top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 8 April 2024

Koos Espach


Paulus vertel van sy bekering (6)

 

Getuig tot eer van sy Naam

 

Hand. 22:15 – “Jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.”

 

Lukas beskryf in sy boek Handelinge, drie weergawes van Paulus se bekeringservaring en wat daarna gebeur het. (Hand. 9:1-18; 22:6-21; 26:12-29). Dit mag vir ons miskien laat wonder watter weergawe nou eintlik die mees aanvaarbare is, dan wil die skrifverklaarders ons egter gerusstel, al drie weergawes is aanvaarbaar. Die vraag is egter waar die nadruk val? In al drie weergawes is Paulus se reaksie dieselfde nadat die skerp lig uit die hemel hom op die grond laat neerwerp het en hy verward gevra het: “Wie is U, Here?” In Handelinge 22 is Paulus se toespraak in Hebreeus voor die opruiende volk waar hy vertel van Ananias wat Christus se boodskap aan hom oorgedra het: “Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor, want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.”

 

Dit is interessant dat Christus se aanvanklike opdrag hier aan Paulus, nie is om hom te bekeer en sy lewe te verander nie, maar eerder om sy getuie voor alle mense te wees. Dit beteken natuurlik nie dat sy bekering onbelangrik is nie. Dit is tog vanselfsprekend dat dit onmoontlik vir Paulus sou wees om as getuie vir Christus op te tree as hy Christene nog gehaat het en Jesus-volgelinge nog vervolg het. Dit gaan daarom om Paulus se roeping in hierdie geval, sy roeping as getuie van die lewende Christus wat hy “gesien en gehoor” het.

 

As God se kinders, word ons saam met Paulus in die getuienisproses betrek. ‘n Sekere George Williams hou die volgende storie van ‘n eenvoudige vrou voor: “Sophie was ‘n bekeerde skropvrou wat beweer het dat sy geroep is om te skrop en te preek. Sy is deur iemand bespot wat gesê het dat hy haar voor ‘n sigaarwinkel met ‘n Indiaan wat van karton gemaak was, sien praat het. Sy het geantwoord: ‘Miskien het ek, my sig is maar sleg. Maar om met ‘n karton-Indiaan oor Christus te praat is nie so sleg as om ‘n karton-Christen te wees en om nooit teenoor enigiemand oor Christus te getuig nie.”

 

Christen-wees en getuienis lewer kan nie van mekaar geskei word nie. Getuienis het ‘n funksie onder ons gelowiges in die gemeente én het ook te doen met dié wat nog nie deel van die familie van God is nie. Nog voordat my en jou mond oor Jesus Christus praat, moet ons lewe oor Hom praat, dit is onontbeerlik vir geestelike groei. Om oor God se seëninge in Christus te praat, is deel van die normale Christen se lewe. Dit is egter nutteloos om te probeer om met ons monde te getuig as ons lewe nie ook verkondig dat ons God verheerlik nie.

 

Getuienis is om eerstens ons geestelike rykdom met ander gelowiges te deel. Dit is om spontaan ons vreugde en dankbaarheid in die erediens met lofsange, gebede en offergawes met ander te deel – gemeenskap van die gelowiges. Dit is beslis nie om die kerkbank warm te sit en net na die preek te luister nie. Christelike getuienis is ‘n integrale deel van ons gelowiges se pelgrimstog. Dit is belangrik om te weet dat Jesus nie gesê het “julle moet probeer om My getuies te wees” nie, maar “julle sal My getuies wees ...” (Hand. 1:8). Dit behoort vir ons dan te verander in ek wil! Elke Christen is ‘n verteenwoordiger vir Christus en daarom behoort ons beskikbaar te wees en sal en wil ons uit dankbaarheid, tot Sy eer en verheerliking getuig.

 

Dit gaan nie net oor my en jou bywoning van eredienste, of die leë plek as die kerkklok lui, wat ook ‘n getuienis is ... téén ons, nie. Dit gaan ook oor gemeentelike samekomste, ons geesdriftige meelewing in kerkaktiwiteite, wat aan die wêreld moet sê: Dis heerlik om ‘n Christen te wees, heerlik om Christus te dien! Wanneer ons hart vol is van Jesus, sal die mond daarvan oorloop – sommer so spontaan. Net soos wat ons oor politiek of ons geliefde sport of tydverdryf kan praat, kan ons oor die goedheid en guns van die Here praat! Ek en jy behoort net ons hart en denke oop te maak vir die Gees se genadige invloed en wysheid, want dit gaan mos nie oor ons as getuies nie, maar oor Hom wat ons stuur! En buitendien het ons Hom net soos Paulus gesien en gehoor – sien Hom daagliks in die natuur en hoor Hom deur God se Woord!

 

“Getuienis is om die verskillende struikelblokke van my self-liefde te verwyder, sodat die Gees wat in my woon, vir Christus aan my medemens kan vertoon” (Paul Frost).

 

Gebed: “O Heilige Gees, bereider van God se koninkryk, laat God se beeld in my blyk. Gee my krag tot dade om in U Naam te bou, gesterk deur U genade, maak my in U getrou” (Liedboek 437:2). Aan U kom al die lof en die eer en aanbidding toe. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page