top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 14 Maart 2024

Koos Espach


Paulus verdedig homself (2)

 

Vryheid van spraak

 

Hand. 21:40 – “Die kommandant het ingewillig, en Paulus het op die trap gaan staan en met sy hand vir die mense gewys om stil te bly. Toe dit baie stil geword het, het hy hulle in Hebreeus toegespreek.” (1)

 

Die Romeinse kommandant, wat gereken het dat hy met ’n gevaarlike oproermaker te doen het en Paulus daarom met kettings geboei het, was verbaas om uit te vind dat Paulus eintlik ’n beskaafde en ontwikkelde Jood was. Hy staan Paulus se versoek toe om die opruiende skare wat hom wou vermoor, toe te spreek. Paulus het met sy hand vir die oproerige volk wat hom uit die hande van die soldate wou skeur, beduie om stil te bly sodat hy kan praat. En wonder bo wonder het daar ’n groot stilte oor die skare gedaal en het hy hulle in Hebreeus toegespreek.

 

Wat gebeur eintlik hier? Alles verander toe almal begin luister na mekaar! Eers die kommandant én dan die Jode luister en hoor woorde wat groot ongelukkigheid en onduidelikheid uit die weg ruim. Die les vir ons: Net om met mekaar kontak te maak, ‘n bietjie stil te bly en te luister, kan ons ontdek dat ons vooroordele soms op onwaarhede gegrond is. Daar is ‘n spreekwoord wat sê mense kan dalk dink jy is ‘n dwaas as jy niks sê nie, maar bewaar jou siel as jy te vinnig praat en alle twyfel uit die weg geruim word. As die woorde eers by jou mond uit is, kan hulle nie herroep word nie.

 

Ons moet oppas wat ons sê, want van elke onbesonne woord wat ons kwytraak, sal op die oordeelsdag teen ons gebruik word. Vir elke onverskillige woord wat ons uiter, sal daar eendag rekenskap geëis word van elkeen van ons afsonderlik. En dis nie wat ek sê nie, Jesus sê so: “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word” (Matt. 12:36-37). Jesus bedoel nie dat ons nooit moet ligsinnig wees en lag nie, ons behoort net versigtig te wees dat ons ligsinnige woorde nie net ons eie lewe verrinneweer nie, maar ook ander mense s’n verruïneer.

 

Jesus se broer Jakobus, eggo Jesus se woorde deur ‘n beroep op ons gelowiges te doen om ons tong te beheer. “Geen mens kan die tong tem nie. Dit is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif” (Jak. 3:8), sê Jakobus met reg. Na al die eeue wat hy hierdie stukkie waarheid aan die eerste geslag Christene gerig het, is die tendens in baie opsigte, vandag steeds dieselfde. Ons woorde verander in messteke, dit maak seer en breek jarelange vriendskappe op. Selfs huwelike word verwoes deur fatale woorde wat uitgeglip het. Dit is deesdae aan die orde van die dag dat openbare figure moet betoog dat hulle “buite konteks” en foutiewelik aangehaal is. Verskeie mense het al hulle loopbane verwoes deur ‘n onbesonne uitspraak of ‘n gewraakte woord te uiter teenoor ander bevolkingsgroepe.

 

Jakobus reken ook dat in die tong ’n “rustelose kwaad, vol dodelike gif” setel. Die tong besit ‘n soort onbestendige boosheid wat onvoorspelbaar is en vyandskap aanblaas. Paulus vat dit nog ‘n stappie verder: “Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid” (Rom. 3:12b-14). Die tong is voorwaar ’n gevaarlike instrument wat onheil, ongeluk, dood en verwoesting kan saai onder die mense, veral wanneer dit verkeerdelik aangewend word!

 

“Geen mens kan die tong tem nie!” Maar ... God kan! Dít is die verskil! God wil nie dat die mens wat Hy net laer as die hemelwesens geskep het, mekaar vermoor met die tong nie. Ons is broers en susters van mekaar want ons is God se kinders, almal deel van God se gesin. God wil deur Sy Gees ons uit hierdie gemors waarin ons in ons huwelike, verhoudings en selfs die kerk verval het as gevolg van ons tonge, verlos. Wanneer ek en jy eerder sorgvuldig nadink oor dit wat ons wil sê, kan ons “praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit ons hoorders ten goede kan kom” (Ef. 4:29). Kom ons vra die Heilige Gees om ons te help en ons tonge aan te raak en die aard en inhoud van ons woorde verander sodat ons mense opbou, in plaas van hulle te vernietig of seermaak met ligsinnige woorde.

 

“Die tong is maar 80 millimeter lank maar kan ‘n man van 2 meter doodmaak” (Japanse spreekwoord). 

 

Gebed: Here, saam met Dawid wil ek vir U vra: “Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê” (Ps. 141:3). Weerhou my asseblief daarvan om beheer te verloor wanneer ek praat. Laat my eerder my woorde weeg as om dit te tel. Gee dat die woorde wat ek uiter, altyd vir U tot eer sal strek. Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page