top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 1 Desember 2023

Koos Epach


Goeiemôre liewe vriende,


Geliewe daarop te let dat ons gister, 30 November, die laaste E-Kerk Dagstuk vir 2023 versend het.


Die versending van die dagstukkies staak vir die feesgety as gevolg van meeste lesers wat reeds met vakansie vertrek het en e-posse wat onafgelewer terugkeer.


Die volgende versending sal DV weer Maandag, 8 Januarie 2024 begin.


Daarmee het ons dan aan die einde van ons reis saam met Lukas in die boek “Handelinge van die apostels”, gedurende 2023 gekom. Onthou egter, ons reis saam met die lewende God van die Bybel is nooit klaar nie, omdat die lewende God van die Bybel nooit klaar is met ons nie.


Kerstyd gee ons die geleentheid om te vertel waarom die wêreld hierdie dag vier. Bid en vra die Here om julle hierdie Kersfees te gebruik om aan ander van Hom te vertel en die redes vir Sy koms na hierdie wêreld – maak Kersfees ‘n ware Christusfees! Ons Christene vier nie ‘n datum nie, maar die wonderlike verlossing wat God vir ons uit genade, sy Seun Jesus vir ons as “Geskenk van die ewige lewe”, aarde toe gestuur het. Mag julle ‘n geseënde en sinvolle Christusfees saam met julle dierbares geniet. Mag die wêreld vir julle nuut word wanneer julle opnuut die vrede in Jesus vind. Mag julle dierbares vir julle net kosbaarder wees en julle vriendskappe hegter. Mag daar uit God se hand vir almal net seëninge voortvloei wat ryker is as wat julle ooit sou kon droom. Mag elke dag vir julle ‘n Christusfees wees!



Die geboorte van Jesus Christus (Luk. 2:1-7)


Geen plek nie, maar God was daar


Matt. 2:1 – “Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodus.”


Die Christuskind is die hart van Kersfees. Kersfees is die tyd van die jaar wanneer ons gelowiges die geboorte van Jesus vier, dit is egter nodig dat ons hierdie eenvoudige maar oorweldigende geboorte elke dag vier, elke dag sorg dat Christus in ons harte “hergebore” word, dat elke dag ‘n Christusfees is. Te midde van die wêreld se feestelikheid en gejaagdheid en materialisme, gaan Christus se geboorte dikwels verlore.


As jy nog nie die geboorte van Christus in jou lewe ervaar het nie, sal jy nooit die liefde van God en Sy vrede ken nie! Jesus ís “die môreson wat sal opgaan … om lig te bring aan dié wat in duisternis lewe.” In élke skynbaar hooplose situasie bring Hy die glans van hoop, in die donkerste oomblikke van die lewe verdryf Hy die duisternis. As jy elke dag ‘n ware Christusfees wil beleef, moet jy toelaat dat die Heilige Gees, Christus in die sentrum van jou lewe plaas.


“Al is Christus duisend maal in Betlehem gebore, maar nog nie in jou lewe nie, is dit ‘n nuttelose gebeurtenis waarvan die doel in jou lewe klaaglik misluk het” (Martin Luther).


Gebed: Ek dank U hemelse Kind van Betlehem, dat U in my lewe gebore is, dat ek die Heilige Gees deelagtig geword het en optimisties, nie bekommerd te wees oor wat van ons wêreld geword het nie, maar eerder met vreugde kan weet Wié in ons wêreld ingekom het. Dankie Vader dat U daardie dag in Betlehem, U grootste Geskenk aan ons gegee het, ‘n hemelse Geskenk wat hééltemal te veel is sodat ons dit nie kan opgebruik nie! Gees van God, staan ons by dat ons elke dag ‘n Christusfees kan vier, met Christusharte dit omgee-tyd maak, trane-afdroog-tyd maak, dit self-gee tyd maak. Amen.


Kom ons word stil en berei ons hierdie Christus-feesgety voor vir die nuwe jaar wat wag, ‘n geseënde jaar van “Oorgee – Omgee – Uitgee” in diens van ons Here saam met al ons E-Kerk lesers en NG Fochville-Noord Gemeente.


Geniet julle feesgety en vakansie. Reis veilig en bly gesond!


Jesusvrede, -liefde en -vreugde.


Koos en Renette Espach namens die Leraarspare, Ds. Pieter en Marina Theron, Ds. Johan en Elzabé Brink, en Kerkraad van NG Fochville-Noord Gemeente.


“Oorgee – Omgee – Uitgee”


Shalom

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page