top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 7 Maart 2024

Koos Espach


Paulus word by die tempel gevange geneem (3)

 

Vat die stampe en stote


Hand. 21:31b-32 – “’n Boodskap is toe na die kommandant van die Romeinse garnisoen  toe gestuur dat die hele Jerusalem in oproer is. 32 Hy het onmiddellik met soldate en offisiere na die oproer toe gehardloop. Toe die skare die kommandant en sy soldate sien, het hulle opgehou om vir Paulus te slaan.”


Die Jode wou Paulus doodmaak. Genadeloos word hy uit die tempel gesleep. Omdat hulle geen wapens gehad het nie, het hulle hom met vuiste en stokke geslaan. Voete sou ook getrap en geskop het, want hy was op die grond. Intussen is die kommandant, (offisier oor duisend man), van die Romeinse garnisoen van die oproer verwittig. Die Romeinse garnisoen was direk langs die tempel gevestig in kasernes wat as ‘Fort Antonio’ bekend gestaan het. Die Romeinse garnisoen was verantwoordelik om wet en orde in Jerusalem te handhaaf, daarom het die kommandant, Claudius Lisias, dadelik met soldate en offisiere na die oproer toe gehardloop.

 

Toe die skare die Romeine sien, het hulle opgehou om vir Paulus te slaan. Rome se mag, volgens die beskikking van God, red hier ook soos tevore in Korinte en Efese, Paulus uit die hande van sy landgenote. Paulus het dit nie maklik gehad nie. Oral waar hy gegaan het, het hy die Jode, sy landgenote, kwaad gemaak en moes hy onder hulle hande, ontberings verduur. Oral moes hy probeer koes wanneer die mense agtergekom het hy is ‘n Christen. Maar hy het volhard met sy prediking en die lyding verdra.

 

Dit is nou maar eenmaal die prys wat dit kos om ‘n Christen te wees. Ontberings, teenslae en moeilikheid is deel van die oproep van Jesus dat ons toegewy aan Hom moet wees. Maar, ten spyte van al die slegte dinge wat soms op ons pad kom, weet ons mos ons is nie alleen nie. In sulke tye is die Heilige Gees steeds aan die werk, Hy is ons Advokaat, Helper, Trooster en Ondersteuner. Iemand het gesê die Gees is die sakdoek waarmee God al ons trane afdroog as ons die dag huil en die elastoplast waarmee Hy die wonde verbind wanneer ons val en seerkry. Mooi né! Wat die Gees egter nié is nie, is ‘n towerstaf wat elke stukkie moeilikheid eensklaps in ‘n stukkie paradys verander. Stephan Joubert voeg by dat die Gees nie versekeringspolisse uitreik waarin Hy ons ‘n gemaklike pad hemel toe waarborg nie.

 

Hoekom is dit so maklik vir ongelowiges om Christene te haat en te beledig? Wat is dit dat Christen-regverdigheid, ongelowiges laat aanstoot gee en selfs laat verag? Omdat Christene anders is as die wêreld! “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle (1 Pet. 4:3-4). Hulle is kwaad omdat hul pelle nie meer saam kuier nie en beskou die pelle selfs as dwase wat die “lewe” verruil het vir ‘n onsienlike God.

 

Dit is vir die kerk van die Here belangrik om by voorbaat te besef dat ons die teiken van die haat van die wêreld is. Deur al die eeue heen gebruik ongelowiges verskeie metodes om te probeer om die kerk van Jesus Christus te vernietig. Haat vererger wanneer daar nie gedeel word in ander se korrupte lewenswyse nie. ‘n Broer-in-misdaad maak dit makliker om te erken dat “almal dit tog doen.” Die ongelowige staan dan skielik alleen wanneer “almal” Christene is of word. Die haatdraendes se gode is hul sondige wellus en dit skei hulle van die “skynheiliges.” In die kragtige teenwoordigheid van die Gees moet die wêreld kan agterkom dat hulle nie aan die kant van God staan nie. Iemand wat nie aan God wil behoort nie kan maar weet dat hy of sy veroordeel is. Skrikwekkend!

 

Ek en jy kan saam met Paulus bely, die Here hou nie aan met stap wanneer ons voete vashaak aan die ontberings van die lewe en ons hard met moederaarde kennis maak nie. Hy draai elke keer om en laat sy Gees ons ophelp en ons stukkende plekke verbind. Ja, daar is nie ‘n maklike pad hemel toe nie. Paulus, onder andere, het dit vir ons gewys. Maar, ten spyte van al die stampe en stote en curveballs, moet ons toegewyd bly aan Christus. Ons eindbestemming is gelukkig gewaarborg. Daarom is dit die moeite werd om standvastig te bly en te volhard in die geloof in Jesus Christus ons Here.

 

“Dit help nie om blydskap te agtervolg nie, dit is iets wat vanself na jou toe kom as jy met jou lewe na God gegaan het” (Horace Bushnell – 1802-1876). 

 

Gebed: Here, help my om my ontberings te dra soos ‘n getroue volgeling van U. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page