top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 12 April 2024

Koos Espach


Paulus en die Romeinse kommandant (1)

 

Die waarde van geestelike burgerskap

 

Hand. 22:22-25 – “Meer as dit wou die skare nie hoor nie, en hulle het begin skreeu: ‘Weg met hom! So ‘n man behoort nie te bly lewe nie!’ 23 Die skare het geskreeu, hulle klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi. 24 Die kommandant het toe beveel dat Paulus in die kaserne ingebring moet word en dat hy gegésel moet word om vas te stel hoekom die skare hom so uitgejou het. 25 Hulle het hom alreeds vir die géseling vasgebind gehad toe Paulus vir die kaptein wat daarby staan, vra: ‘Mag julle ‘n Romeinse burger gésel, en boonop nog sonder verhoor?”

 

Paulus se laaste woorde was te veel vir die Jode. Om net te sê dat hy na die heidene toe gaan én nog te beweer dat hy deur God self daartoe geroep is, was in stryd met hulle wette en godslasterlik. Hoe kan ‘n Jood dit waag om hier by die tempel van Jerusalem só te praat? “Weg met hom! So ‘n man behoort nie te bly lewe nie!” Die kommandant wat Paulus se toespraak in Hebreeus (Aramees) nie verstaan het nie, verstaan ook nie waarom die Jode hulle verontwaardiging te kenne gee deur hulle geskreeu, hulle klere uit te pluk en stof in die lug op te gooi nie.

 

Die vrede moet bewaar word. Hy moes uitvind wat aan die gang was. Die kommandant weet nie meer raad met die situasie nie, en hy besluit om Paulus te laat gésel sodat hy op hierdie manier die waarheid uit hom kan kry waaroor die Jode so teen hom te kere gaan. Toe Paulus reeds uitgestrek en vasgebind was vir die géseling, vra hy vir die offisier wat opsig oor die géseling hou, of dit volgens wet toelaatbaar is om ’n Romeinse burger, wat nie vir enige misdaad verhoor is nie, te gésel? Dit was die wetlike reg van ’n Romeinse burger om sy waardigheid te beskerm en om nie onskuldig verneder te word nie. Paulus se pa was ‘n Romeinse burger, en alhoewel Paulus ‘n Jood was, het hy Romeinse burgerskap dus as geboortereg verkry. Sy burgerskap was nou, tot sy voordeel!

 

Elke gelowige het ‘n dubbele burgerskap, skryf Paulus: 14“Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15 Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. 16 Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom. 8:14-16).

 

Die werking van die Heilige Gees in ons lewe lei daartoe dat ons groot vrede in ons verhouding met God beleef, want deur die Gees wéét ons dat ons kinders van God is: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” Is dit nie wonderlik nie? Deur God se genade beklee ek en jy ‘n geweldige bevoorregte posisie – die posisie van Koningskinders! Dit is een van die aangrypendste waarhede in die Skrif dat ons sondaars, burgerskap verkry in die hemel en kinders van God kan word. Die feit dat God gewillig is om ons as sondaars, Sy kinders te maak en so te noem, klink onbegryplik. En tog is dit presies wat die Woord van die Here ons leer: “Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

 

Ek het al baie gewonder wat ek moet doen om ‘n Christengelowige te bly? Wat moet ek doen om ‘n kind van God te bly? Miskien het jy ook al daaroor gewonder. Die antwoord is miskien om Bybelstudie te doen, gereeld te bid, kerkdienste gereeld by te woon, betrokke te raak by ‘n Christen-gemeenskap, en so meer. Ja, dit werk ook. Dit is egter om dinge te dóén en dit is eintlik die gevolg van getroue dissipelskap. Ek het hierdie gedagte ‘n paar dae ‘vertroetel’ en toe tot die besef gekom dat dit nie iets is wat ek (ons) moet doen nie, dis reeds vir my (ons) gedoen! Om gelowig te word en te bly, is iets wat God reeds vir ons gedoen het – Hy het Jesus Christus na hierdie wêreld gestuur om my en jou, en elkeen wat in Hom glo, se Verlosser en Saligmaker te wees.

 

Ons moet dit net aanneem. Dit is waar ons begin. Ons moet net reageer op die inisiatief wat God reeds geneem het om Jesus na ons toe te laat kom (Joh. 1:14). En dis nie waar dit stop nie. Ons gaan voort om Hom herhaaldelik aan te neem omdat Hy herhaaldelik na ons toe kom. Jesus Christus kom in my en jou leefwêreld in en sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by jou ingaan en saam met jou die feesmaal hou, en jy saam met My” (Op. 3:20).

 

Elkeen van ons het seker al gewonder wat die toekoms vir ons inhou. Ons het nooit sekerheid oor die toekoms nie, in elk geval nie in menslike terme nie. Wanneer ons kinders van God word en ons geloof in Jesus Christus plaas, gee Hy aan ons die krag om te word, wat ons nog nie is nie. Hy skenk aan ons die gawe van ‘n oop toekoms – die reg om te word! Of ons nou 8, 18 is of 80, kan ons steeds uitsien na dit wat God ons kan laat word. Ons moenie God bedroef deur hierdie geleentheid te laat verbygaan om hemelse burgerskap te verkry nie – “Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). God hou vir my en jou die reg voor “om te word” – neem dit aan. Moenie uitstel nie!

 

“Moet nooit bang wees om ‘n onbekende toekoms aan ons bekende God toe te vertrou nie”

(Corrie ten Boom).

 

Gebed: Vader, gee my genade om uit te reik na die toekomsmoontlikhede wat U vir my het. Dankie Jesus dat U na my toe gekom het sodat ek “kan word”, ook hemelse burgerskap kan verkry en kind van God te wees. Bly by my Gees van God. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page