Gedagte vir Vandag
Vrydag, 9 Februarie 2024
Koos Espach
VIII. Paulus se reis na Jerusalem (Hand. 20:13-23:35)
Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland
Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (11)
Gee is beter
Hand. 20:33-35 – “Ek het niemand se geld of klere begeer nie. 34 Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. 35 Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”
Paulus som sy bediening op deur die ouderlinge daarop te wys dat hyself geen finansiële bymotiewe gehad het tydens sy drie jaar wat hy in Efese tussen hulle gewerk het nie. Hy het vir sy eie lewensonderhoud, en dié van sy helpers, gesorg deur as tentmaker met sy eie hande te werk. Hy staaf sy opmerking deur in hierdie verband ‘n onbekende woord van Jesus aan te haal – “om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.” Ons sien nêrens dat hierdie woorde in die vier Evangelies voorkom nie, en is alleen in Lukas se weergawe van Paulus se woorde aan ons bekend. Ons moet egter onthou dat baie van Jesus se woorde in die Evangelies, wel dieselfde strekking het. Ons kan dus met reg aanvaar dat die Here Jesus die woorde gesê het, want Johannes sê ook dat nie alles wat Hy gesê het, opgeteken is nie (Joh. 21:25).
In vandag se moeilike tye is daar mense wat goeie dade doen omdat dit hulle goed laat voel. Dit is vir hulle ‘n plesier wanneer mense hulle waardering uitspreek. Dan is daar weer mense wat in die geheim eerder wil gee. Die ontvanger(s) moet nie weet wie die skenker is nie – hulle wat wel Jesus se woorde toepas: “... jou linkerhand moet nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly” (Matt. 6:3). En dan, ongelukkig, is daar ook diegene wat meer van die lewe verwag as wat hulle gewillig is om daarin te sit. Alles moet tot húlle voordeel geskied terwyl hulle bakhand sit en wag.
Bogenoemde filosofie van soveel te neem as wat mens kan kry en om alles te behou wat jy het, is presies hoe die Fariseërs in Jesus se tyd op aarde, geoperate het. Hulle manier om liefdadigheid toe te pas, was gedoen om iets te verdién by God en deur mense geëer te word, en nié om “ons Vader wat in die hemel is, te verheerlik nie” (Matt. 5:16b). Hulle het al die regte godsdienstige bewegings gemaak, maar hulle het vergeet om op die regte plek erkenning te gaan soek. Hulle wou hulle eie eer by mense ingestel kry! Hulle het hulself deur hulle vroomheid voorgehou as modelmense. Dit was vir hulle belangrik dat die gewone man op straat hulle komplimenteer, hulle “deur mense gesien word”, mense wat sê: “Ai broer, of suster, ek wens ek was so godsdienstig soos jy, jy doen só baie vir die armes; jou liefdadigheid ken geen perke nie!”
Ek lees onlangs: “Die lewe is ‘n herhaaldelike proses van gee en neem”, en Paulus se woorde in ons teksvers eggo die betekenis daarvan. Jesus Christus – die Meester van die lewenskuns – het ons mos geleer met eenvoud: “Gee en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat wat julle meet, sal ook vir julle gemeet word” (Luk. 6:38). Is dit nie dalk wat Paulus bedoel het nie? Ek meen, hierdie handeling van géé, deel in die direkte probleem van die verwardes en wanhopiges. Is dit nie dalk die geheim van ware geluk nie? Ons deel met ander wat hulp nodig het – hierdie kultuur van géé is ietsie meer as net gee – dit is iets van onsself gee, nie net aan iemand wat in nood is nie, omgee vir ons naaste is uitgee aan die Here!
Doen ek en jy godsdienstige dinge om God én mense te beïndruk, of om Hom te verheerlik? Ons Vader se liefde en genade is eindeloos want dit is nie materialisties nie, dit is gevul met ongelooflike seën. Die pad wat ons loop is nie altyd maklik nie, maar die satisfaksie wat daaruit verkry word omdat ons gehoorsaamheid aan Jesus openbaar, is vreugdevol.
Om op Jesus se pad te loop is om tyd en energie te spandeer aan ander, om diens te lewer, betrokke te raak by die Here van die dinge. Om net besorg te wees oor onsself is vervelig en buitendien laat ek en jy al die kanse wat die Here ons bied om te dien, deur ons vingers glip. Bewys aandag, deernis en ontferming aan ander, dis wat Jesus vir ons gedoen het. Ons moet regtig probeer om nooit die geleentheid om iets goed vir iemand te doen, ongebruik te laat verby gaan nie. Ons sal nooit God se onbeperkte weldade kan ewenaar nie, Hy het sy Beste gegee. Maar uit dankbaarheid kan ons onsself gee as dienaar. Dit is die beste belegging by God, by Hom is gewaarborgde ewige wins!
“Geseënd is hulle wat kan gee sonder om te onthou en ontvang sonder om te vergeet” (Elizabeth Bibesco).
Gebed: Here, Gewer van my alles, leer my om elke dag dankbaar te lewe omdat ek weet, alles wat ek het is suiwer genade uit U hand. Help my om verby my eie probleme te kyk en ‘n helpende hand uit te steek na ander in nood. Amen.
Σχόλια