top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 1 Februarie 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem (Hand. 20:13-23:35) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (5)

 

God se grenslose genade is onbeperk

 

Hand. 20:24b – “As ek maar net my lewenstaak kan voltooi ..., dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.”

 

Paulus is diep bewus dat die Here Jesus deur Hom, sy werk op aarde voortsit. Dit gaan om die evangelie, die goeie boodskap van God se onverdiende genade teenoor die wêreld. Dit gaan oor die offer van Jesus vir ons sondeskuld. Dit gaan om Jesus Christus se verlossing van ons uit die mag van sonde. Dit moet in geloof aangeneem en uitgeleef word. Tog het Paulus besef dat hy nie alles alleen kan doen nie, maar dat hy dit wat aan Hom opgedra is, na die beste van sy vermoë moet doen – dit is dat hy die evangelie van God se genade moet verkondig – die evangelie wat deur God se genade gegee is en God se genade as inhoud het.

 

Jesus het op die vooraand van sy kruisiging tot sy Vader gebid: “Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen”(Joh. 17:4). Ten spyte van ontsettende teenstand van die Jode, was Jesus volmaak gehoorsaam, en daardeur het Hy die Vader verheerlik. Hy het die eer van die Vader gehandhaaf en verhoog. Soos Jesus, kyk Paulus nie bevrees na die gevare wat hom bedreig nie, maar na die voltooiing van sy lewenstaak en die dienswerk wat hy van die Here Jesus gekry het.

 

Om God se genade te verkondig, klink so eenvoudig Paulus, en tog is die inhoud daarvan so groots dat geslag ná geslag dit weer moet hoor. God se genade is só anders as wat dinge in ons wêreld werk, daarom dink ek sukkel ons om dit heeltemal te verstaan. Dit is asof ons nie kan aanvaar dat God sy genade, verniet uitdeel nie. Hy het só duur daarvoor betaal deur sy Seun aan die kruis te offer, vir my en jou. Moet ons dus nie iets teruggee daarvoor nie? Tog vat God ons net soos ons is – dis ‘n eenrigtingverkeer van God na ons as mens. Dit is altyd onverdiend en dit bly steeds ‘n misterie.

 

Iemand het geskryf dat die Christendom ‘n genadegodsdiens is. Genade is die fondament waarop God se koninkryk berus en die spil waarom dit draai. Ek dink julle lesers sal saam met my wonder wat sou gebeur het as ons godsdiens nié ‘n genade godsdiens was nie, en ons moes ons verlossing verdien? Wat sou ek en jy bereid wees om te betaal vir ‘n plek in die hemel? Wat sou ons bereid wees om te betaal ter wille van ons geliefdes? Hoe toegewyd moet ons elke dag leef om ons paadjie hemel toe te teer? Wie sal weet?

 

Kom ons wees maar eerlik teenoor mekaar: Ons het geen kans om op eie stoom in die hemel te kom nie. Daar is geen manier wat ons budget en/of goeie dade, ons eens náby die hemelpoorte sal bring nie. Dankie tog Here, gelukkig het U ons nie met geld of goed uit ons sondige bestaan losgekoop nie. Jesus se bloed was die koopprys: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus ...”(1 Pet. 1:18-19).

 

Wat ek en jy is, is net genade, sing Koos Dup – “Elke afdraai paadjie ken ek. Elke keer het ek verdwaal. Elke keer het U my iewers kom haal ... Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen ...”. Dit lyk so na ’n beknopte CV van sy lewe. Ook ’n beknopte CV van my lewe en dalk van joune. ’n CV waar ons so hard probeer om die lewe reg te loop, maar as ons ons weer kom kry, het ons ’n afdraaipaadjie geneem en totaal verdwaal totdat ons loop sit het en vir God gewag het om ons te kom haal. En wanneer ons weer veilig in God se arms rus, besef ons een ding: ‘Wat ek is, is net genade’. Ons kan hoe hard probeer. Ons kan die grootste drome hê en in die sweet van ons aangesig hard werk, maar as ons nie omring word met God se genade nie, m.a.w. as God nie in my en jou lewe ’n rol speel nie, as ons nie oorspoel word deur God se goedheid nie, het ons moeilikheid. Groot moeilikheid.

 

Jesus het ons van die slawerny van sonde losgekoop met sy kosbare bloed. Ons behoort dus nou nie meer aan onsself nie, maar aan Hom. Ai tog, en nou is dit ook so dat wanneer ‘n mens iets gratis kry, ons dit dikwels nie na waarde ag nie en dan daarmee mors. Amper soos met God se genade. Mense sal sommer sê: Ag wat, ek kan mos ná die tyd net sê ek is jammer, dan is my sondes vergewe. Nee! Ons kan nie maar net ’n lewe leef waar ons doen wat ons wil nie. Ons durf nie terugkeer na ons sondige slawelewe van weleer nie.

 

Ons moet ons bes probeer om binne God se wil vir ons lewe, te leef. Ons weet wat reg en verkeerd is. Daardie stemmetjie hier binne sê dit hard en duidelik vir ons. Ja, ons almal wat glo, het die Heilige Gees hier binne ons. Hy praat, dalk nie so hard nie, maar Hy praat. Dis ons wat ons baie keer doof hou vir Sy rigtinggewing. Dit is nie nodig om enige sê-nou-maar ... gedagtes te koester nie. Ons is baie duur gekoop. Ons kan daarom nie anders as om vir Christus te leef en sy eer elke dag te soek nie; nie om vir God se genade te wil betaal nie, maar juis as dankbare antwoord op daardie genade.

 

“There’s a wideness in God’s mercy like the wideness of the sea. There is kindness in His justice which is more than liberty. For the love of God is broader than the measure of man’s mind. And the heart of the Eternal is most wonderfully kind” (Unknown).

 

Gebed: Hemelse Vader, die wonder van U genade kry ek met my menseverstand nie lekker raakgevat nie. U is só geduldig met my. Elke oggend maak U my nuut met nuwe genade. Ek wil U loof daarvoor. Dankie dat U deur U grenslose genade altyd bereid is om my nog ‘n kans te gee. Maak my asseblief bereid om dit vir ander ook te doen. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page