top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 13 Maart 2024

Koos Espach


Paulus verdedig homself (1)

 

Waardevolle stene in God se huis

 

Hand. 21:37-39 – Net voor hulle Paulus die kaserne wou inbring, sê hy vir die kommandant: ‘Mag ek u iets vra?’ Daarop sê die kommandant: ‘Ken jy Grieks?’ 38 Dan is jy nie die Egiptenaar wat ‘n rukkie gelede in opstand gekom en met vier duisend terroriste die woestyn in getrek het nie?’ 39 Daarop antwoord Paulus hom: ‘Ek is ‘n Jood van Tarsus in Silisië, ‘n burger van ‘n belangrike stad. Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek.” 

 

Weg van die grypende hande van die Jode wat hom wil doodmaak, kry Paulus uiteindelik kans om iets te sê. Beleefd, en in die taal van fynbeskaafdes van daardie tyd, vra Paulus die kommandant in Grieks, of hy hom iets mag vra? Die kommandant was verstom toe hy Paulus hoor Grieks praat. “Dan is jy nie die Egiptenaar ...?” Paulus verduidelik dat hy nie ’n Egiptenaar is nie, maar ’n Jood, ook nie van Egipte nie, maar van die Romeinse stad Tarsus in Silisië, ’n belangrike kultuur- en intellektuele stad. Nou verstaan die kommandant glad nie waarom die Jode so hewig ontsteld is nie. Boonop vra Paulus om hulle toe te spreek – en hy praat Hebreeus met hulle.

 

Paulus kom uit ‘n groot wêreld. Dit is trouens waarom hy sulke goeie Grieks in sy Briewe kon skryf en ook effektief op sy sendingreise met die Griekssprekende Jode en Griekssprekende heidene kon kommunikeer. Hy het beide groepe se taal, kultuur en godsdiens geken. Ondanks daarvan, wanneer hy sy agtergrond hier aan die kommandant beskryf, begin hy met: “Ek is ‘n Jood ...!” ‘n Jood wat voluit ‘n volgeling van Jesus was. Uiteraard het dit heelwat gevolge vir hom ingehou.

 

Hy moes sy eervolle naam van Saulus weggee en Paulus word nadat hy as wetsgehoorsame Fariseër vir Christus ontmoet het. Trouens, alles wat eens vir hom belangrik was, het hy as ‘n klomp gemors beskou (Fil. 3:7). Sy doelwit om Christus te eer het hom baie lyding en vervolging meegebring. Tronkstraf, beledigings en lyfstraf was sy voorland, maar hy het nie omgegee nie. Voor hom het die wenpaal gelê, die ewige lewe saam met Jesus Christus (Fil. 3:14).

 

In Fil. 3:17 roep Paulus ons op om sy navolgers te wees om dan ook die groot hemelse prys te ontvang. Ons moet net bereid wees om, soos hy, al die gemors wat besit geneem het van ons lewe, ter wille van Jesus prysgee. Petrus het dieselfde uitnodiging aan ons gerig in sý Brief. Om by Jesus uit te kom, versoek hy ons om ons lewe skoon te maak en ontslae te raak van al die slegte en oneerlike dinge in ons lewe. Dan gebruik hy ‘n voorbeeld wat sy oorsprong het in die Ou Testament van ‘n huis wat gebou word. Eeue gelede is daar voorspel dat ‘n hoeksteen gelê gaan word in God se nuwe wêreld – die wêreld waarvan ek en jy deel sal wees (Jes. 28:16).

 

Jesaja se voorspelling het waar geword in Betlehem en is bevestig op Golgota en die leë graf - “Ons lees in die Skrif dat God lank gelede al gesê het: “Kyk mooi, in Sion bou Ek ’n steen in. Ek self het die steen gekies en dit op die belangrikste plek in die hele gebou gesit. Iemand wat op dié steen vertrou, sal nooit daaroor jammer hoef te wees nie” (1 Petrus 2:6 – Die Boodskap). God het ’n nuwe huis beplan. Die huis van die Ou Testament met sy baie reëls moes opgeknap word. Nee, eintlik moes die hele gebou afgekap word en oor gebou word. Totaal nuwe planne.

 

God se nuwe huis lyk heel anders en hiervoor het God ’n besonderse hoeksteen nodig gehad waarop al die volgende stene gebou sou word. Jesus was die uitgekose een. Hy het Sy lewe neergelê as die eerste steen van God se nuwe huis. Maar ’n huis word nie met slegs een steen gebou nie, baie stene is nodig. Elke gelowige is een van die stene van God se huis. Ons elkeen speel ’n baie belangrike rol in God se huis. As ons dit nie doen nie, is God se huis nie voltooid nie. Ons besef nie altyd die rol wat ons moet speel nie. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om seker te maak dat God se huis reg lyk en dat daar nie gate in is wat veroorsaak dat die mense binne koud kry nie.

 

Dis eintlik ’n groot voorreg om saam met Jesus die huis van God te bou. Ja, God ag ons elkeen so hoog dat Hy ons toelaat om deel te wees van Sy huis. Omdat Jesus die hoeksteen is, ontvang ons elkeen waarde en is ons goed genoeg om ingebou te word. Op ons eie is ons te krom en skeef. Dit is slegs omdat ons langs Jesus ingebou word, dat ons waardig word. Wanneer ons dan swak is, wanneer ons dan dink ons maak dit nie, steek vas op die trappe soos Paulus, en kondig aan dat ons langs Jesus ingebou is en juis daarom groot waarde het. Laat ons dan as waardiges waardevol gaan lewe. Laat ons ’n verskil maak, waar ons waarde toevoeg in God se nuwe huis. Laat ons die mense wat in die koue is, gaan wys hoe waardevolle stene in God se huis kan lewe. Laat hulle jaloers raak oor ons wat so naby Jesus ingebou is, sodat hulle op die ou end ook hul intrek kom neem as lewende stene in God se huis.

 

“Man's imperfection could never satisfy God's perfection; nothing that man could do could even begin to repay what God has done for him” (William Barclay).

 

Gebed: Vader, dankie dat ek op Jesus, die lewende hoeksteen kan vertrou. Ek wil by U aanleun met absolute vertroue in U Goddelike almag en goedheid en ek wéét, om in Jesus Christus te glo, sal ek nooit beskaamd staan nie. Ek bid vir elkeen wat nog in die donkerte en buite in die koue van ongeloof staan, om aan U beloftes vas te hou en hulle ook hul intrek kom neem as lewende stene in U huis. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page