Gedagte vir Vandag
Donderdag, 15 Februarie 2024
Koos Espach
VIII. Paulus se reis na Jerusalem
Hoofstuk 21 – Paulus reis Jerusalem toe
Paulus se reis na Jerusalem (1)
God se pad van lewe
Hand. 21:1-4 – “Nadat ons swaar van hulle afskeid geneem het, het ons aan boord gegaan. Ons het reguit koers gehou en by die eiland Kos aangekom. Die volgende dag het ons Rodos bereik en daarvandaan by Patara aangekom. 2 Daar het ons ‘n skip gekry wat na Fenisië toe sou vaar, en ons het aan boord gegaan en weggevaar. 3 Ons het Siprus in sig gekry en is aan die suidekant daarvan verby Sirië toe. In Tirus, waar die skip sy vrag moes aflaai, het ons afgeklim. 4 Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae by hulle gebly. Deur die Gees gelei, het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie.”
Paulus se gesprek met die ouderlinge van Efese op die strand van Milete is afgehandel. Hulle het hartroerend van mekaar afskeid geneem, saam gekniel en gebid. Paulus se bestemming is Jerusalem, en hy is haastig om daar te kom. Maar, in Rodos-hawe kon hy nie anders as om die 50m hoë songod Helios, nog een van die sewe wonders van die antieke wêreld, te aanskou nie. Nóg ‘n afgod, teenstrydig met die evangelie, maar kort daarna verwoes deur ‘n aardbewing. Afgode se tyd is kort!
Hulle vaar vanaf Patara voort op ‘n ander skip tot by Tirus waar die vragskip sy vrag aflaai, en Paulus-hulle die gelowiges in Tirus gaan opsoek. Nogal kontrasterend dat Paulus sewe dae by hulle bly. Die gelowiges daar se aanwesigheid was die gevolg van dieselfde Paulus se optrede in Jerusalem voor sy bekering. Sy vervolging van Jesus-volgelinge was daar só geweldig dat Stefanus met sy lewe moes boet en die Christene uit Jerusalem gevlug het na, onder andere Fenicië, Siprus en Antiogië (Hand. 8).
God se weë is wonderlik. Dieselfde Christene wat uit Jerusalem moes vlug as gevolg van Paulus, waarsku hom nou om nie Jerusalem toe te gaan nie. Selfs met Paulus se afskeid ná sewe dae, bid hulle saam met hom op die strand – gelowige mans, vroue en kinders, bid saam met die eertydse verwoesteraar van huisgesinne, Paulus. Maar deur die genade van God het die eertydse verwoesteraar, verander in ‘n Godsman wat gesinne in die Naam van Jesus Christus, saamvoeg. Hy stry nou saam met hulle die goeie stryd in die liefde van Jesus Christus.
Waar begin God se weë, kortom, God se pad? Johannes sê vir ons by Jesus Christus: “Ek is die weg, en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). Soos Paulus, lyk ons lewe maar ook soos ‘n padkaart met baie roetes wat kruis en dwars by mekaar verbyloop. Almal is op koers iewers heen. Party jaag voort op die hoofpad na roem en sukses. Ander sukkel voort en tref elke slaggat op die donker pad van lyding en swaarkry.
Die goeie nuus natuurlik vir my en jou, en elke gelowige in Jesus Christus, is dat ons nooit alleen op die lewenspaaie is wat verbrokkel as gevolg van een of ander terugslag, lyding, hartseer en selfs die dood nie. Ons word vergesel deur die Heilige Gees. Jesus het self gesê Hy sal ons Vader vra om ‘n Voorspraak te stuur om vir ewig by ons te wees, naamlik die Gees van die waarheid (Joh. 14:16). Ons is almal onderweg iewers heen. Al die roetes waarop mense hulle begeef, behalwe één, is egter doodloopstrate – maklike afdraai- en afdraandpaaie reguit hel toe.
Daar is net één pad wat ‘n goeie eindbestemming het. Ja, dis nie ‘n maklike pad nie, maar dis hoe die regte roete lyk wat ons hier op aarde moet bewandel, die roete wat Jesus vir ons voorhou in Matteus 7:13-14. Die roete van kruis opneem. Hoe kom ons op Jesus se pad? Jesus sê deur in Hom te glo. Punt! Jesus is die enigste “rigtingwyser” wat ons van die verkeerde weë waarop die meeste mense op aarde hulle bevind, kan laat afdraai. Slegs Hy kan my en jou op die pad van die lewe sit en ook daarop hou. Dit hang natuurlik van onsself af of ons daardie “rigtingwyser” wil gehoorsaam: “Gehoorsaamheid aan God lei tot die lewe, dit is ‘n pad wat nie na die dood lei nie” (Spr. 12:28).
Jesus het die pad van die lewe eiehandig gebou. Hy het ons kom haal waar ons tussen die slaggate en skeure van die sonde rondgedwaal het, daarom kan Hy seker ook die padreëls vir ons padgebruikers neerlê. Hy het ons ook gewaarsku sy pad is steil en nie oral maklik begaanbaar nie. Nêrens waarborg Jesus Hy gaan ons op ‘n maklike roete ‘saggies’ hemel toe lei waar, met respek, engeltjies langs die pad op hulle harpe speel nie. Inteendeel, ons bevind ons op ‘n gevaarlike pad as ons die padreëls van Jesus wil toepas. Maar, Jesus het klaar daardie gevaarlike pad vir my en jou geloop. Hy het elke struikelblok persoonlik verwyder. Hy het vir ons die Gees gegee om ons verder te begelei. Ons moet maar net ons oë gerig hou op Hom en na sy stem luister. Dan sal ons die eindbestemming veilig bereik – die eindbestemming wat die ewige lewe waarborg!
“Dat ons vandag, nóú leef, is die enigste tyd waarvan ons seker kan wees. Hoe kan ons dit dan verspeel? (Schopenhauer).
Gebed: Here Jesus, ek loof U dat U vir my die lewe moontlik gemaak het. Leer my daarom om sinvol te lewe, om my oë gerig te hou op U wat reeds namens my die gevaarlike pad gestap het. Help my om na U stem te luister. “Leer my U pad, Here, ek wil wandel in U waarheid” (Ps. 86:11). Amen.
Comentários