top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 19 Maart 2024

Koos Espach


Paulus vertel van sy bekering (2)

 

Jesus se woorde

 

Hand. 22:6-7 – “Terwyl ek op reis was en naby Damaskus gekom het, het daar teen die middag skielik ‘n sterk lig uit die hemel op my gestraal. 7 Ek het op die grond neergeval en ‘n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy my?”

 

Baie formeel en hartlik spreek Paulus die skare aan as manne, broers van sy eie ouderdom, en vaders, wat ouer as hy is. Paulus op die trappe van die Romeinse kaserne in Jerusalem, kom in ekstase wanneer hy die wonder van sy bekering deurleef! En hy getuig met al die krag van die Gees met innerlike oortuiging en besieling.

 

Paulus vertel ter verdediging van homself, van die helder lig wat hom omstraal het op die middaguur, by implikasie was dit ’n baie sterker lig as die middagson! Die lig uit die hemel terwyl hy op pad was na Damaskus, was op hom. Dit was só sterk dat dit hom in sy spore gestop het en meegewerk het om sy hele lewe om te dop. Hy het op die grond geval en ’n stem gehoor wat vir hom sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ Die Christen-vervolger moes terugdeins, want dit was die lewende Christus wat met hom gepraat het, die verhoogde Christus uit die hemel.

 

Maar Paulus op die trappe, was nou ‘n man van Jesus Christus wat nie teruggedeins het vir sy vervolgers nie. Te midde van die haat van sy volksgenote hier in Jerusalem, moes hulle weet, vervolging van Christene, soos deur ‘n onbekeerde Saulus, is ook vervolging van Christus self. Hy woon immers in sy volgelinge: “As iemand My liefhet, sal hy My woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon” (Joh. 14:23). Vir Paulus se hoorders moes dit ook ’n waarskuwing uit die hemel wees.

 

Ek en jy is eintlik in ‘n baie bevoorregte posisie. Ons hoor God se woord feitlik daagliks, of liewer, ons kan dit feitlik daagliks hoor indien ons sou belangstel om net ‘n radio of die TV op ‘n Christelike kanaal aan te skakel. Of nog beter, ons Bybel oop te maak én te lees. En sy woord kom na ons toe in ‘n taal wat ons verstaan. Maar die tameletjie lê egter in die “woorde ter harte neem”, soos Jesus dit stel. Nou is die aanhoor van God se woord nie meer so eenvoudig nie. Jesus daag ons spreekwoordelik uit om “sy woorde nie net ter harte te neem nie” maar daadwerklik dit toepas ook, soos Hy meld in sy Bergpreek: “Elkeen wat dan hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het” (Matt. 7:24).

 

Jesus se woorde moet as ons fondament dien – ons woorde, gedagtes, dade en hele lewe moet spreek daarvan! Dit sal ons lewenstyl verander. Sy woorde verwyder die idee dat Hy vir ons sondes aan die kruis kom sterf het en ons nou maar kan leef soos ons wil. Ons moet Sy woorde gehoorsaam en “daarvolgens handel.” Wanneer ons “daarvolgens handel,” sluit dit onder andere in, ‘n gehoorsaamheid wat sy oorsprong het in ‘n wedergebore hart – iemand wat “saam met Christus lewend gemaak is” (Ef. 2:5b); iemand wat “deur God na Jesus toe getrek is” (Joh. 6:44); iemand wat hom- of haarself vir die Heilige Gees oopgestel het en voel dat jy volgens Sy wil moet optree.

 

Ons glo in Christus want ons wil, nie omdat ons gedwing word nie. Dan word 1 Johannes 5:3-5 wáár in ons lewe: “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons Sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning is deur ons geloof, hy wat glo dat Jesus die Seun van God is” (1 Joh. 5:3-5). Hierdie gehoorsaamheid is opreg en dit verheug God – dit is gebou op die rots-fondament en dit maak my en jou Rotsmense!

 

“Daar is twee soorte vryheid: die valse een waar jy kan doen wat jy lus het; en die ware vryheid waar jy vry is om te doen wat jy vir Christus Jesus met jou hele hart, behoort te doen” (Charles Kingsley).

 

Gebed: Here Jesus, ek wil só graag U woorde ter harte neem, ek wil saam met die verstandige man my huis op die rots-fondament bou want U is vir my die Ware Werklikheid! Maar ai, U weet hoe sukkel ek daarmee. “Laat my leef op die weg wat U aanwys” (Ps. 119:37). Laat my te alle tye met wysheid optree, tot eer en verheerliking van u Naam. Amen.

 



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page