top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 12 Maart 2024

Koos Espach


Paulus word by die tempel gevange geneem (6)

 

Klim agter die gordyn uit

 

Hand. 21:35-36 – “By die trap van die kaserne het die gepeupel so saamgedrom dat die soldate Paulus moes dra, 36 want al die mense het agterna geloop en geskreeu: ‘Weg met hom!” (2)

 

Vergelyk ook Heb. 10:19-20 – “Broers (en susters), ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20 en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.”

 

Paulus as die gestuurde van Christus, is in die moeilikheid. Jode, sy eie mense, is op die punt om hom van kant te maak soos wat hulle voorgangers, in die verlede baie profete doodgemaak het – selfs die grootste Profeet van alle tye, Jesus Christus. Die skare skreeu deurmekaar, miskien het baie, net soos in Efese (19:32), nie eers geweet waaroor alles gegaan het nie. Rome het die moord voorkom, maar ook boeie aan Christus se gesant gesit terwyl hulle hom weglei na hulle kaserne toe. Soos tydens die verhoor van Jesus, het die Jode ook agterna geloop en geskreeu: “Weg met hom!” Wat prakties daarop neerkom dat die leer van Jesus Christus nie aanvaar word nie.

 

Maar, hier het die Here weer op ‘n kritieke oomblik ingegryp om sy getroue getuie uit die hande van die Jode te red. Die boodskap aan die gelowiges van Paulus se tyd, en daarna, is nog nie afgehandel nie. Wanneer Lukas daarom in Hand. 1:1 sê dat hy in sy eerste verhaal, (Die Evangelie volgens Lukas), geskrywe het oor alles wat Jesus begin het om te doen en te leer, is dit duidelik dat hy van plan was om in sy tweede boek te beskryf wat Jesus voortgegaan het om te doen ná sy hemelvaart.

 

Handelinge as Lukas se tweede boek kan dan ook gesien word as die handelinge van die verhoogde Christus, of, aangesien Christus deur die Gees werk, as die handelinge van die Heilige Gees. Die primêre doel van Handelinge sou ons dan kan sien as ’n beskrywing van die ontstaan en groei van die kerk en die verspreiding van die evangelie van Jerusalem af tot Rome, deur die werking van die verhoogde Christus en die Gees. Vir hierdie doel is die apostels en gelowiges as instrumente gebruik. Die Jode van destyds kon wel skreeu Jesus en Paulus en baie ander profete moet “weg”, maar hulle het juis die weg gebaan vir ons, die weg van die Lewe ná die lewe.  

 

Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die gordyn in die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die Boodskap-vertaling sê dit so mooi: “Ons het gesê dat daar tussen die twee kamers in die Heilige plek ’n gordyn gehang het. Jesus se liggaam kan met dié gordyn vergelyk word. Die gordyn van Jesus se liggaam is geskeur om so ’n nuwe pad na die lewe saam met God oop te maak” (Heb. 10:20).

 

Dink hoe groot diegene wie Jesus uit die weg wou ruim, se monde moes oopgehang het toe hulle vir die eerste keer sien wat agter daardie gordyn aangaan. Hulle kon seker nie hulle oë glo nie. Versigtig het hulle oor die hope swaar materiaal getrap om ook daar te kon ingaan waar die hoëpriester slegs een keer per jaar kon in. En hier stap hulle nou. Hulle kan ook nou by God uitkom. Watter nuwe pad het die skeur van die voorhangsel nie vir hulle oopgemaak nie!


Dis vir ons moderne mense moeilik om ons in te dink wat deur daardie tyd se mense se koppe moes gaan. Vir die heel eerste keer is die God van ver, naby hulle. Vir eens en vir altyd is die kerk se fondasie só geskud, dit sou nooit weer dieselfde wees nie! En dit was nie net vir hulle van 2 000 jaar gelede, beskore nie! Van daardie dag af, stap ons gelowiges op ’n nuwe pad – die pad wat Jesus vir my en jou kom oopsterf het. Net soos Sy liggaam geskeur en gebreek is, is die gordyn wat die mense weggesteek het van God, geskeur. Nooit weer hoef ons diere vir ons sondes te offer nie. Nooit weer hoef die hoof van die kerk agter ’n gordyn in te gaan om met God te praat nie. Gewone mense soos ek en jy, kan sommer nou sélf met God praat.


Toe Jesus daardie dag aan die kruis gesterf het, het dinge vir my en jou verander. Hy het daardie dag sélf, ons Hoëpriester geword en gesorg dat ons as verloste mense vrye toegang tot God kon kry – “hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.” Is dit nie wonderlik dat daar niks is wat die pad tussen ons en God versper nie? Jesus het van God se kant af die opening kom maak op daardie Goeie Vrydag. Sedertdien kan ek en jy met vrymoedigheid na God toe gaan – die deur is vir altyd oop!

 

Die vraag is egter of ons wel hierdie nuwe roete wat Jesus vir ons oopgesterf het, wil loop? Leef ek en jy gedurende hierdie lydenstyd, ’n lewe agter die gordyn wat ons eintlik wegsteek vir ander, of leef ons ’n lewe waar ons vry is van ons sondelas en waar ons nie bang is om in die wêreld daar buite ons ware kleur te wys nie? Wanneer ek en jy in Jesus vasloop, kom ons agter die gordyn uit. Dan leef ’n mens anders. Dan kom ander agter dat ons anders is. Die vraag is: Leef ek en jy anders omdat ons agter die gordyn uitgeklim het en het Jesus se skeur van die gordyn vir my en jou op ’n nuwe pad laat loop?


“Ons het God nie gevind nie; Hy het ons gevind. Godsdienste oraloor leer hoe die mens God kan vind. Die Christelike evangelie is die enigste wat die geheim ontdek het dat God die mens kom vind het”

(E Stanley Jones).


Gebed: Jesus, dankie dat U die gordyn geskeur het en ek nou direk by God kan uitkom. Dankie dat ek nie meer agter die gordyn hoef te staan nie. Help my tog op die nuwe paaie, dat ek oral U naam sal uitleef. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page