Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 5 Maart 2024
Koos Espach
Paulus word by die tempel gevange geneem (1)
Leef in die nuwe bedeling
Hand. 21:27-29 – “Toe die sewe dae van die reiniging byna om was, het Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel gesien. Hulle het die hele skare aangehits en vir Paulus gegryp. 28 ‘Israeliete, kom help!’ het hulle geskreeu. ‘Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig.’ 29 Hulle het dit gesê omdat hulle vantevore vir Trofimus van Efese saam met Paulus in die stad gesien het en gedink het dat Paulus hom in die tempel in geneem het.”
Die diplomatiese plan van Jakobus dat Paulus hom by vier mans wat die nasireërgelofte afgelê het, aansluit in die reinigingshandeling, en te betaal vir die koste van die offers, verloop nie volgens hulle plan nie. Die Jode uit Asië wat vasklou aan die wet en nog nie van hulle ou tradisies afgesien het nie, sien Paulus by die tempel. In hulle oë is hy die verraaier van sy volk en die wet en die tempel. Haat van die vyandige Jode sien skerp, maar dink sleg. Hulle het Paulus in Jerusalem met Trofimus van Efese gesien, ‘n heiden, hulle verbitterde ‘vyande’.
En nou sien hulle Paulus weer in die tempel. Iemand het gesê dat haat word nie geondersoek nie, die mens is reeds vasbeslote oor sy besluit! Paulus moet dit ontgeld – hy is ‘n tempelskender, hy het ‘n Griek in die tempel ingebring – hy het “hierdie heilige plek ontheilig.” Dadelik word met ‘n geskreeu, hulp ontbied – en ons het nou al gesien, oral waar Paulus besig was tydens sy sendingreise, kán die Jode ‘n groot lawaai maak – “kom help! Ons heilige huisie is ontheilig deur hierdie man wat die wet van Moses en ons volk aanval.”
Ons het gister gesien dat ons reeds die saligheid het in Christus. Die vraag is nou hoekom wil sommige mense steeds vandag terugbeweeg na die Ou-Testamentiese vorm van aanbidding? Sentraal daarin was die wet, die tempel, die priesters, die Sabbat, en die verskillende feeste en gepaardgaande offers, die besnydenis – alles wat deur Christus vervul en vervang is. Ons leef mos “in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie? (Rom. 7:6). Adrio König skryf in sy boek “Paulus”, dat sulke mense die horlosie wil terugdraai na die tyd vóór die kruisiging en opstanding van Jesus, vóór die koms van die Gees. Dan verruil hulle die Jesus wat klaar in sy heerlikheid gekom het (Kol. 2:16-17), om terug te keer in die skaduwee van die sonde.
Ons Christene van vandag, kan nie bekostig om terug te keer na die Jerusalemgemeente se gesindheid van destyds nie. Hoekom nie? Hulle het die kernaspek van die Jesusnavolging van die hand gewys, en daarmee saam verskeie ander Jesusbeginsels. Hulle het geweier om die vryheid in Christus te aanvaar. Paulus skryf in sy briewe, ek en jy wat in Jesus Christus glo, is al klaar volledig deel van Jesus se geskiedenis aan die kruis – saam met Hom gekruisig, gesterf, begrawe, saam met Hom opgewek en saam met Hom verhoog (Ef. 2, Kol. 23 en Rom. 6).
Vergelyk ook Kol. 3:9-10 – “Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.” Ons opstanding in Jesus is nie iets, iewers vorentoe wat ééndag gaan gebeur nie. As ons só redeneer dan leef ons eintlik om dood te gaan, om dan ééndag, weer te kan opstaan. Wat gebeur nóú, terwyl ons leef, wat is die nut van Jesus se opstanding vir die nóú en die híér? Paulus gee vir ons die antwoord in Kol. 3:9-10. Soos ons eendag sal sterf en opstaan, so moet ons elke dag sterf en opstaan – ons moet dus elke dag die ou mens met sy slegte gewoontes en sondes begrawe, en as ‘n nuwe mens soggens opstaan, Christus moet al hoe meer word totdat Hy volkome alles vir ons is.
Ons is dood vir die sonde. Ons leef saam met Jesus in ‘n nuwe lewe want ons is saam met Hom opgewek. Dit gaan oor ʼn lewende verhouding met Hom as persoon. Ons “bly” immers saam met Hom – “Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee” (1 Joh. 4:16). En omdat ons so saam woon, weet Hy presies wat ons dink en doen en voel, veral oor Hom. Om bewustelik in die Here Jesus te bly, beteken om elke dag deur Sy Woord en Gees gevoed te word, elke dag in Sy teenwoordigheid te wandel. Daarom kan ons saam met Paulus jubel dat ons meer as oorwinnaars is. Ons word dit nie eers eendag nie, ons is reeds dit. Ons spring nie elke dag soos ‘n hekkiesatleet weg wat eers oor ‘n lang lys sondes moet spring voor ons by die wenpaal kom nie. Ons begin elke dag by die wenpaal, waar Jesus staan!
“Jou skatkamer is binne-in jou wanneer Jesus Christus in jou bly. Dit bevat alles wat jy ooit sal nodig hê. Gebruik dit ten volle in plaas daarvan om nutteloos buite jouself te soek” (Onbekend).
Gebed: Here, dankie vir Paulus se verhaal van onversetlike mense wat nie wil toegee aan verandering nie. Dit laat my weereens besef hoe dankbaar ons kan wees dat ons die hele prentjie vandag ken. Dankie dat die ou-ek saam met U gekruisig is. Nou leef die sondige ek nie meer nie, U leef nou in my, en ek kan elke dag saam met U by die wenpaal begin. Amen.
Comments