top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 9 November 2023

Koos Espach


VII. Paulus se Derde Sendingreis (1)

Die derde sendingreis (1)


Ons is deel van God se werkspan


Hand. 18:23b – “Daarna het Paulus weer vertrek en deur die landstreek Galasië en Frigië gereis. Oral het hy die gelowiges geestelik versterk.”


Lukas se verslag van Paulus se derde sendingreis begin ietwat ongemerk. Die teksvers sê net hy het op nog ‘n reis vertrek en met sukses “die land Galásië en Frigië deurgereis en al die gelowiges geestelik versterk” – geestelik versterk om aan te hou glo dat God in Jesus sigbaar geword het en dat húlle God nou sigbaar moet maak. En so word die eerste 2 414km van die reis in een sin beskryf. Die rede hiervoor is dat die fokuspunt van hierdie reis Efese was, waar Paulus meer tyd as in enige ander stad in die loop van sy sendingreise, deurgebring het.


Paulus se sendingmetode is ‘n sleutel om sy optrede en die vinnige groei van die getalle gelowiges te verstaan. Hy het tydens sy sendingreise maar net op ‘n paar plekke langer as ‘n paar weke gebly, ‘n gemeente gestig en verder gegaan. Hy het dan later weer die gemeentes besoek of briewe aan hulle geskryf om hulle vrae en probleme te hanteer. Ons moet ook verstaan dat heelwat van die gemeentes wat hy gestig het, in ons taal huisgemeentes was. Dit was klein groepies wat in ‘n huis kon vergader en sodra die huis te vol geword het, moes ‘afgestig’ word na ‘n ander huis. Dan was die evangelie daar verkondig en die verantwoordelikheid het verder berus op die ‘huisgemeente’ se klein groepie om die evangelie verder te verkondig.


Daarom was daar dan ook meer as een huisgemeente in ‘n spesifieke stad, want Paulus “het sy eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie” (Rom. 15:20a). Paulus kon goeie rekenskap gee van wat hy deur God se genade gedoen en bereik het. Heel beskeie meld hy dan ook wat hy as apostel gedoen het om die heidene tot geloofsgehoorsaamheid te bring. Sy sendingbeleid en arbeid van die evangelieverkondiging was op bepaalde plekke waar niemand nog van Christus gehoor het nie, want hy wou nie op “die fondament van iemand anders bou nie”, maar “waar baie nasies gaan opspring van verbasing, konings wat sprakeloos sal wees oor Christus, want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie, iets te wete kom wat hulle nog nooit gehoor het nie” (Jes. 52:15).


Paulus was ‘n man met wie die Here ‘n pad gestap het. Hy was gekies as Jesus se werktuig om sy Naam uit te dra onder die heidennasies én onder Israel (Hand. 9:15). Hy moes vir elke mens wat hy teëgekom het, die goeie nuus meedeel dat Jesus van die kruis, en nie aan die kruis nie, ‘n nuwe lewe moontlik maak! Boonop was sy sendingpad baie steil. Sy briewe bevat oral inskrywings van al die lyding wat hy moes deurmaak, maar hy het vasgehou aan die Here se belofte dat Hy by hom is, hy moenie stilbly nie en aanhou preek (Hand. 18:9).


Jesus se Groot Opdrag sê: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels …” (Matt. 28:19-20). Dit is Jesus se opdrag, nie ‘n voorstel nie. As dissipels van Jesus, is ek en jy ook deel van God se familie en is dit verpligtend vir elkeen, nie net die sendeling, predikant of pastoor nie. God gaan ons verantwoordelik hou vir die dood van ongelowiges: “Wanneer Ek vir ‘n goddelose sê hy gaan deur sy sonde sterwe, en jy waarsku hom nie, sal Ek van jou rekenskap eis vir sy dood” (Eseg. 3:18).


Jesus vra ons nie net om na Hom toe te kom nie, maar ook om vir Hom te gaan. Almal het Jesus nodig en ons besit die grootste nuus ter wêreld, daarom is dit ‘n ongelooflike eer om God te verteenwoordig en hierdie nuus met ander te deel: “Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou” (2 Kor. 5:18). As deel van God se werkspan, moet ons nooit vergeet hoe hopeloos alles sonder Christus is nie. Daar is mense op aarde wat net óns kan bereik want ons woon waar ons woon en God het ons daar geplaas. Dit is só maklik om Christus se Groot Opdrag te ignoreer want satan wil eerder hê ons moet enigiets anders doen, as om ons geloof in Christus te deel. Satan sal ons allerlei goeie en lekker dinge laat doen, solank ons niemand saam met ons hemel toe neem nie.


Dienswerk het soveel fasette wat elkeen van onsself raak. Dis maklik om geld te gee sodat ander die werk kan doen. Paulus het homself gegee en die Here verwag van my en jou dat ons onsself sal gee. Lees gerus Jesaja 58 vanaf vers 6 tot 14 en kyk waarvoor jy kans sien, en doen dit. Moenie te vinnig daaroor draf nie, staan by elke faset stil wat genoem word en word stil voor die Here met Jesaja 58 voor jou oop. Miskien is dit eerstens nodig dat ons begin by vers 13 en dan te vra: “Here, wys my waar ek betrokke kan raak!” Jesus vertrou uit die staanspoor vir ons, as Sy volgelinge, om Sy kerk te vestig. Sy oë rus op elkeen van ons. Én Sy helpende, seënende hande. Elke dag. Al die dae!


“Niemand gee hom- of haarself vrylik en gewillig in God se diens nie, tensy hulle die Vader se liefde gesmaak het en hulle nie anders kan nie as om God te dien” (Johannes Calvyn).


Gebed: Here, wie het U in my lewe geplaas sodat ek hom of haar van U kan vertel? Gee dat enigiets wat ek vir U onderneem, ‘n bron van groot blydskap sal wees. Heilige Gees, lei my na die plekke toe waar God aan die werk is, ek wil aanmeld vir diens. Ek loof U Naam vir hierdie besondere voorreg. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page