top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 3 April 2024

Koos Espach


Paulus vertel van sy bekering (4)

 

Die prys van navolging

 

Hand. 22:10-11 – “Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’ 11 ‘Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom.”

 

Die opruiende skare wat intussen stil geraak het, luister verder na Paulus se gesprek, sy gesprek met die Here. Paulus wat ‘n tweede vraag vir die Here vra, eintlik erken dat dié Jesus wat hy vervolg het, God is, wat uit die hemel met hom praat en hy aanvaar dat Jesus nou die seggenskap oor sy lewe het. Hy doen wat die Here Jesus vir hom sê om op te staan en te gaan na Damaskus ..., waarheen hy juis op pad was om die Jesus-volgelinge te arresteer. Nou gaan hy as gearresteerde van Jesus, na Damaskus om te hoor wat God bepaal het, hy moet doen. Hy wat as leier van ’n groep tempelpolisie Damaskus wou binnestorm om Jesusvolgelinge te arresteer en Jerusalem toe te neem om gestraf te word, ontmoet die opgestane Jesus Christus, en word as weerlose blinde aan die hand van sy metgeselle Damaskus binne gelei.

 

Ons het pas, in die ‘seisoen’ van die kerkjaar, die verskriklike lydenspad wat Christus Jesus geloop het, herdenk. Wanneer Paulus getuig van hierdie Jesus, wie se kruisweg ons sedert As-Woensdag (14 Februarie), gevolg het tot Paasnaweek, wil hy vir ons ook ‘n boodskap kom gee. Dieselfde lig wat Paulus blind gelaat het op die Damaskus-pad, is steeds “God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis’, ‘n lig wat ook in ons harte laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (2 Kor. 4:6). Ons kon in hierdie Lydenstyd dit ook toepas om weer opgewonde te raak oor Jesus wat in ons plek gesterf het, want God het sy lig ook in óns harte laat skyn. En hierdie lig van sy Gees verlig ons met die kennis van sy heerlikheid wat van Christus uitstraal.

 

Ja, partykeer voel dit vir ons of God se lig maar dof skyn in ons lewe. Partykeer gaan dit goed terwyl daar ander kere baie donkertye in ons geloofslewe is. Wel, wanneer ons so voel, kan ons amper sê: welkom in Paulus se lewe. Hy weet van af-tye beleef. Dit het hom egter nie gestop nie. Hy het geweet hoe om die hemel spreekwoordelik oop te bid! Hy sê vir ons dat hy kon aanhou omdat God hom nooit in sy swaarkry verlaat het nie, maar altyd teenwoordig was om saam met hom op sy moeilike pad te stap. En waar hy nie meer self kon loop nie, het God hom gedra. Hy kon voel hoe God hom elke dag herskep, terwyl hy eintlik gely het vir die evangelie.

 

Wat van my en jou? Ly ons vandag nog enigsins ter wille van die evangelie? Bonhoeffer sê in sy boek The cost of discipleship, ons moenie hierdie lyding verwar met daaglikse angs, nood en ongerief waaraan ons almal blootgestel word nie – dit is nie lyding om die evangelie, om Christus ontwil nie. Miskien kan ons lyding om die evangelie ontwil vergelyk met die bestaan van Christenskap. Sou dit byvoorbeeld ‘n verskil maak as die gemeente waaraan ek en jy behoort, vandag sou ophou bestaan? Sal die res van die dorp of stad dit enigsins agterkom? Sou sommige mense in dieselfde gemeente dit agterkom, verwysend veral na hulle wat net op die ‘boeke van die kerk’ is?

 

Jesus Christus se eis is dat ons Hom moet volg op sy manier, nie soos wat dit vir ons gemaklik of gerieflik is nie. Jesus sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit behou. Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?” (Luk. 9:23-25). Is dit nie lyding ter wille van die evangelie nie? Ons moet sterf aan onsself, ons lewe ter wille van Jesus prys te gee en afstand doen van dit wat normaalweg die sekerhede van ons bestaan is. Dít is wat dissipelskap en navolging van Jesus beteken.

 

Daar was net één pad wat Jesus móés loop: dié wat deur verwerping en vernedering geloop het, by ‘n kruis op ‘n heuwel en in ‘n geleende graf gaan draai het – ter wille van my en jou redding! Ons kan nie Jesus volg as ons voor Hom wil loop nie, ons moet agter Hom wees. Dit impliseer werklik die bereidheid om ons ganse bestaan en sekuriteit ter wille van Jesus op die spel te plaas en met dieselfde gesindheid en aanvaarding as Jesus, lyding op ons pad te verwag. Ander pogings om onsself te red is tevergeefs: “Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?” Om Jesus op sy kruisweg te volg, gaan ons beslis iets kos, maar die wins is deur en deur die moeite werd.

 

“Ek het in die loop van my lewe vir alles voorsorg getref, net nie vir die dood nie, en nou moet ek volkome onvoorbereid sterf” (Ongelowige Kardinaal Cesare Borgia op sy sterfbed).

 

Gebed: Here, in hierdie Lydenstyd het ek opnuut weer besef wat dit kos om U te volg. Gee my die krag om my kruis op te neem wanneer dit van my gevra word. Ja, ek weet dit is nie maklik om ‘n getroue volgeling van U te wees nie, maar U het reeds die moeilikste gedeeltes van my kruisweg, vír my geloop. Nou kan ek U volg met dankbaarheid. Amen.

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page