top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 19 Januarie 2024

Koos Espach


VII.  Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

Paulus gaan na Masedonië en Griekeland toe (3)

 

Onbetwyfelbare versekering: niks kan ons van die liefde van God skei nie

 

Hand. 20:6 – “Na die fees van die ongesuurde brood het ons van Filippi af met ‘n skip vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons sewe dae gebly.”

 

Paulus word vergesel deur sewe mans. Hierdie Christene het hom vergesel as die afgevaardigdes van verskillende gemeentes wie se kollekte na Jerusalem gebring is. Die doel was om al die gemeentes ’n aandeel te gee aan die oorbring van die geld. Hulle moet aan die ‘moedergemeente’ getuienis kon gee oor God se groot dade onder die heidene, deur Paulus. Hulle aanwesigheid in Jerusalem sal ‘n sprekende bewys lewer van God se ontferming oor álle volke van die wêreld. Hulle het voor Paulus uitgegaan, oor die Egeïese See gevaar, en vir hom in Troas gewag.

 

As gevolg van die komplot van die Jode om Paulus dood te maak, stuur hy die sewe mans vooruit. Uit versigtigheid het hy hom losgemaak van die groot geselskap om alleen onopsigtelik, heeltemal ‘n ander roete te reis, weg van die Joodse feesgangers wat ook op pad was Jerusalem toe vir die Paasfees. Die Paasfees is op Vrydagaand gevier. Die Ongesuurde Broodfees begin ook dié Vrydagaand vir sewe dae tot die volgende Vrydagaand. Teen Woensdag vertrek Paulus en Lukas uit Filippi en weens ongunstige weerstoestande, neem dit hulle vyf dae tot by Troas, waar hulle met die sewe mans verenig en vir sewe dae vertoef.

 

Lukas meld nie hoe Paulus van die komplot gehoor het nie. Hy handel egter nooit roekeloos nie. Hy kon nie, Hy het ‘n Aanvoerder gehad. ‘n Aanvoerder deur Jesus ‘aangestel’ in Handelinge 1:8. Hy is deur die Heilige Gees gelei! Die saak van die kollekte vir die gemeente in Jerusalem, het egter vir Paulus na aan die hart gelê. Oorspronklik was sy plan om op paasfeesdag in Jerusalem te wees, maar toe daar vertraging gekom het weens die komplot, het hy besluit om ten minste op pinksterdag daar te wees. ‘n Komplot gelei deur ongelowige Jode met duistere motiewe, sou Paulus nie stuit nie – “God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?” (Rom. 8:31b).

 

In Paulus se tyd was daar gedurig oorlog. Elke keer wanneer ‘n Romeinse generaal ‘n oorwinning behaal het, het hy die aanvoerder van die verslane magte met kettings agter sy strydwa vasgemaak en deur die strate van die stad wat verower is, gesleep. Uiteindelik is die verslane vyand, onder toejuiging van toeskouers, by een van die talle Romeinse godebeelde aan die brand gesteek.

 

Paulus het ook die beeld van ‘n Romeinse triomftog gebruik wanneer hy oor God se groot oorwinning oor die duistere magte van die sonde en die dood gepraat het. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy finaal met die duiwel afgereken. Hy is nou Christus se gevangene wat met kettings agter Jesus se strydwa aangesleep word. Deel van hierdie optog is Paulus wat soos ‘n soldaat agter sy Aanvoerder aan stap. Terwyl die Here met sy optog in die wêreld besig is, vertel Paulus langs die pad van sy Aanvoerder se magtige triomf! Sommige mense lag hom uit, ander wil hom dood maak, maar vir dié wat na sy woorde luister, bring hy deur Jesus Christus, die lewe!

 

Hier in die begin van 2024 kan ek en jy by Paulus aansluit. Daar is plek in die Here se triomftog vir elkeen wat Paulus se woorde oor Jesus Christus glo, van toe af tot nou. Ek en jy kan ook ‘soldate’ wees van die magtigste leër in die wêreld! Ons Aanvoerder is onoorwinbaar en ons is verenig met Hom! Paulus sê dit is “aan God te danke dat (ons) met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Kor. 1:30). Calvyn sluit by Paulus aan deur te bevestig dat God nie net vir ons is nie, maar Sy Seun en Gees pleit ook vir ons, daarom sal dit moeilik wees om ‘n ander vers in die Bybel te kry wat die drie opeenvolgende fases van Jesus Christus se werk, só duidelik kan uitdruk soos 1 Korintiërs 1:30. Geen duistere komplot, deur wie of wat ook al, kan ons dus onderkry nie!

 

Paulus bevestig sy onwrikbare “oortuiging” dat geen enkele mag, wat dit ook mag wees, ons gelowiges sal kan skei van “God se liefde wat in Christus” geopenbaar is nie. Met die oog daarop noem hy in Romeine 8:38-39, nege instansies wat ons gelowiges sou kon bedreig en benadeel en ons van Christus sou kon probeer skei. Ons kan self ook al die ander dinge wat ons bedreig byvoeg op Paulus se lys, soos korrupsie, onbevoegde regering, misdaad, werkloosheid ens., die eindresultaat sal steeds dieselfde bly!

 

En as daar dalk nog iets anders is, onderstreep Paulus met ‘n tiende instansie, dat selfs enigiets anders in die skepping ons nie van God se liefde kan skei nie.” Ons is bestand teen alles, omdat “die liefde van God ... in Christus Jesus ons Here” ons ondeurdringbare skild is. Jesus Christus is die ‘adres’ waar God sy liefde aan ons bewys het. By Jesus Christus se ‘adres’ is ook die enigste plek waar ons God se bewarende liefde kan ervaar! Enige ander plek of enigiemand anders, is die verkeerde adres! Al wat God van my en jou vra, is dat ons vir mense langs die lewenspad sal vertel dat Christus gewen het en hulle uitnooi om saam met ons in hierdie triomftog in te val. Daar is nog baie plek oor. Ons kan as oorwinnaars met vrymoedigheid 2024 tegemoet gaan – “As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees?” – Ek en jy is in die wenspan. Prys God daarvoor!

 

“As jy glo in Christus, glo jy in oorwinning, dink jy oorwinning, bely jy oorwinning en leef jy oorwinning – oorwinning in Jesus Christus en daarom kan niks of niemand ons van hierdie liefdevolle oorwinning ontneem of skei nie!” (Onbekende oorsprong aantekening in “The Protestant Standard”).

  

Gebed: Here, in ‘n wêreld waar daar soveel boosheid, haat, pyn en geweld is, dank ek U vir die weelde van vryheid deur die oorwinning wat U vir my behaal het. Saam met Paulus jubel ek: “In Christus is ek meer as oorwinnaar en niks in die skepping kan my van die liefde van God skei nie!” Ek kniel in stomme verwondering voor U neer oor U onpeilbare liefde, “die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page