top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 23 Januarie 2024

Koos Espach


VII.  Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

Paulus in Troas (2)

 

In plaas van wanhoop, neem jou toevlug na Christus toe

 

Hand. 20:10-11a – “Paulus het ondertoe gegaan, hom oor Eutigus uitgestrek en hom teen hom vasgedruk en gesê: ‘Moet julle nie ontstel nie. Hy lewe!’ 11 Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet.”

 

Paulus is besig om die gemeente in Troas toe te spreek. Omdat hy die volgende dag weer sou vertrek, hou Paulus lank aan, tot na middernag. ’n Jongman Eutigus, sit in die bovertrek op die derde verdieping in die vensterbank. Ons moet daaraan dink dat vensterrame destyds nie ruite gehad het nie en oor die algemeen net gate in die mure was wat deur gordyne en luike afgesluit is. Eutigus raak aan die slaap, val deur die oop venster na benede en sterf. Chaos, sou ons dink. Ontsteltenis, verwarring! Mense wat rondskarrel en gil, die trappe afhardloop om by die jongman uit te kom.

 

Lukas vertel ons egter, so ietwat terloops, Paulus het hom net kortliks laat onderbreek. Slegs die rukkie wat dit hom neem om die drie verdiepings ondertoe te gaan en hom oor die dooie Eutigus uit te strek. Wanneer Paulus hom oor Eutigus uitstrek en hom teen hom vasdruk, herinner dit aan die optrede van Elia, (1 Kon. 17:21) en Elisa (2 Kon. 4:34). In dié gevalle is die dooies ook opgewek. Paulus het die gemeente gerusgestel dat Eutigus nog leef, na die bovertrek teruggegaan en die seremonie behartig waarvoor hulle saamgekom het: hy het brood gebreek en geëet, nagmaal gehou ... en sy toespraak voortgesit tot dagbreek toe.

 

In ‘n era van mediese dienste en gesondheidsorg vergeet ons te maklik dat lewe en dood, steeds God se domein is. Dit is eers wanneer ons skielik en ontydig met ernstige siekte of die dood te doen kry, dat ons besef hoe kosbaar die lewe is. Ons het nie meer ‘n Paulus by ons nie, maar ons kan ook bemoedig word deur sy optrede en veral sy briewe wat vir ons opgeteken is in die Bybel. Ons gelowiges kan in God se woord weer hoop ontdek. Dit is daar waar ons die liefdevolle hart van God baie goed leer ken. Dit is ‘n onuitputlike bron van groot troos en bemoediging in tye van wanhoop.

  

Wanneer my en jou wêreld soos ‘n kaartehuis inmekaar tuimel en ons heeltemal moedeloos en verlore voel, is dit maklik om in wanhoop te verval. Wanneer dit egter gebeur, moet ons onthou dat Jesus klaar die pad van wanhoop vir ons gestap het. Ons moet onthou toe Hy as eensame uitgeworpene aan die kruishout uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat” (Matt. 27:46), was dit nie ‘n uitroep van vertwyfeling nie, maar ’n angsroep waarin Jesus sy onbeskryflike sieleleed aan sy Vader uitroep. God het Christus nie verlaat nie! Inteendeel, Hy was juis op daardie oomblik by Hom om Hom krag te gee sodat Hy die Bose kon oorwin!

 

Ons het onlangs breedvoerig daarna verwys dat “God nie ver van enigeen van ons af is nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27-28). In plaas daarvan om te wanhoop, kom ons besluit saam op ‘n nuwejaarsvoorneme om ons toevlug opnuut weer tot Christus te neem. Hy verstaan my en jou krisisse beter as enigiemand anders. Dit is uiters belangrik dat ons moet besef hóé groot Jesus se liefdesoffer op Golgota was – Godverlate sodat God ons opnuut weer vir Hom kon neem; sodat ons nooit deur Hom verlaat sal word nie.

 

Jesus dra elke vorm van sonde van die ganse mensdom fisies en geestelik, en Hy sê vir elke mens op aarde dat Hy daar is om ons las te verlig. Hy sal aan ons vrede gee. Saam met Paulus is ek en jy “meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom. 8:37). Ons het ‘n lewende hoop: “Omdat ons glo, word ek en jy deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar sal word” (1 Pet. 1:5). Ek en jy wat in Christus glo, is op pad saam met God na sy nuwe wêreld. Dit is dan seker genoeg rede om te volhard in hoop op Hom! Ons kan met vrymoedigheid glo dat Hy ons sal bewaar met sy eie krag. 

 

“Christus het op die gewone wyse as mens die verlating van God gevoel en tegelyk was Hy deur die geloof, van Gods liefde verseker” (Johannes Calvyn).

 

Gebed: Dankie Jesus dat U gewillig was om van God verlate te wees sodat ek vir ewig in Sy teenwoordigheid kan leef. Ek hoef nooit Godverlate te voel nie want “van my geboorte af is ek onder U sorg, van die begin van my lewe af is U my God” (Ps. 22:11). En wanneer ek met vrees en onsekerheid deur donker tye gaan, wanneer ek in wanhoop wil verval, wéét ek dat ek maar net kan roep na U, U is nooit ver van my af nie. Amen.

Comments


Recent Posts