top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 17 Januarie 2024

Koos Espach


VII.  Paulus se Derde Sendingreis (Hand. 18:23-20:38) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland (20:1-38)

 

Paulus gaan na Masedonië en Griekeland toe (1)

 

Moenie moed en hoop verloor nie

 

Hand. 20:1-3a – “Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek. 2 Op sy reis deur daardie gebiede het hy die gelowiges telkens met sy prediking bemoedig. Hy kom toe in Griekeland aan, 3 waar hy drie maande gebly het.”

 

Lukas vertel wat gebeur het nadat Demetrius die hele Efese op hol gehad het en almal soos een man na die amfiteater toe gestorm het. Die stadsklerk het die skare onder bedwang gebring en Paulus kon rustig, na bykans drie jaar se arbeid in Efese, van al die gelowiges afskeid neem, hulle bemoedig en na Masedonië vetrek. Ná sy besoek aan Masedonië het hy na Griekeland vertrek, waar hy vir drie maande, waarskynlik vir die duur van die winter, in Korinte deurgebring het.

 

Paulus reis deur gebiede en besoek verskeie jong gemeentes wat as gevolg van sy prediking tot stand gekom het. Die gelowiges daar, was mense by wie hy al tevore was en hy nou weer besoek, geestelike ‘kinders’ oor wie hy besorg was. Oral waar hy gaan, verkondig hy dat dit nie noodwendig vrede, gesondheid en voorspoed beteken om vir Jesus te kies nie – eerder die teenoorgestelde. Hulle moet egter nie skrik nie. Hulle moenie moed verloor nie, hulle moenie bang wees nie, die Here is steeds in beheer. Daar is hoop!

 

So was dit in Paulus se tyd, so ook in ons tyd – Christen-wees is nie vir sissies nie. Ons beleef ‘n tyd van ongeëwenaarde moedeloosheid en hooploosheid in ons land. En dit gaan nie veel beter in die res van die wêreld nie. Die redes vir ons moedeloosheid is oneindig. Meeste mense gryp terug na die verlede omdat dit tóé soveel beter was, omdat ons tóé soveel veiliger was, omdat daar tóé soveel minder misdaad, korrupsie en geweld was, omdat ons tóé soveel meer geld, werksgeleenthede en noem maar op, tóé was beter. Maar is dit werklik so?

 

“Die illusie dat die tye in die verlede beter was as dié waarin ons tans leef, kom in elke tydvak voor,” sê Horace Greeley, Amerikaanse politikus van die 19de eeu. Ook die kerkvader Augustinus het sowat 400 nC gesê: “Die mense sê tye is sleg en moeilik. Ons is die tye, soos ons is, só is die tye. Laat ons dan goed lewe en die tye is dan goed.” Maak nogal sin. As ons die tyd waarin ons leef met moed, positiewe gesindheid en geloof benader, is die tye goed. Die hede en ek glo, die toekoms is steeds soos wat dit in die verlede was, presies net wat ek en jy vandag daarvan gaan maak. Ja, dis nie altyd maklik nie. Maar as kind van God is my en jou tyd, soos altyd, in God se hand!

 

Ons aanbid vandag steeds dieselfde wonderlike God van Paulus se tyd. Ons glo steeds aan die dieselfde Jesus Christus wat twee duisend jaar gelede vir ons sondes aan die kruis gesterf het, opgestaan en opgevaar het hemel toe waar Hy vir ons die Heilige Gees gegee het om ons in tye van moedeloosheid, te bemoedig en te vertroos. Dis presies dieselfde drie-Enige God wat vandag net so in staat is om ons tegemoet te kom, om ons te help, ons omstandighede te verander en ons weer moed te gee soos in die verlede, tóé-alles-so-goed-was. En Hy is net ‘n gebed ver! En die beste is, ons hoef nie eers vir Hom soos die Efesiërs van destyds, te skreeu nie.


Ons kan met vrymoedigheid erken: As Christene kan ons moed skep. Daar is hoop vorentoe. Moed en hoop veronderstel nie dat ons nooit bang gaan wees vir toestande rondom ons nie. Ons moet realisties ook wees. Moed en hoop beteken ook nie dat ons nooit gaan misluk nie, maar wel dat ons as Christene, weier om  tou op te gooi. En dan, moed en hoop is nie vanselfsprekende bates van ‘n Christen nie – ons moet elke dag in afhanklikheid die Here opnuut daarom vra. Moed en hoop is juis die bewys dat ons die curveballs van die lewe kan verduur omdat ek en jy ons Vader vertrou. Saam kan elkeen van ons wat sielsmoedeloos geraak het, die belofte van God met afhanklikheid en dankbaarheid aanneem: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed” (Jer. 31:25). Werklikwaar, daar is hoop!

 

“Moed vir die groot hartseer wat die lewe bring; geduld met die klein probleempies – ook dit is geloof! Wie só sy dag deurleef het, gaan slaap in vrede, omdat hy weet: God is altyd wakker! (Victor Hugo).

 

Gebed: Here, ek wil U belofte in Jeremia 31, hier in die begin van 2024 vir my toe-eien. Dankie vir die versekering dat ek maar kan moed skep, omdat ek vir U by my het. Dankie dat ek moed kan skep vir elke dag en die toekoms wat voor my lê, want U is ook daar, U sal ook daar vir my onderneem soos wat U nog altyd in die verlede gedoen het. En U hoor my sonder dat ek hoef te skreeu. Dankie dat U my die moed gee om aan te hou en uit te hou, omdat ek aan U behoort. Amen.

 

Commentaires


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page