top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 3 November 2023

Koos Espach


VI. Paulus se Tweede Sendingreis (59)

Hoofstuk 18 – Paulus in Korinte (Hand. 18:1-28)

Paulus keer terug na Antiogië toe (3)


As God wil ...


Hand. 18:19-21 – “By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote verlaat en in die sinagoge ingegaan, waar hy met die Jode geredeneer het. 20 Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie. 21 Hy het van hulle afskeid geneem en gesê: ‘As God wil, kom ek na julle toe terug.”


Paulus, Akwila en Priscilla vertrek vanaf Kenchreë en kom in Efese aan, die hoofstad van die Romeinse provinsie Asië. Aan die begin van die tweede sendingreis wou hy daarheen gaan, maar is deur die Heilige Gees verhinder (Hand. 16:6). Tyd is vir Paulus kosbaar. Elke dag is vir Paulus ‘n geskenk van die Here en daarvoor moet hy dit gebruik. Terwyl hy vir ‘n skip wag om na Sesarea te reis, besoek hy “die sinagoge waar hy met die Jode redeneer.” Hierdie redenasie sou gegaan het oor Jesus wat die Christus, die Messias, die opgestane Verlosser is. Die Jode in die sinagoge reageer verrassend anders as in die ander stede. Hulle versoek hom vriendelik om ’n langer tyd by hulle te bly. Hy het egter nie toegegee aan hulle versoek nie. Terwyl hy hulle groet, belowe hy om weer na hulle toe te kom ‘as God wil,’ en daarna van Efese af per skip vertrek.


Paulus se lewe en werk staan onder die wil en seggenskap van die Here Jesus. Hy het dit reeds sterk ondervind dat die mens wik, maar God beskik. Die wil van God bepaal sy lewenspad, niks gebeur toevallig nie. Net so het baie van ons Afrikaanssprekende gelowiges grootgeword waar ‘as die Here wil’, ‘n algemene gesegde geword het agter elke stukkie beplanning wat onderneem word. Sonder dat ons dit besef, is hierdie gewoontespreuk, ‘as God wil’ of ‘as die Here wil’, nie net ‘n vroom gewoonte nie, dit is eintlik ons reaksie om ons afhanklikheid aan die Here te erken.


Mense wat hulle sterflikheid besef, sê Jakobus in sy Bybelbrief, kan nie anders as om DV, oftewel Deo Volente – as die Here wil - te gebruik nie. Ons erken ons afhanklikheid van die Here. Ons kan niks daaraan verander nie want ons word gelei deur die genade en die wil van God gedurende ons kortstondige bestaan op aarde. Jakobus wil vir ons die korrekte gesindheid voorskryf dat ons erkenning aan God se beskikking moet gee wanneer daar enige toekomsplanne gemaak word. God se heilsweg in hierdie geval vind oortuiging in “as die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”


Dit is eintlik vir ons almal van groot belang om ‘DV’ ook te lééf. Dit is méér toepaslik in die volledige beplanning van ons lewe – “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons ... Julle moet eerder sê: As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen. Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd” (Jak. 4:13a, 15-16). Jakobus se argument is dat dit ‘n skewe realiteit is van iemand met té veel selfvertroue en nie God insluit in sy beplanning nie. Hulle roem eintlik in hul arrogansie – “maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot’ – en wanneer die beplanning realiseer, word dit aan “toevallig” toegeskryf. Wanneer dinge in ‘n Christen se lewe “toevallig” gebeur, bely ons teenoor die wêreld dat ons nie die beskikking en voorsienigheid van God ernstig opneem nie. Inteendeel, in ‘n Christen se lewe bestaan toevallig nie, maar wel toe-val-Sy-lig!


Een van die gawes van die mens is die vermoë om vooruit te kan beplan. Maar dan moet ons ook onthou: Die uitvoering van ons voornemens vir die toekoms, is geheel afhanklik van die die wil van God. As ons nadink oor die dinge waaroor ons grootpraat, sal ons besef dat ons roem oor dinge en omstandighede waaroor ons nie beheer het nie. Al daardie soort grootpratery (roem) is sleg en sondig, omdat dit die majesteit van God aantas! Dit is beter om te leef met die gesproke voorwaarde van ‘as die Here wil’. En wanneer ons beplanning van môre nie realiseer nie, moet ons aanvaar dat dit die wil van die Here is. Dan moet ons met die ‘wil van die Here’ vrede maak.

Ons moet egter ook waak dat ‘as die Here wil’ of die gebruiklike DV’, nie ‘n byvoeging word wat uit gewoonte of bygeloof gebruik word nie. Ons moet onthou dat die gebruik daarvan, juis ons afhanklikheid aan God openbaar. Hiermee bevestig ek en jy Paulus se oortuiging dat “geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping, ons van God se liefde kan skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”(Rom. 8:38-39). Ons lewe kom uit God se hande en dit word daagliks daarin voortgesit. Prys Hom daarvoor.


"How foolish it is for a man to make plans for his life, when not even tomorrow is in his control. No man has such rich friends that he can promise himself tomorrow" (William Barclay).


Gebed: Here, ek erken dat U ewig is en in beheer van alles is, daarom bely ek my afhanklikheid aan U. Deur te roem op my “beheer” oor die dag van môre, is ‘n grype na valse grootheid en selfstandigheid wat my nie beskore is nie. Vergewe my Here, wanneer ek nie U erken in my toekomsplanne nie. Sluit my asseblief in U Raadsplan in sodat dit beskik oor my volle lewe. Ek prys U daarvoor. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page