top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 10 April 2024

Koos Espach


Paulus vertel van sy bekering (8)

 

Hardkoppigheid kan ons duur kos

 

Hand. 22:17-20 – “Ek het na Jerusalem toe teruggegaan, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek in geesvervoering geraak 18 en die Here gesien wat vir my gesê het: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’ 19 Toe het ek gesê: ‘Ja, Here, hulle weet dat ek die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, laat vang en laat slaan het. 20 En toe Stefanus, u getuie, se bloed vergiet is, het ek self daarby gestaan. Ek het dit goedgekeur en sy moordenaars se klere opgepas.”

 

Paulus vertel verder hoe hy teruggekeer het na Jerusalem en toe in die tempel, die heilgste plek op aarde vir alle Jode, in ‘n geesvervoering geraak het. Die opgestane Here het hom kom waarsku om uit Jerusalem pad te gee omdat niemand sy verkondiging van die evangelie sou aanvaar nie. Die rede: Hy was ‘n rukkie gelede nog die hoofvervolger van die kerk, hulle sou nie geglo het dat Paulus oorgeloop het na die ‘ander kant’ toe nie. Nee! Die “broers en vaders” (v. 1), móét hom glo. Hy het nie net die Here se stem gehoor op pad na Damaskus nie, maar drie jaar daarna, ook hier in die tempel in Jerusalem! Hy het na Jerusalem gekom om ter wille van sy volk getuienis oor Jesus te gee. Liefde tot sy Here, liefde tot sy volk, dring hom!

 

Hoe sterk Paulus daarna verlang het om die evangelie aan sy volksgenote in Jerusalem te verkondig, blyk uit die feit dat hy skynbaar nie dadelik gewillig was om Jerusalem te verlaat nie. Hy kón nie die Here se bevel om “dadelik uit Jerusalem weg te gaan,” gehoorsaam nie. Hy beroep hom daarop dat die inwoners van Jerusalem hom ken as die man wat oral in die sinagoges die Christene laat vang en laat slaan het, en dat hulle weet watter rol hy by Stefanus se steniging gespeel het, hy was een van húlle!

 

Die Here het hom egter nie kans gegee om sy saak klaar te stel nie. Die Here het beter geweet. Hy weet die Jode is hardkoppig en verhard, almal van hulle het nie aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Paulus haal uit Jesaja aan wanneer hy daarna verwys in sy brief aan die gemeente in Rome: “Van Israel sê God: ‘Dag vir dag het Ek my hande uitgesteek na ‘n ongehoorsame en weerspannige volk, ‘n opstandige volk wat ‘n pad geloop het wat nie goed is nie, wat hulle eie kop gevolg het” (Jes. 65:2; Rom. 10:). Israel wóú nie na die evangelie luister nie, maar het hulle eie kop gevolg en nie die geloofsweg waarop God hulle wou lei, volg nie. Hulle was te trots vir God se genade.

 

Paulus het sy uiterste bes probeer om te verduidelik wat aan die gang is, en net soos die Jode van sy tyd, bevind só baie mense vandag nog hulleself in dieselfde gevaarlike posisie waar godsdiens nie meer ‘n hoë prioriteit geniet nie. Dit beteken miskien nie dat hulle gekant is teen die Christendom nie en dit gaan ook nie juis te sleg met hulle nie, maar hardkoppigheid en eiewilligheid lei hulle dalk aan ‘n “laat-maar-gaan” sindroom – ons sal eendag ...! Die evangelie van Jesus Christus is inderdaad ‘n skat wat naby ons is, só naby dat selfs ‘n klein kindjie dit kan ontdek en aanneem. Die evangelie van Jesus Christus vra van ons om ons hardkoppigheid prys te gee, dat ek en jy onsself sal onttroon en God op ons troon sal plaas.

 

Ons word nie gered deur ons goeie werke om gedien te word nie maar word gered om God te dien en vir Hom te werk – dit is die gevolg van ‘n dankbare saligmakende geloof. Om gered te wees en as individu daaraan vas te klou, die Here te bedank dat Hy ons gered het en niks daaraan doen nie, beteken niks. Ons is gered met die doel om God te verheerlik deur dade van liefde, ons evangelie skoene aan te trek en na ander mense te stap en hulle die Goeie Nuus mee te deel, te getuig, sodat hulle ook van Jesus Christus weet. Almal sal nie die boodskap aanvaar nie, net soos die Jode nie Paulus se boodskap wou aanvaar nie, maar God weet mos wie sy kinders wil word en wie nie. Is jy beskikbaar om te getuig?

 

“God ken net Christene en ongelowiges. Daar bestaan nie ander kategorieë mense nie” (Stephan Joubert).

 

Gebed: Dankie Here dat U vir Paulus gebruik het om my van U te vertel. Skep asseblief vir my geleenthede om dit vir iemand anders ook te vertel. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page