te kom skuil; roep Hy ons om tussen sy ‘vere’ deur te loer na die ander ‘kuikens’ wat nog arrogant op hulle eie rondskarrel en hulle ook te nooi vir sy beskerming.
Waarom sal ons dan nie na sy roepstem wil luister nie? Waarom sal ons die dood bo die lewe verkies? Dit is nou nog genadetyd. Laat ons dit met albei hande aangryp! Vandag nog. Moenie uitstel nie! Kom ons vat hande en stap saam met Jesus na die ewige stad van God. Dit is nie altyd maklik nie, maar beslis die moeite werd!
“Ons behoort God te dank vir alles: as dit goed is, omdat dit goed is; en as dit sleg is, omdat dit geduld, nederigheid en afkeur vir hierdie wêreld in ons werk en ons hoop vestig op die ewige stad van God”
(CS Lewis).
Gebed: Dankie Jesus dat U “dikwels my as U kind bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke.” Hou asseblief u ‘vlerke’ oopgesprei vir daardie tye van beproewing. Help my deur U Gees om van U te getuig en hulle wat nog reddeloos rondskarrel, uit te nooi om te kom deel in U beskermende liefde. Amen.
Comments