Gedagte vir Vandag
Maandag, 4 Maart 2024
Koos Espach
Paulus besoek vir Jakobus (6)
Dis nie nodig vir Ou Testamentiese rituele, Christus is genoeg
Hand. 21:25-26 – “Ons het tog al vir die gelowiges wat vroeër heidene was, laat weet van ons besluit dat hulle nie vleis wat aan ‘n afgod geoffer is, en bloed en ’n dier wat verwurg is, moet eet nie, en dat hulle onsedelikheid moet vermy.’ 26 Die volgende dag het Paulus die manne geneem en die reinigingshandeling saam met hulle verrig. Hy het tempel toe gegaan en kennis gegee op watter dag die reiniging verby sou wees, wanneer die offer vir elkeen van hulle gebring sou word.”
Paulus word gevra om hom by vier mans wat die nasireërgelofte afgelê het aan te sluit in die reinigingshandeling en te betaal vir die koste van die offers. Hierdeur, sê Jakobus en die ouderlinge, sal die hele Jerusalem sien dat Paulus aansluit by die wet van Moses en die voorvaderlike gebruike. Hoewel Paulus self gesê het dat hy nie langer onder die wet van Moses lewe nie, maar onder die wet van Christus (1 Kor. 9:21), was hy bereid om hierdie versoenende gebaar te maak.
Die reinigingsseremonie behels volgens Numeri 19:12-13 dat die persoon op die derde en die sewende dag met reinigingswater besprinkel word. Die bereiding van die reinigingswater word in Numeri 19:2-9 beskryf. Aangesien Paulus uit ‘n nie-Joodse gebied in Jerusalem aangekom het, is hy as onrein beskou en kon dus nie aan enige godsdienstige aktiwiteite in die tempel deelneem nie. Daarom moes hy, volgens Joodse voorskrifte, ook gereinig word van sy omgang met die heidene tydens sy reise in die buiteland. Nadat Paulus die hele reinigingsseremonie saam met die vier manne deurgegaan het en vir hulle offers betaal het om hulle geloftetyd te beëindig, sou almal, die hele Christelike gemeente in Jerusalem, weet dat Paulus lewe volgens die voorskrifte van die wet van Moses en dat die skinderstorie oor hom nie waar is nie.
Die fout wat die Jode in Israel gemaak het, was om op hulle eie manier vryspraak te probeer kry, “hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie” (Rom. 10:4). Hulle het tevergeefs deur die onderhouding van die wet vryspraak probeer kry. Hulle het God se guns probeer wen om ‘n goeie lewe te lei deur die wet tot op die letter te onderhou, en eintlik nie besef dat hulle nóóit goed genoeg kan wees nie. Hulle was oortuig dat die betekenis van die wet juis was dat indien hulle die wet kon onderhou, God met hulle tevrede sou wees.
Wat Paulus hier wil beklemtoon, is dat Israel aan die wet ’n betekenis toegeskryf het wat God nie bedoel het nie, en so in wettisisme verstrik geraak het. “Hulle wou niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle het probeer om dit op hulle eie manier te kry” (Rom. 10:3), deur hulle te onderwerp aan wetsgehoorsaamheid. Hulle het hulle nie gesteur aan die feit dat geloof beteken om jou te onderwerp aan wat God uit genade in Christus met die mens wil doen nie. Hulle kon of wou nie insien dat Christus, in werklikheid die einddoel van die wet is waarvoor hulle hulle so beywer het nie.
Die skrifgeleerdes en Fariseërs het een beginsel onvolmaak aangegryp: God se wil moes in alles gesoek word en Sy volk moet hulle hele lewe daaraan toewy om dit toe te pas. Hulle getrouheid het gepaard gegaan met hulle uiterlike optrede – hulle het gedink hoe méér hulle kon dóén van die wet, hoe meer sal hulle vir God kan beïndruk – kwantiteit in plaas van kwaliteit! Hulle leerboeke van reëls en regulasies, volgens húlle interpretasie, het dikker en belangriker geword as die Woord van God – Jesus Christus! Hulle keuse was die regte een maar waar hulle verkeerd gegaan het was om die wil van God tussen húlle magdom mensgemaakte reëls en regulasies te vind.
Wat is dan die regte beginsel? “As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het” (Gal. 2:21). Het Christus dan nie vir ons die wet vervul nie? Waarom al die reëls as dit nie vir ons die saligheid inhou nie? Nee, die saligheid het ons reeds in Christus. Die regte beginsel is vir ons die reël van ons dankbaarheidslewe – dié een wat Jesus voor gekom het om “volle betekenis te laat kry.” Daarom kan die wet veeleer as ‘n blye boodskap gesien word en die bedoeling daarvan eerbiedig: Eerbied vir God; eerbied vir God se dag; eerbied vir ouers – vir lewe – vir eiendom – vir ander mense – vir die waarheid – vir jouself sodat verkeerde begeertes nie beheer van jou neem nie.
Hierdie eerbied en respek het Jesus kom vervul! God se wet is nie bedoel om neerdrukkend en knellend of selfs beperkend te wees nie. Die wet van God is die “padkaart” wat ons help om die lewe met vreugde te geniet, ‘n riglyn vir ‘n lewe wat vir God aanneemlik is en wat tot voordeel en geluk van ons as Sy verbondskinders is. Dit is nie die eer en respek wat aan ‘n magdom reëls en regulasies, moets en moenies en behoorts, gekoppel is nie, maar liefde, liefde vir God en liefde vir ons naaste. Ons moet ‘n sterke begeerte hê om soos Dawid, uit liefde vir God en uit dankbaarheid jeens Hom, elke gebod na te leef: “Om U wil te doen, my God, is my een begeerte ...” (Ps. 40:9).
“Die loon van die sonde is die dood. Goddank dat Jesus my bevry het voor betaaldag aanbreek”
(Reamer Loomis).
Gebed: Here, soos Dawid is my begeerte om uit dankbaarheid, elke gebod na te leef want ek was al met sonde belaai toe my moeder swanger geword het (Ps. 51:7). Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (Ps. 51:12). Laat U Gees my gedrag bepaal want ek behoort aan U. Dankie dat U my sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes, saam met U gekruisig het (Gal. 5:24-25). Amen.
Comments