Gedagte vir Vandag
Maandag, 30 Oktober 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (55)
Paulus in Korinte (5)
Geloof verdryf vrees
Hand. 18:9-11 – “Een nag het die Here in ‘n gesig vir Paulus gesê: ‘Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, 10 want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.’ 11 Paulus het ‘n jaar en ses maande lank daar gebly en die mense onderrig in die woord van God.”
Kort nadat Paulus die sinagoge verlaat en na die huis van Titius Justus gegaan het, het hy ’n bemoedigende ondervinding gehad. Die Here self het een nag in ‘n gesig vir Paulus gesê om nie stil te bly nie, maar aan te hou om die evangelie te verkondig. “Hy moenie bang wees nie, want die Here is met hom.” Hierdie gebod gaan gepaard met ‘n heerlike belofte van bewaring: “Niemand sal hom aanval of enige kwaad aandoen nie, want in Korinte behoort baie mense aan die Here.” Paulus ontvang dus die belofte van Jesus af dat sy werk in Korinte sal slaag. Hy kon met moed verder gaan, sonder vrees vir vervolging en met sekerheid van sukses in sy dienswerk.
Paulus werk hier vir nog agtien maande onder die beskerming van die Here teen sy teenstanders, terwyl hy besig was om die Korintiërs te onderrig in die woord van God. Daar was ook nie baie Jode wat in hierdie tyd die lewe vir hom onaangenaam gemaak het nie, en hy het verder die geleentheid gehad om mense te ontmoet wat oor die hele Ryk verspreid geraak het. Paulus, wat in swakheid na Korinte toe gekom het, vol vrees en bewing (1 Kor. 2:3) vir hierdie wêreldstad met sy baie mense en gelowe, op die brandpunt tussen die Jodendom en die heidendom, word deur die Here versterk.
Jesus het dikwels vir mense gesê om nie bang te wees nie. Trouens, “moenie bang wees nie” word 365 keer in die Bybel herhaal. Vir elke dag van ‘n hele jaar, vir elke jaar, ontvang ons gelowiges in Christus, hierdie bemoedigende woorde. Ons word elke dag oorval deur ‘n duisend vrese wat op ons spreekwoordelik afstorm en ons hart beklem. Vandat Adam erken het: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword” (Gen. 3:10), is die mens vreesbevange. Om ons vrese te kan oorwin, het ons geloof in die lewende en Almagtige God nodig. Jesus het immers aarde toe gekom om ons van dié slaweny te te bevry. En toe Hy uit die graf opgestaan het, het dood en bang, daardie twee ellendige pasmaats, in die graf agtergebly. Vir altyd!
Jesus het nie net o.a. met Paulus gepraat nie, Hy praat met ons ook. Jesus het gesê dat selfs die hare op my en jou kop getel is. Só groot is Sy liefdesorg vir ons en só waak Hy onophoudelik oor ons. Elke onvriendelike woord wat na ons kant toe gegooi word; elke liefdelose behandeling wat ons deel word; elke lasterwoord wat ons hart deurboor – Hy weet daarvan! Bowenal, alles wat selfs met die dood in verband gebring word soos lyding, afskeid, smart, verlange, al daardie dinge wat bangwees tot in ons lyf bring, sê Jesus vir ons: “Moenie bang wees nie. Ek was ook daar. Dink maar aan My doodsangs in Getsemane. Ek het al jou benoudhede en vrees op My geneem” (Luk. 22:43).
Jesus Christus is ons oplossing vir al die vreesaanjaende probleme in ons lewe. Hy is immers ons Verlosser. Ons wat sy volgelinge is, kan daarom bo ons vrees uitstyg. Gerjo Ben vertel dat een van die mees vreesaanjaendste gevoel is om ‘n motor te bestuur in digte mis. Die mis is so dik dat jy net drie strepe in die pad voor jou kan sien. Dit help nie om jou ligte op brights te sit nie, want dit skyn net in die mis vas en verblind jou oë. Jy weet nie of daar dalk ‘n dier of vragmotor voor jou in die pad stilstaan nie. As jy dan uiteindelik deur die mis gebreek het en die son skyn helder, slaan verligting mens plat en jy is dankbaar dat jy weer vêr kan sien. Alles lyk sommer so helder en skoon. So asof jy nou net wakker geword het van ’n vreeslike nagmerrie.
En dis presies wat die Here kom doen het. Hy het ons kom wakker maak. God het ons uit die mislike lewe van nagmerries en bangheid kom haal. God het ons uit die lewe van ’n mistige wêreld waar mense rondploeter en geen rigting het nie, kom haal. Nou hoef ons nie meer gespanne te wees nie. Nou hoef ons nie meer bang te wees iets daag voor ons op en ons kan niks daaraan doen nie. Spreekwoordelik is ons nou nie meer deur die mis nie, want God het ons daaruit kom red.
Dankie tog! Dis darem soveel beter om presies te weet waarheen ons op pad is en dis nog beter om dié pad te sien. Deur Jesus (wat ons Lig is) het God vir ons uit die donker naglewe kom red en ons gebring tot in die daglewe. Hier waar ons kan sien, maar ook waar ander ons kan sien. Dis soveel beter om te sien en om nie in vrees te lewe vir wat dalk hier uit die nag na ons kant toe aangesluip kan kom nie. Ons kan presies sien waarheen ons op pad is en ook waar die pad is. Ons moet nou net seker maak dat ons op daardie pad bly – die geloofspad wat Jesus aanbied!
Op hierdie geloofspad sal ek en jy die alomteenwoordigheid van Jesus Christus vind. Ons moet net ons oë gevestig hou op Hom, in Hom bly, Hy is tog sterker as my en jou angs. Ek en jy moet in stilte op die Here vertrou (Ps. 37:7). Hy het mos gesê Hy is altyd by ons. Ons kan met vertroue daardie moenie-bang-wees-nie-boodskap ons eie maak!
“As jy met jou lewensverhaal die ruimte van die liefde van God binnegaan, staan daar op die deur van die ruimte: ‘Vrees verbode’ (Karl Barth).
Gebed: Ons Vader, ek is vandag hier om al my vrese voor U voete te kom neerlê. Vergewe my dat ek vir nog soveel dinge bang is, terwyl ek weet U is elke dag by my. Hou my oë gerig op die vreeslose pad wat U vir my klaar gestap het. Dankie vir U liefde vir my – daardie liefde wat bangwees onnodig maak. Amen.
Comentarios