Gedagte vir Vandag
Maandag, 22 Januarie 2024
Koos Espach
VII. Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38)
Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland
Paulus in Troas (1)
Die evangelie moet ons wakker hou
Hand. 20:7-9 – “Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd. Paulus het die gelowiges toegespreek, en aangesien hy die volgende dag sou vertrek, het hy tot middernag aangehou. 8 Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons bymekaar was. 9 ’n Jongman met die naam Eutigus het op die vensterbank gesit. Hoe langer Paulus gepraat het, hoe vaker het Eutigus geword. Hy het naderhand vas aan die slaap geraak en uit die derde verdieping tot op die grond geval. Toe hulle hom optel, was hy dood.”
Paulus, Lukas en die ander gelowiges het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd of, om brood te breek. Hierdie was die liefdesmaaltyd wat in die tyd van die apostels en daarna by die viering van die nagmaal deur die Christene gehou is. Elkeen het kos gebring en almal het saam geëet, ook die armes, die onedeles, die werkers van daardie gemeenskap. Die plek van die samekoms was soos dié van die eerste gemeente, ’n bovertrek. ’n Jongman, Eutigus, het in die vensterbank gesit omdat daar baie mense was. Die saal was ook baie warm as gevolg van al die lampe wat lig moes verskaf. Eutigus het aan die slaap geraak toe Paulus tot middernag gepraat het. Hy val uit die derde verdieping tot op die grond en word vir dood opgetel.
Het Paulus hom aan die slaap gepreek? Dalk het hy as gevolg van moegheid of vermoeienis aan die slaap geraak. Die dampe wat die olielampe afgegee het, kon hom seker ook vaak gemaak het. Dit maak nie saak wat die oorsaak was nie. Hy is dood!
Arme Eutigus, sou ons kon byvoeg. Dit is nogal ‘n algemene tendens dat mense in die kerk tydens die preek aan die slaap raak. Daar is kerkmense wat doodeenvoudig nie kán wakker bly as die predikant se lang asem geen einde het nie. Meeste van die predikante weet darem hulle kan oor enigiets preek, net nie oor ‘n uur nie. Die grap word vertel van ‘n ouderling wat tydens ‘n preek aan die slaap geraak en begin snork het. Die ouderling langs hom het hom liggies in die sy gepomp. Slaper het een oog flouerig oopgemaak en geantwoord: “Skuus skat, ek draai op my sy.” Ons oudste seun het as klein seuntjie, tydens ‘n aanddiens die dominee uit sy preek gesnork. Dalk net ‘n grap, dalk het dit al met jou ook gebeur.
Dalk is dit beter om wakker te bly tydens elke preek. Dis beslis veiliger! Die goeie nuus is dat die evangelie selfs slapende dooies kan opwek. Luister liewer na die lewende woorde van die Here. Bid dat God in elke preek spesifiek met ons elkeen sal praat, spesifiek met jóú sal praat. Die kuns om aandagtig te luister vereis ‘n groot mate van dissipline. Die Heilige Gees wil ons egter hierin ook tot hulp kom met Sy volmaakte wysheid en insig.
God het in die ou tyd direk met profete soos onder andere, met Samuel gepraat – “Praat, Here, u dienaar luister!” (1 Sam. 3:10). Vandag is dit egter nie meer so maklik om na God te luister nie. Ons moet sy stem langs ander weë hoor. Om dit te kan doen, is die belangrikste vereiste natuurlik om by God uit te kom. Een van die maniere om by God uit te kom is om te gaan luister wat God vir ons in die kerk wil sê deur ‘n predikant. ‘n Ander manier is om met uiterste geloof en vertroue openhartig met God te praat deur gebed. Hy ken elkeen van ons immers beter as wat ons onsself ken, of iemand anders ons ken. Tydens hierdie ‘gesprek’ met die Here kan ons met vertroue ons lewe aan Hom blootlê en elke ding, hoe gering ook al, met Hom deel.
Baie mense kla dat hulle geen antwoord van God ontvang nie. Hulle ontvang selfs geen rigting van die Heilige Gees hoe om te bid nie. Die probleem is dalk dat ons te veel tyd spandeer om God te vertel van ons nood en persoonlike behoeftes, sonder om stil te word in Sy teenwoordigheid en in stilte te luister na wat Sy wil vir ons lewe is. Ons is te haastig. Wanneer ons bid, wil ons dadelik resultate sien. Dit werk ongelukkig nie so nie. God se tyd werk nie soos ons Hom wil manipuleer nie. Ons moet ‘oefen’ om te wag vir sy antwoord. Ons sal dan die leiding van die Heilige Gees op ‘n besondere manier, op sý besondere tyd, ontvang. Ek en jy moet net leer om met ‘n sensitiewe oor, geduldig te wag om na God te luister. Kom ons probeer dit.
“Christus het ons geleer dat ons alleen en in stilte moet bid met suiwer en onverdeelde denke”
(Cyril van Alexandrië).
Gebed: Heilige God, skenk my die genade om u Gees in my siel te herken en aandagtig te luister na alles wat U vir my wil sê. Ek dank U vir die heilige oomblikke van stilte wat ek in U teenwoordigheid kan deurbring. Soos Samuel wil ek dan sê: “Praat, Here, u dienaar luister!” Amen.
Comentarios