Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 14 November 2023
Koos Espach
VII. Paulus se Derde Sendingreis (4)
Apollos preek in Efese (3)
Die regte Weg
Hand. 18:27-28 – “Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig en vir hom ‘n brief saamgegee aan die gelowiges daar om te versoek dat hulle hom vriendelik moet ontvang. Daar aangekom, was hy tot groot hulp vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, 28 want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is.”
Vergelyk ook Joh. 14:6 – “Jesus het vir (Tomas) gesê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
Apollos wou graag Korinte toe gaan. Moontlik was hy uitgenooi deur sommige Korintiërs wat met hom kennis gemaak het in Efese. Gelowiges, wat in die eerste plek Akwila en Priscilla moes gewees het en wat met Agaje en Korinte in die besonder bekend was, kon hom op hoogte bring van die omstandighede daar. Hulle het hom bemoedig en vir hom ’n brief saamgegee met die versoek dat die gelowiges daar, hom vriendelik moes ontvang. Met sy aankoms, het Apollos dié wat deur die genade van God ‘tot geloof gekom en daarin volhard het’ baie gehelp met dit waaraan hulle juis behoefte gehad het.
Die Jode se vyandskap in Korinte het blykbaar gegroei na hulle teleurstelling voor Gallio (18:12-17). Toe Paulus vertrek het uit Korinte, het hulle die gelowiges wat meestal uit heidene bestaan het, begin verwar oor hulle geloof. Verwarring van die gelowiges was seker nie moeilik nie vanweë hulle kennis van die Skrif. Maar wat die gelowiges nodig gehad het, word hier uitgespel. Apollos se besondere gawe was om met die Jode te redeneer, aangesien hy uit die Skrifte van die Ou Testament kon bewys dat Jesus waarlik die Christus is, die Messias, Koning en Verlosser wat die Jode verwag het, dat Hy die enigste Weg na God toe is.
Daar word nie gesê dat daar Jode op die prediking van Apollos tot bekering gekom het nie, maar hy het daarin geslaag om hulle in die openbaar (sodat almal dit kon hoor), kragtig te ‘verslaan’ deur hulle argumente te weerlê. As ‘begaafde spreker’ (v. 24), het hy sy luisteraars oortuig om daardie geloofsprong in Jesus te waag. Jesus Christus is nie net die weg waaroor die lewe gaan nie, maar ook die weg na God toe en almal wat hulle voete op daardie weg plaas, is op die pad van die lewe. Dit is die weg waarheen Jesus gegaan het om vir almal plek gereed te gaan maak (Joh. 14:1-3). Almal wat in Hom glo, sal die plek bereik wat Hy vir hulle gaan voorberei het. Hy is die weg daarheen en wie in Hom glo, is nie in ‘n doodloopstraat nie!
Dit is wat Jesus doen: Hy gee nie net advies en aanwysings nie, Hy neem ons by die hand en lei ons persoonlik. Hy vertel ons nie net van die weg nie, “Hy ís die Weg”. Hy het die weg na ons Vader bekend gemaak deur Sy prediking. Deur Sy aardse lewe het Hy self daardie weg bewandel en deur Sy kruisdood vir ons sondaars daardie weg geword: “Broers, (en susters) ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei” (Heb. 10:19-20).
Jesus is “die waarheid” deurdat Hy werklik is wat Hy deur Sy prediking en Sy woorde aangaande die liefde van God, die volstrekte betroubare woord en ten volle geloofwaardig, gebring het: “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red” (1 Tim. 1:15). Hy is die reddende waarheid van die evangelie, en naas Hom is daar geen ander waarheid waardeur die mens gered kan word nie. Mense kan sê: Ek vertel jou die waarheid; Jesus sê: “Ek ís die waarheid” (1 Joh. 2:20-27).
Jesus is “die lewe” omdat Hy gekom het om die lewe te bring: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense” (Joh. 1:4). Jesus is na aanleiding van Sy goddelike wese “die lewe”: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook” (Joh. 11:25). Daarom is Hy ook die bron van die lewe, die weg wat nuut is en na die lewe lei.
Omdat Jesus in die volstrekte sin “die weg en die waarheid en die lewe” is, is Hy die enigste weg na die Vader. Alleen in Hom gaan die deur oop na die huis van die Vader met sy baie woonplek (Joh. 14:2). Dit is nie afhanklik van my en jou pogings of werke of geloof of enigiets nie, dit is die werk van Christus alleen. Dat Christus gesterf het, opgestaan het en die pad na God oopgemaak het “om vir ons plek gereed te gaan maak”(Joh. 14:2b), is die werklikheid en waarheid. Ons verdien dit nie, ons verstaan dit nie, ons kan dit alleen in geloof ontvang en aanvaar. Dit is beloftes dat ons noú in Jesus die weg kan ken van waarheid en van ware lewe. Dit is nie alleen iets wat ek en jy ééndag sal ontvang nie, dit is iets wat Jesus nóú reeds vir ons kom gee, naamlik om ‘n totaal ander kwaliteit van lewe te kan leef. Dankie Jesus!
“Ons kan op geen manier God se guns wen of Sy vryspraak verdien nie, en ons hoef ook nie. Van begin tot einde is dit ‘n saak van genade. Aanvaar dit met verwondering en met geloof in Christus Jesus en vier dit met dankbaarheid” (William Barclay).
Gebed: “Leer my U pad, Here, ek wil wandel in U waarheid” (Ps. 86:11). “Leer my om te lewe want by U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom daar net wat mooi is” (Ps. 16:11). Amen.
Comments