top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 7 Februarie, 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (9)

 

Ons het sekerheid: God se Woord is ‘n erewoord

 

Hand. 20:31 – “Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane.”

 

Paulus nader nou die einde van sy toespraak. Met die gevare van valse leerstellings wat aan die kom is, moet die ouderlinge soos sorgsame wagters, waaksaam wees oor hulle kudde. Oor die huidige en ewige gevolge van dwaalleer moet die ouderlinge voortdurend gereed en op hulle hoede wees. Hy beklemtoon die dringendheid van sy waarskuwing met verwysing na die voorbeeld van sielesorg wat hy drie jaar lank vir hulle in Efese gestel het, dag en nag, baiekeer met trane.

 

Ouderlinge van die vroeë kerk was verantwoordelik vir die geestelike leiding en versorging van ander gelowiges in die gemeente. Deel daarvan was om die gemeente te beskerm teen mense wat leerstellings verkondig wat nie strook met die evangelie wat Paulus en die ander apostels verkondig het nie. Paulus se ernstige waarskuwing teen dwaalleer kan vandag steeds nie gering geskat word nie. Ons moet onthou, Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid! Hy het nie eensklaps verander nie. Daarom is dit vandag steeds die ouderlinge se taak om hierdie wolwe in skaapsklere te herken en te ontmasker. Om dit reg te kry, is dit nodig om ‘n behoorlike kennis oor die Bybel te beskik.

 

Ek dink dit is elke Christen se verantwoordelikheid om te kan onderskei tussen Bybelwaarheid en leuens, nie net ouderlinge nie. En dit is nie altyd so maklik nie. Baie Christene vandag is nie bewus van wat die Bybel leer nie, omdat hulle dit nie sorgvuldig bestudeer nie, en dan só maklik in leerstellings glo wat nie die volle waarheid is nie. Hulle volg die leringe van hul (verkeerde) leiers en nie die leringe van die Bybel nie, net om te verdwaal. Ons het ’n groot verantwoordelikheid om seker te maak dat die waarheid waarin ons glo, God se waarheid en slegs Sý waarheid is. En hier moet ons by God se Woord begin. God se Woord vertel die waarheid en daarom moet ons alles daarteen toets. As die boodskap nie ooreenstem met God se woorde nie, moet ons dit eerder los. Tog is daar ’n probleem, want die Bybel is nie so eenvoudig nie.

 

Die bekende Duitse teoloog Helmut Thielicke (1908-1986), het beweer dat die breë weg nie noodwendig die pad van die wêreld, die pad van radikale Godverloëning is nie, maar dikwels die pad van die kerk wat valse leraars, tans steeds voorhou. Dit is die kerk wat volgens hom, koers kry op die breë weg wanneer die kerk, die taal van die massa begin praat en mense se natuurlike begeertes na die hart begin aangryp. Dit gaan nie meer om die eer van God nie want Sy Woord word aangepas om by die menslike stroom van eiebelang in te val. Die kerk het ‘n kompromie tussen die goeie en slegte begin formuleer.

 

Ons het Vrydag die Hebreërskrywer aangehaal oor “God se woord wat lewend en kragtig is. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante ...” (Heb. 4:12). Ons weet hoe diep God se Woord sny. Enigeen wat die Bybel al oopgemaak het en kon sê “dit het vandag nét met my gepraat”, het die skerpheid daarvan aan eie hart en liggaam beleef. Dit maak seer, maar dit maak nie saak nie, die vrot kol moet weggesny word. God is die Groot Geneesheer en dikwels is sy Woord die skalpel. Ongelukkig, kan God se skalpel in die verkeerde hande beland, dan word dit ‘n instrument wat verwoes en vermink. Dan is God se Woord nie meer sy Woord nie. Dan is sy Woord gekaap deur diegene wat selfvoldaan reken hulle het die waarheid gevind.

 

Wat van ons? Is ons nog op koers volgens God se Woord? Gebruik ons nog ons vermoë om deur God se genade, Hom te kies? Wat maak ek en jy met die Here se goeie nuus, dra dit vrug, goeie vrug? Indien ons steeds wegkruip agter ons vindingryke verskonings waarom ons nie betrokke wil raak by die evangelie wat mens se lewe radikaal verander nie, dan waarsku Jesus: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die Here kan nie bekostig dat vrugtelose bome kosbare spasie in Sy vrugteboord opneem nie, inteendeel, almal wat Sy genade goedkoop maak, word uiteindelik uitgekap.

 

Om Jesus te volg, is ‘n ernstige aangeleentheid en Hy het ons gewaarsku dit gaan nie maklik wees nie (Matt. 5:11). Ons moenie dat die dwaasheid van vals profete ons uit Jesus se vrugteboord hou nie. Indien dwaasheid ons roep, moenie antwoord nie. Volg Jesus wat die weg en die waarheid en die lewe is (Joh. 14:6). Hy is die ware koers na God toe. God sal vir die res sorg. Hoe doen ons dit? Paulus gee die antwoord: “Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na Sy stem” (1 Tess. 5:19 – Die Boodskap). Saam met die Heilige Gees sal ons by die enigste Waarheid uitkom. “Hy sal ons laat besluit wat ons moet sê en dink en doen” (1 Tess. 5:21 – Die Boodskap). Luister na sy stem. God se Woord is ‘n erewoord!


“Die kerk moet vrede en verdraagsaamheid najaag, maar dan nie ten koste van en in stryd met God se koninkryk nie. Wie met God wil wandel, moet in dieselfde rigting as Hy gaan” (Ds. Johan Smit).

 

Gebed: Here, weerhou my van vals leraars. Gee my asseblief die wysheid en regte insig om enige vreemde opvattings of teenstrydighede teenoor U Woord, te bestry. Dit is van U erewoord wat ek wil lewe. Dankie dat U my lewensanker, my onbeweeglike waarheid in ‘n omgewing vol onwaarhede en blatante leuens is. U Naam ter eer. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page