Gedagte vir Vandag
Vrydag, 8 Maart 2024
Koos Espach
Paulus word by die tempel gevange geneem (4)
Hemelse hulp wanneer ons die planke tref
Hand. 21:33-34 – “Die kommandant het na Paulus toe gegaan, hom gevange geneem en beveel dat hy met twee kettings geboei moet word. Daarna het hy probeer vasstel wie die man is en wat hy gedoen het. 34 Die skare het so deurmekaar geskreeu dat hy in die lawaai nie kon uitvind wat presies aan die gang is nie. Hy het toe beveel dat Paulus na die kaserne toe gevat moet word.”
Chaos breek los by die tempel in Jerusalem. Die Jode wil Paulus doodmaak want hy is die man wat hom verset teen hulle hoogheilige Moseswette en dan boonop ‘n Griek in die tempel ingebring en hulle heilige huisie verontreinig het. Voor sy bekering was hy een soos hulle, maar nou het hy verraad gepleeg om dié Jesus te volg wie hy verkondig en in wie hulle nie glo nie. Dit gee hulle die reg om hom dood te maak.
Paulus se lewe word egter deur die Romeine gered. Die soldate neem hom in hegtenis en soos ’n gevaarlike misdadiger word hy met twee kettings aan twee van hulle vasgeketting. As gevolg van die woedende Joodse skare, kon die kommandant nie mooi uitvind wat aan die gang is nie en hy laat Paulus onder begeleiding van die soldate, na hulle kaserne neem. Die Heilige Gees en Agabus se voorspelling van sy inhegtenisname in Jerusalem, word ‘n werklikheid. Maar, hier het die Here weer op ‘n kritieke oomblik ingegryp om sy getroue getuie deur die Romeinse soldate uit die hande van die Jode te red. Paulus kon met oortuiging daarvan skryf – “Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered” (2 Tim. 3:11).
Paulus skryf aan die jong Timoteus: “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Tim. 3:11), en dan voeg hy ‘n stukkie eerlikheid by dat “slegte mense nie beter nie, maar erger gaan word” (v.13). Nee Paulus man, klink nou asof jy ons wil wysmaak dat wanneer ons erns maak met die Here se werk, dit nie altyd voor die wind met ons sal gaan nie. En dan voel ’n mens darem nie lekker hieroor nie, want sekerlik kan ons ’n bietjie voorkeur behandeling ontvang? Dink julle lesers nie ook so nie?
Wel, as daar nou een ou is wat regtig sy bes gegee het vir God se dinge, dan is dit Paulus. Maar selfs hy kry nie die binnebaan nie. Inteendeel, hy het werklik swaar gekry. Hy was ’n hele paar keer in doodsgevaar. Mense het hom geslaan, gevloek, in die tronk gegooi, gestenig, verneder en uitgestoot tot op die rant van die lewe. Hy het werklik vir mense omgegee en al wat hy wou doen ten koste van enigiets, selfs ten koste van sy eie lewe, mense help en hulle red van die ewige vuur.
Eintlik sou ons graag wou sien dat die held van die Christendom darem net ’n paar voorregte sou ontvang. Eintlik, soos in die flieks, dat ou Paulus darem so nou en dan by ’n oase kom om weer krag te skep vir die volgende Joodse-hindernis op sy pad. Hy verdien dan immers ’n bietjie gelyk pad. Maar dit gebeur nie so nie. Dietrich Bonhoeffer, bekende Duitse teoloog, het gesê wanneer God jou roep, roep Hy jou om te kom sterf. Paulus het dit geweet en aan sy lyf gevoel. Hy kon in die tronk sit, want Hy het geweet dat God daar saam met hom was. Hy kon die seermaak van ander mense vat, want Hy het geweet dat daar nie ’n haar op sy kop sal roer as God dit nie so wil nie. Paulus het kans gesien vir enige hindernis wat voor in sy pad gesit is, want hy het geweet God sal hom in elkeen van hulle bystaan.
Nou wonder ek, sou ek daartoe bereid wees? Sal ek ter wille van die evangelie en my liefde vir Jesus deur al die dinge gaan waardeur Paulus gegaan het? En jy? Sou of sal jy? Op ons eie, nee! Op ons eie sal ons dit nie maak nie en sal ons seker met die eerste bultjie tou opgee en vir Jesus soos Petrus verloën. Uit ons eie is ons te pap om enige windjie van voor te trotseer. Ons kan dit net nie self doen nie. Gelukkig hoef ons dit nie op ons eie te doen nie. Hier is darem ook ’n stukkie troos en hulp vir die taak wat vir ons elkeen opgelê is: “Watter vervolging (ons ook al moet) verduur! Die Here (sal ons) uit almal red” (2 Tim. 3:11) soos vir Paulus.
Ons hoef dus nie moedeloos word nie. Dankie tog dat ons dit nie uit ons eie hoef te doen nie. Dankie tog dat God self vir ons sorg. Dankie tog dat God ons hande neem en ons deur, en oor die hindernisse in ons pad neem. God self neem ons hande en stap saam met ons die donker in. Dit is seker nie goeie nuus om te weet dat ons nie altyd die maklike pad het om deur die lewe te loop nie. Eintlik wil ons ons onderlip so effe opblaas en sê dit is onregverdig, maar kom ons maak tog maar vrede daarmee.
God weet die beste. Hy weet dat ons nie lekker leer op die teerpaaie nie. Hy weet dat ons meer van die lewe leer op die grondpaaie. Hy weet dat ons oë eintlik eers vir ander mense oopgaan waar ons spoed gebreek word op die grondpad. Hy weet die beste. Gelukkig weet ek en jy en Paulus dat ons die pad nooit alleen hoef te stap nie. Waar ons ook al swaar dra, ons dra nie alleen nie. Ek en jy kan God vertrou om ons hierdeur te help!
“Dit is alleen met God se hulp en deursettingsvermoë dat die slak ook die ark gehaal het” (Charles Spurgeon).
Gebed: Liewe Heer, ek is nie altyd so seker of ek staande sal kan bly onder die druk van die lewe nie. Soms is die dinge vir my net te veel en wankel my bene erg. Dankie vir die belofte dat ek nie alleen teen die lewe hoef op te staan nie. Saam met Paulus kan ek nou u beloftes as betroubaar, met my hele lewe glo. Dankie Here dat U saam met my deur die lewe loop en elke hindernis verwyder. Amen.
Comentarios