top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 25 Januarie 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem (Hand. 20:13-23:35) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

Die reis van Troas na Milete (1)

 

Vertrou God, vandag, elke dag. Moenie tou opgooi nie

 

Hand. 20:13-15 – “Ons het vooruit per skip na Assus toe vertrek, waar ons vir Paulus aan boord sou neem. Dit was sy opdrag, omdat hy self oor land daarheen wou gaan. 14 Toe hy ons in Assus kry, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene toe gevaar. 15 Daarvandaan het ons die volgende dag verder gevaar en tot regoor Chios gekom. Die dag daarna het ons Samos bereik en nog ‘n dag later Milete.”

 

Soos ’n dagboek se aantekeninge beskryf Lukas die reis van Troas na Milete. Net soos Paulus dit gereël het. Nadat Paulus ’n hele nag lank in die bovertrek onderrig het, het hy nog die fisiese krag gehad om te voet die ongeveer 30 kilometer te loop van Troas tot by Assus, die eerste hawe suid van Troas. Bepaald ’n moeiliker pad, hoewel korter. Daaruit blyk wéér, hoe onvermoeid hy in sy werk was. Vir Paulus was daar nie uitstel nie, nie ‘n dag van môre nie. Hy het ‘n verantwoordelikheid gehad om siele te red, vandag, elke dag! Daar is nie nou tyd om uit te sak nie, tyd om tou op te gooi nie.

 

Paulus reis alleen, blykbaar weer om die aandag van die Jode wat hom wou doodmaak, te ontwyk. ‘n Afstand van ongeveer agt uur te voet. Lukas en die ander lede van sy geselskap van vers 4, is per skip om kaap Lekton na Assus se hawe, ongeveer 80 kilometer op see van Troas af. Paulus sal daar weer by hulle aansluit. Dis ‘n eensame staptog, maar sy toekomsplanne hou hom besig: eers na Jerusalem, dan Rome en daarna Spanje toe. Hy weet sy toekomspad bevat struikelblokke, maar hy kan nie weifel nie. Hy weet die mens wik, maar God beskik. Terwyl daar ‘n vandag is, sal hy sy kruis opneem en sy krag put uit die gemeenskap met God!

 

Dit is ‘n nuwe jaar met nuwe dinge. Baie van ons is dankbaar 2023 is verby en 2024 se nuwejaarsvoorneme is êrens in die agterkop geformuleer. (Myne hou gewoonlik nie lank nie). Vir baie ander is dit ‘n nuwe jaar met ou dinge wat maar dieselfde bly. Die vraag is of ons dit dieselfde gaan hóú en of ons iets daaromtrent gaan doen om dit te verander? Vir baie van ons lê die jaar met al sy uitdagings reeds soos ‘n berg voor ons en kan ons maklik nou al besluit, om die nuwe jaar nie anders as voorheen in te gaan nie – aan te karring op die ou trant!

 

Dit lyk asof die omstandighede in die wêreld en veral hier in Suid-Afrika waarin ons vandag leef, die slegste is wat dit nog ooit was. Alles wat ons sien en hoor, ontstel ons en die oorgrote meerderheid mense kyk na die toekoms met huiwering en onsekerheid, onsekerhede wat mense opkeil, selfs figuurlik opvreet. Onsekerhede laat ’n mens erg wonder oor die dag van môre, veral as ’n mens nog kinders het en wonder oor hulle toekoms – dit maak ’n mens bang.

 

Ek is seker as ons elkeen nou ’n lysie moet maak van dinge waaroor ons nie presies seker is nie, gaan dit ’n lang lysie wees. Op die meeste van ons se lysie sal die probleme in die land waarin ons woon en die regering met al hulle leuens, onbekwame mense wat hoë leiersposte beklee, baie na aan bo wees, dalk heel bo. Dié wat grond het, gaan wonder of hulle nog grond gaan hê. Die kragsituasie bly leë beloftes. En dié wat dink hulle werk is veilig, kan dalk nie so seker wees nie. In baie mense se lewens kom maak onsekerheid sy lêplek en dit maak ’n mens fisies en geestelik moeg. Al hoe meer mense verval in wanhoop en gooi tou op.

 

Die geskiedenis openbaar egter dat hierdie toestand waarin ons vandag leef, geensins nuut is nie. Deur die eeue heen het die wêreld en sy mense reeds rampspoed ervaar, maar in elke geval het God oor Sy mense gewaak. Daarom kan, en moet ons nooit die feit uit die oog verloor dat wat ook al met ons en met mense rondom ons gebeur, Jesus onderneem het om by ons te wees tot aan die voleinding van die wêreld (Matt. 28:20).

 

Tussen die berg onsekerhede moet ons vashou aan hierdie groot belofte van ons Here. Op ’n manier raak die klomp onsekerhede nogal minder, want as ons weet dat God vir die lewe in die verlede gesorg het, sal Hy mos ook sorg vir môre en oormôre, én die dae daarna. Soos Paulus geweet het sy toekomspad bevat struikelblokke, weet ons vandag ook. Soos hy geweet het die mens wik, maar God beskik, weet ons ook. Daarom, terwyl daar ‘n vandag is, kan ek en jy ook ons kruis opneem en ons krag uit die gemeenskap met God put!

 

Die Hebreërskrywer voeg by: “7 Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: Vandag, as julle sy stem hoor, 8 moet julle nie hardkoppig wees nie ... 13 solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor ...” (Heb. 3:7,8 en 13). Hierdie ‘vandag’ is meer as 'n datum op 'n almanak. Dit is 'n dag van beslissing. Dit kan dalk ‘n laaste dag van genade wees. Elke gelowige, ook ek en jy, moet vandag nog reageer op ons gesindheid en verhouding met God. “Vandag” word in vers 13  opgevolg met “elke dag” – ons moet ‘elke dag’, enduit styf bly vashou aan ons vertroue op God en nie hoop verloor nie.  

 

Kom ons verjaag die onsekerhede. Kom ons hou vandag en elke dag vas aan Sy beloftes en leef ’n lewe vol vreugde en vrede, al is die prentjie dalk so effe donker. Wat ook al in ons lewe gebeur, kan ons weet dat die lewende Christus ‘elke dag’ nog steeds in beheer is. Laat die Heilige Gees hierdie boodskap ‘vandag’ op ons harte en lewe ingraveer en ons opgewonde maak met nuwe hoop. Vergeet van gister. Moenie bekommer oor môre. Leef ‘vandag’ in die genade van ons Here. Ek en jy kan ‘elke dag’ daaraan vashou soos ‘n drenkeling aan sy reddingsgordel. Kom ons maak dit ons nuwejaarsvoorneme – moenie tou opgooi nie, nie vandag nie, nooit nie!

 

“Gister is verby. Môre is nog nie hier nie. Ons het net vandag. Kom ons begin!” (Moeder Teresa).

 

Gebed: Ons Vader in die hemel, ek het vandag se insig deur u Gees só nodig gehad, want die lewe daar buite lyk nie lekker nie. Maar dankie Here, U is vir my ‘n “toevlug van geslag tot geslag” (Ps. 90:1b). Hou my asseblief styf vas Here en elkeen wat hoop verloor het. Moet ons asseblief nooit los nie. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page