Gedagte vir Vandag
12 Februarie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (48)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (4).
(Matt. 20)
Jesus kondig die derde keer Sy dood en opstanding aan (1).
(Mark. 10:32-34; Luk. 18:31-34)
Die ervaring van verslaentheid!
Matt. 20:17-19 – “Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle: ‘Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gésel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”
Jesus is steeds besig om spesifiek sy dissipels voor te berei vir die gevolge wat Sy toekomspad vir hulle gaan inhou. Wanneer Matteus terugkyk op die kruisgebeure en wat vooraf gebeur het terwyl hy sy evangelie skryf, het hy geweet wat in Jerusalem op Jesus gewag het. Om Jerusalem toe te gaan, het beteken dat dit nie maar net 'n tog na die stad toe was vir die paasfees nie, maar van 'n lydenspad. En Jesus, omdat Hy die Seun van God is, het vooraf geweet van die komende lyding, maar daar was geen sprake meer van omdraai nie. Hy stap dit vrywillig tegemoet. Dit moes vir Jesus ontsettend moeilik gewees het. Maar, sommer “so in die loop” spel Hy vir die twaalf dissipels uit wat vir Hom voorlê. Hy gaan om die toorn van die Vader, vir hulle en ons sondes, te dra.
Matteus noem pertinent dat Jesus eenkant, net met die dissipels praat, en vir hulle sê dat Hy “aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer gaan word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel.” Jesus se Joodse volksgenote, die godsdiensleiers, het besluit Hy moet liewer sterf, maar aangesien die Jode geen reg gehad het om die doodstraf uit te voer nie, sal hulle Jesus “uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gésel en kruisig.” Vir die eerste keer word genoem dat Jesus gekruisig sal word. Jesus moes sterf as uitvoering van die wil van God. Dis verder belangrik om net weer raak te sien dat Jesus nie net moes sterf nie. Hy moes deur die religieuse owerhede van Sy dag onregverdiglik veroordeel word. Dit gaan dus ook oor Jesus se verwerping en nie net oor Sy fisiese sterwe nie.
Letterlik staan hier dat Jesus opgaan na Jerusalem. Die term “opgaan” het vir die Jode ‘n godsdienstige betekenis gehad. Jesus gaan om ‘n godsdienstige plig te vervul. Jesus gaan sy dood bewustelik en gewillig tegemoet in gehoorsaamheid aan die wil van die Vader om plaasvervangend, vir ons sondes te betaal. Die eise van dissipelskap het met Jesus se bekendmaking van Sy kruisiging, radikaal verander. Die dissipels het wel alles gelos om Jesus te volg, maar by hulleself gedink dat hulle op die aarde, ere posisies in Jesus se koninkryk sou beklee. Hulle is skielik hulle loon op die aarde kwyt. Jesus gaan nie triomfeer nie – Hy gaan sterf!
Die kruisiging was 'n onbeskryflik wrede dood waarmee die Romeine alle misdadigers, rebelle en slawe om die lewe gebring het. Vir die Jode was kruisiging nog erger, want “wie opgehang word, is deur God vervloek” (Deut. 21:23). Kruisiging was die mees vernederende straf, maar Jesus het vir ons hierdie vloek verdra, sodat ons vrygespreek kon word!
In die lewe van Jesus op aarde, was Jerusalem die plek waar Hy die vervulling van sy Vader se wil vir Hom aan die kruis sou bereik. Jerusalem was die eindpunt van Sy reis as Seun van die mens op aarde, en niks kon ooit daarin slaag om ons Here van Sy pad na Jerusalem te laat afwyk nie. Met beslistheid en spoed aanvaar Hy die laaste reis en volgens Markus, het Jesus “voor hulle uit geloop. Sy optrede wek verbasing by die dissipels. Hulle is verontrus dat Hy Hom midde in die gevaar in Jerusalem wil begewe, en die mense [mede pelgrims op pad na Jerusalem vir die Paasfees], wat agterna gekom het, laat bang word” (Mark. 10:32).
Wanneer ons in ons stukkende wêreld soek na God se liefde moet ons juis hierdie lydensweg van Jesus vir ons voor oë stel. Hy sterf hierdie vernederende en vervloekte dood vir ons as ons slaaf, vir ons as vyande van God. Hy doen dit bewustelik en vrywillig om ons te red van ons sondeskuld voor God. Is daar ‘n groter liefde as dit? Die ervaring van verslaentheid is ‘n les wat ek en jy as dissipels van Jesus moet leer. Wanneer ons Jesus werklik wil volg, moet ons onthou “Hy het voor ons uit geloop om gekruisig te word”. Hy moes elke moontlike sonde en hartseer van ons verstaan om dit vir ons te doen. Daarom kan ons verstaan dat ons ook hartseer en pyn sal ervaar “op pad na (óns) Jerusalem.” Niks moet ons egter laat afwyk om “Jerusalem” toe te gaan nie, nie eers vrees nie.
By dit alles is daar egter ook ‘n wonderlike troos. God sal Hom “op die derde dag opwek uit die dood.” God het die laaste sê en nie die Joodse leiers of die heidene, of enigeen nie. Jesus se opstanding sal die waarheid daarvan bevestig dat dit God se wil was dat Hy op so 'n wyse vir die sondes van die mensdom moes betaal. Net soos Jesus mag ons daarom ook verseker word van ons opstanding, selfs al sou die wêreld ons doodmaak oor ons getuienis. Aanbid ek en jy Jesus vir Sy liefde vir ons? Is ek en jy bereid om ook vir Hom te sterf as dit moet? Ons lewe eindig nie in ‘n kruisiging nie, maar danksy Jesus en God se genade, eindig dit in heerlikheid en triomf! Intussen moet ons wagwoord wees: “Ek sal ook Jerusalem toe gaan”, al is ek en jy bang dieselfde dinge gaan met ons gebeur wat met Jesus gebeur het, want “’n Leerling is nie hoër as sy Leermeester nie” (Matt. 10:24).
“Moenie bang wees nie … Hy is die Magtige, Hy regeer. Soos ‘n Herder versorg Hy sy kudde: Die lammers maak Hy bymekaar … en Hy dra hulle teen Sy bors, Hy sorg vir die lammerooie”
(Jesaja 40:9-11).
Gebed: Here Jesus, U is verraai en oorgelewer aan die leiers van U aardse tyd – U hart gebroke oor dislojaliteit van U vriende en volksgenote; onskuldig veroordeel tot die dood – wrede lyding as gevolg van onregverdigheid; deur heidene mishandel, bespot, gegésel, bespuug en wreed tereggestel – álles vir mý. Waarom sal ek dan bang wees? U het reeds my lewenspad vooruitgeloop en daarom kan ek verseker wees dat U aan my sy sal wees wanneer ek deur donker dieptes moet gaan. Here, ek kom opnuut vandag, 12 Februarie 2021, en los al die dinge waarvoor ek bang is by U, want ek weet ek kan maar rustig wees te midde van gevaar. Ek lewe in hierdie wêreld van U liefde – daardie liefde van U wat bangwees vir altyd onnodig maak. Amen.
Comments