Gedagte vir Vandag
Vrydag, 24 November 2023
Koos Espach
VII. Paulus se Derde Sendingreis
Hoofstuk 19 – Paulus in Efese
Die Seuns van Skeva (1)
Die waagmoed van geloof
Hand. 19:11-12 – “God het deur Paulus wonderbaarlike dinge gedoen. 12 Selfs doeke of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en dan het hulle siektes verdwyn; en die bose geeste het uit hulle uitgegaan.”
Paulus het nie slegs die evangelie in Efese verkondig nie. Lukas vertel dat die Here deur Paulus ook groot wonders hier verrig het. Hy word uitgebeeld as ‘n heilige man wat net soos Petrus vroeër (5:15-16), oor besondere bonatuurlike kragte beskik het. Selfs as van sy gesigshanddoeke of sweetbande of werksvoorskote wat kontak met sy vel gehad het, weggedra is na die siekes toe, is hulle bevry van hulle siektes en het die bose geeste hulle verlaat. Petrus se skaduwee was selfs genoeg om mense gesond te maak. (Siektes en bose geeste word in die Bybel meestal in een asem genoem. Die rede: destydse mense, anders as vandag, het siektes gekoppel aan ‘n mag van buite wat in mense ingekom het in die vorm van ‘n bose gees, meestal uit die see uit.)
Ons moet egter daarteen waak om nie vir Paulus (of Petrus) op ‘n voetstuk te plaas nie. Die kledingstukke van Paulus is slegs simbole van God wat genees, dié Here wat in ’n nagtelike visioen vir Paulus belowe het: ‘Ek is met jou’ (18:10). Maar in die heidene se gedagte word die genesingskrag van Paulus se liggaam deur sy klere, oorgedra na die siekes. So het die vrou met die bloedvloeiing ook gereken sy sal genees word deur net die soom van Jesus se bokleed aan te raak, maar die genesingskrag het van Hom, wat God is, gekom (Luk. 8:43-48).
Daar is min dinge wat ‘n mens so gou laat moed verloor soos siekte. Lukas vertel vir ons in sy evangelie van ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy was seker al verby daardie stadium dat sy nog enige hoop gehad het om na 12 jaar, ooit weer gesond te word. Die beste van alles, sy het nie enige skuld aan hierdie siekte gehad nie, en instede daarvan dat mense vir wie sy lief is, haar ondersteun, word sy uitgewerp en verstoot want sy is volgens die Joodse wet, as onrein beskou (Lev. 15:19-30).
Wat sy menslik gesproke kon doen om haar eie situasie te verbeter, het sy gedoen, maar al haar pogings het misluk. Niks en niemand kon haar help nie. Haar lewe was een groot las en ’n stryd om oorlewing want sy was finansieel ook al geruïneer: “… alles wat sy gehad het, het sy aan talle dokters bestee” (Mark. 5:26). Sy het niks gehad om enigsins voor te lewe nie, behalwe om haar kruis vir 12 jaar en moontlik vir die res van haar lewe, te dra! Maar … dan kom daar ‘n wending in haar toestand: Sy het van Jesus gehoor! Haar desperaatheid het haar na Jesus geneem, want sy het gewéét, as sy maar net aan sy klere kan raak, sal sy gesond word. Wat was hierdie vrou se aandeel tot haar genesing? Die getuienis aangaande Hom het by haar die geloof gewek. Sy het geglo Jesus sal haar gesond maak! Sy het onwankelbaar haar geloof in Jesus as haar Geneesheer geplaas, en na Jesus gegaan! En gesond geword!
Hoe wonderlik is ons Here nie? Sy mag breek deur die grense van siekte en dood deur middel van die band van geloof en redding! Daarom kan ons ook waag om soos hierdie vrou in ons verhaal, na Jesus te gaan met al ons probleme. Ons hoef nie bang of bekommerd te wees oor hoe ons Jesus sal bereik wanneer ons desperaat is nie. Ons kan maar net soos hierdie vrou, in geloof ons hande na Hom uitsteek en vind dat Hy reeds naby ons is! Ons kan elke dag met geloof leef omdat ons in die verlede God se versorgende genade ontvang het, en daarom in die toekoms mag hoop op Sy beloftes. En dis alles, net ‘n gebed ver.
Geloof in Christus Jesus is ‘n keuse, ‘n keuse om die gawe wat die “Vader aan my (en jou) gegee het” (Joh. 6:65), te aanvaar. Geloof is ons twee hande wat ek en jy in afhanklikheid, uitstrek na God toe om Sy genade-aanbod vir ons toe te eien! Geloof is ‘n woord met ‘n ware geskiedenis, ‘n geskiedenis met die onwrikbare sekerheid van God se genade en alomteenwoordige liefde, van Sy Seun aan ‘n kruis, van ‘n leë graf, die uitstorting van die Heilige Gees en ‘n ewige lewe! “Geloof sien die onsienlike, glo die ongelooflike en ontvang die onmoontlike” (C.S. Lewis). Neem saam met my vandag ‘n oomblik en raak stil, luister na God se stem … wat is dit wat Hy vir ons sê? Is dit nie dalk tyd dat ek en jy Sy soom vasgryp en ons erns in ons geloof wys en toepas nie?
“Dank God vir die feit dat jy lewe, want die lewe is nie net lig en nie net duisternis nie, nie net wit en nie net swart nie, nie net blink en nie net dof nie. Die lewe is soos die see met sy getye. Soms stoot dit in, soms trek dit weer terug. Wag vir die gety. Dit sal weer inkom” (I.L. de Villiers).
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die wonder van geloof. Dankie dat U self geloof in my hart gewek het, dat ek seker mag weet dat U leef. Dankie dat U oor my waak. Dankie dat U my Lig is wanneer die donkerte van siekte, en ja, selfs die dood, my wil toevou. Dankie dat U my moed gee in tye van angs, blydskap gee in ruil vir my hartseer. Wonderbaar is U Naam. Gee dat ek nooit sal ophou om bewus te wees van U teenwoordigheid by my nie. Amen.
Comments