Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 21 November 2023
Koos Espach
VII. Paulus se Derde Sendingreis
Hoofstuk 19 – Paulus in Efese (5)
Paulus doop volgelinge van Johannes die Doper (5)
Wat ‘n genade om die Heilige Gees te ontvang
Hand. 19:6-7 – “Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en God se boodskap verkondig. 7 Hulle was altesaam omtrent twaalf.”
Ons reis weer verder saam met Paulus waar hy die verskil tussen die doop van Johannes, en die doop wat hy nou verkondig (Christelikedoop), aan die twaalf gelowiges, verduidelik. Toe hulle dit hoor, het hulle hulle laat doop in die Naam van die Here Jesus. Vir Paulus hoort die Christusdoop en die gawe van die Heilige Gees bymekaar (vgl. Hand. 2:38). Wanneer Paulus hulle die hande oplê, kom die Heilige Gees op hulle. Dit kom tot openbaring in die spreek van tale en die verkondiging van God se boodskap. Soos by die Samaritane (8:15-17) het hulle die Heilige Gees eers ‘ontvang’ toe Paulus hulle die hande opgelê het. Soos by Kornelius (10:44-46) het hulle ook in tale gespreek en geprofeteer.
Dit bring ons by die vraag: Hoe “ontvang” ‘n mens die Heilige Gees? Moet iemand soos ‘n Paulus eers hulle hande op ons lê? Nee! Die Gees is aan ons gelowiges gegee! Paulus antwoord ons in Galasiërs 4:6 – “Omdat ons kinders van God is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur ...”; ons is gedoop in sy Naam (Matt. 20:19); “God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee ...” (2 Kor. 1:22); “In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, ons as eiendom van God beseël.” (Ef. 1:13). Die slegte nuus is dat God nie kan vul wat Hy nie besit nie! Daarom moet ek en jy ons lewe tot God se beskikking stel – ons moet in Jesus Christus glo! Eers dán kan ons gevul word met die Gees.
Hoe sal ons dan weet of ons aan God behoort as ons ons lewe tot God se beskikking gestel het? Ons het reeds gesien ons moet in Jesus glo. Paulus sê daar is nóg ‘n regte antwoord. Beteken dit dan geloof in Jesus Christus plus nog iets? Nee, omdat ons in Jesus glo, “het God ons as sy eiendom met sy Gees beseël!” Kortliks beteken dit dat die Gees in ons lewe werk om ons te verseker dat God vir ons die ewige lewe sal gee. Paulus sê die Heilige Gees is my en jou ‘deposito’ by God om te verseker dat ons die hemel sal haal: “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos” (Ef. 1:14).
Wat ‘n voorreg dat ons die Heilige Gees ‘ontvang’ het om in ons te werk! Genade onbeskryflik groot! God het gesien dat ons nie sterk genoeg is om op ons eie in hierdie deurmekaar wêreld gelos te word nie. Daarom het Hy ‘n Helper, sy Gees, vir ons elkeen gegee om in ons te werk, saam te swoeg, saam te huil en te vertroos, saam te leer om ons by God se droom vir ons elkeen se lewe uit te kom. Hy verbind ons altyd met God. Dankie tog, want op ons eie sal ons dit nie maak nie.
Op ‘n ander plek sê Paulus: “Ons is gered deurdat die Gees ons vir Hom afgesonder het en deurdat ons in die waarheid glo” (2 Tess. 2:13). Maar waar kry ons die waarheid? Duh! Sal selfs ons kleinkinders sê. In God se Woord natuurlik. Ons hoef nie eers “ander tale of klanke te gebruik nie”, afrikaans is goed genoeg! In God se Woord staan al die waarhede wat ons nodig het. Ons moet voortdurend Sy Woord bestudeer en soveel as moontlik van die waarheid eet! Sy Woord smaak heerlik: “Sy Woord is aangenaam, dis soeter as heuning in die mond” (Ps. 119:103). Saam met die Heilige Gees wat ons hand neem, sal ons geloof in God sterker word en sal ons meer en meer vir Hom beskikbaar wees. En ons kán nie daaroor stilbly, ons moet sy Woord deel met ander – dié wat dit wil hoor, asook dié wat dit nié wil hoor nie!
Die Heilige Gees wil ons help dat ons reg is die dag as ons by die hemel instap. Hy wil seker maak ons kom by die regte adres uit en dat ons pas by wat ons gaan ontvang. Daarom wil Hy help dat ons al die gemors van die wêreld sal afskud. Hy wil elke deel van ons gedagtes, woorde, bedoelings en dade in lyn kry met God se wil vir ons lewe.
Dis nie altyd so maklik nie en baie keer maak dit seer want ons maak steeds foute. Ons moet ook soms dinge opgee waaraan ons al lankal gewoond geraak het. Gelukkig weet ons dat die Heilige Gees vir ons gegee is om te help, ons toe te rus en ons te vertroos. Ek en jy moet net toelaat dat die Heilige Gees Sy werk in ons lewe doen. Dit laat my wonder? Hoeveel ruimte is daar vir die Heilige Gees om in ons te werk? Kom ons maak dit maklik vir Hom en drink God se waarheid deur Sy Woord in. Eet dit soos heuning. Kry ‘n nuwe passie vir die Here se saak. Deel dit met ander.
“’n Mens kan net so wel probeer om sonder ore te hoor of sonder longe asem te haal as om sonder die Heilige Gees ‘n Christelike lewe te probeer lei” (Dwight L Moody).
Gebed: Vader, dankie vir U Gees wat U vir ons as geskenk gegee het. Ek is egter bevrees, ek en die Heilige Gees het nog baie werk voor ons. Maar ek wil en gaan meer plek maak vir die Heilige Gees se werking in my lewe. Amen.
Comentários