Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Feb 4, 2024
- 4 min read
Maandag, 5 Februarie 2024
Koos Espach
VIII. Paulus se reis na Jerusalem
Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland
Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (7)
Ons Herder loop voor
Hand. 20:28 – “Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ‘n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun.”
Paulus wyk nou af van sy eie verantwoordelikheid wat in die vorige verse uitgespel is, na die verantwoordelikheid van die ouderlinge van Efese. Die ouderlinge moet in die eerste plek hulle self oppas – “hulle moet let op hulle leer en lewe, daarin volhard, want deur dit te doen, sal hulle hulself red sowel as dié wat na hulle luister” (1 Tim. 4:16). Hulle moet dus vir hulle eie sieleheil sorg, anders loop hulle gevaar om self verlore te gaan terwyl hulle vir ander preek. Hulle funksie voortaan in die gemeente word beskryf met die beeld van ’n skaapwagter wat sy kudde versorg en beskerm, ‘n skaapwagter soos Jesus, ons goeie Herder (Joh. 10:11).
Die ouderlinge moet hulle taak as wagters oor die kudde, (die kerk), getrou uitvoer, omdat dit deur die Heilige Gees aan hulle opgedra is en aan wie hulle ook rekenskap verskuldig is. Die gedagte daarvan dui op die geestelike toesig en pastorale versorging van die gemeente. Hulle moet dus die gemeente van God soos ’n goeie herder lei, help en versorg. Want, die gemeente het God vir Homself verkry deur sy genadige heilsplan en sy koningskap oor ons lewe; na die Here Jesus wat aan Paulus sy opdrag gegee het en deur sy eie bloed die gemeente verwerf het; en die rol van die Heilige Gees wat vir Paulus lei en die ouderlinge as bewakers van die Here se kudde aanstel. (Let op die drie-Eenheid se betrokkenheid – van God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees se eenheid en samewerking aan die evangelie om mense tot bekering tot God en geloof in die Here Jesus te lei).
Paulus kan nou afskeid neem. Sy werk in Efese is afgehandel. Van hier af verder, is dit die ouderlinge se verantwoordelikheid om die “gemeente van God te versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun.” God se Seun wat gesê het: – “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (Joh. 10:11).
Jesus betrek die beeld van die goeie herder op Homself. Ons as gelowiges in Hom, is natuurlik die skape. Jesus sluit aan by verskeie uitsprake waar God aangewys is as die herder wat goed sorg vir sy volk (Ps. 23:1-2; Jes. 40:10-11). Dit bring die Middelaarswerk van Christus binne ons gesigveld, en deur Sy optrede bring Hy die vervulling van die belofte van God, dat Hy self die herder van Sy skape sal wees, in liefde sal red en versorg (Eseg. 34:10-16).
Hoekom kan Jesus na Homself verwys as die Goeie Herder? Hy voldoen aan die vereistes om die titel as “goeie herder” te verdien: Hy is goed in Sy toewyding aan Sy sending wat Hy gekom het om te vervul. Hy sluip nie die kraal binne om skape te steel nie (Joh. 10:1); Hy kom openlik met Sy boodskap na die wêreld toe en bevestig die egtheid daarvan; Hy ken Sy skape en roep ons op ons name (Joh. 10:3); Hy stap elke tree saam met Sy skape en loop voor, Hy stuur ons nie alleen in ‘n onbeskermende wêreld in nie (Joh. 10:4); Sy skape ken Sy stem. Hy praat deur Sy Woord en Gees om te verseker ons word nie verlei nie (Joh. 10:4b); Hy is die ingang tot die kraal. Hy is die Enigste een wat beskutting bied, die Enigste Redder (Joh. 10:9); Hy skenk nie net lewe aan ons nie, Hy gee dit in oorvloed (Joh. 10:10b); Hy hardloop nie weg wanneer gevaar dreig nie, Hy beskerm ons en het selfs Sy lewe vir ons gegee (Joh. 10:11).
Ek en jy het geen beheer oor natuurmagte nie en baie min verweer teen die aanslae van die lewe. Wanneer die lewenstorms aan ons bootjies begin ruk, is daar nie altyd simpatie nie. Elkeen wil maar net sien dat sy eie seiltjie hom toemaak om hom of haar te beskerm teen die reën en koue. Die Goeie Herder is egter altyd daar. Hy is dáár wanneer ons elke oggend opstaan om die dag aan te durf en voort te beur. Hy ken elkeen van ons se pad, die pad van menswees met al sy probleme want Hy was self mens wat tussen ons kom woon het (Joh. 1:14). Hy ken elkeen se versoekings want Hy was self versoek (Matt. 4:1-11). Hy ken elkeen by die naam want Hy is lief vir ons – so lief dat Hy bereid was om Sy lewe vir ons te gee (Joh. 3:16). Waarom tevrede wees met ‘n swak herder of enigiets anders, terwyl die Goeie Herder altyd beskikbaar is?
“Laat die feit oor wat Christus alles vir jou gely het jou aangryp en jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nie” (Oliver Greene).
Gebed: Liewe Jesus, my Goeie Herder, dankie dat U my ken, my angs en vrese, bekommernisse, my eina’s en my amen’s, my alles. Dankie dat U elke dag saam met my begin, saam met my gaan waarheen ek ook al gaan, saam met my weer terugkom huistoe en selfs oor my waak wanneer ek gaan slaap. Dankie dat ek op U liefde, omgee en beskerming kan staatmaak. Ek bid vir hulle wat nie beskerming in U kraal kom soek nie, wat rigtingloos ronddwaal opsoek na die Waarheid, dat hulle die Enigste Ingang sal vind na die lewe en ook deel van U kudde kan word. Amen.
Recent Posts
See AllVrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2) Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...
Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...
Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...
Comments