top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 23 Oktober 2023

Koos Espach


Paulus se Tweede Sendingreis (50)

Paulus in Atene (15)


Onsin? Tog nie!


Hand. 17:33 – “So het Paulus van hulle af weggegaan.”


Paulus het die vergadering op die Areopagus verlaat en nie lank daarna nie, ook Atene wat so onverskillig staan teenoor sy boodskap. Paulus het hom feitlik afgeskei van Atene, só afgeskei dat hy nooit weer Atene besoek het of selfs een brief aan hulle gerig het nie. Maar die saad van sy getuienis wat hy op die markplein en die Areopagus gestrooi het, het tog ontkiem. Uit die geskiedenis leer ons dat die afgod Atena Promachus nog lank daarna haar septer oor die heidense stad geswaai het. Maar in die jaar 529 het keiser Justianus die heidense tempels en skole tot Christelike kerke omskep. Atena Promachus se Parthenon het ‘n kerk geword, ‘n Roomse kerk aan Maria gewy, maar tog ‘n kerk waar Jesus en Sy opstanding verkondig is. Ongelukkig is dit weer in die 15de eeu, onder Turkse heerskappy, na ‘n Moslem moskeë verander.


Paulus het later, moontlik as gevolg van sy treurige ervaring op die Areopagus, in sy brief aan die Korintiërs daarna verwys toe hy geskryf het: “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin ... 26b daar was nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27a En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam ...” (1 Kor. 1:22, 23, 26b, 27a).


Paulus beskryf God in Atene as Skepper met verwysing na die kosmos – die hemel en die aarde, en die skepping van mense. Hierdie Skepper kan inderdaad van die mense wat Hy geskep het, verantwoording verwag. God het sy wil bekend gemaak in sy Woord, in die wet en die profete, in die Psalms, in die historiese boeke, in die wysheidsliteratuur, in die evangelies, in die briewe, in sy Openbaring. Dit is die mees omvattende en genoegsame weergawe van sy wil vir die mens. En Hy kan verwag dat ons daarop reageer. Dat ons in Hom glo. Dat ons Hom gehoorsaam.


Dit beteken dat God mense tot bekering kan roep, omdat Hy die Skepper is, én dat Hy sy wil bekend gemaak het, sodat mense daarvolgens kan lewe, én met Hom in ‘n verhouding kan lewe. En om in daardie verhouding te kan lewe, moet ons twee dinge besef. Die een is dat sonde ‘n afstand bring met God wat nie van ons kant af oorbrug kan word nie. Ons het ‘n Verlosser nodig, soos wat Paulus in sy toespraak uitgespel het. Tweedens moet ons ook weet dat sonde nie net wetsoortreding is nie. Dit is ook om te lewe in God se wêreld asof Hy nie bestaan nie. Asof Hy ons nie gemaak het nie. Asof Hy nie iets te sê het oor hoe ons moet lewe nie.


Die afgelope twee duisend jaar het ons Christene al gewoond geraak aan die kruis. Ons dra dit om ons nekke, hang dit in verskeie formaat binne en buite ons huise op en plant selfs kruise in ons tuine. Daar is ook liedjies getoonset oor die dierbare kruis. Maar in Paulus se tyd was die kruis nie so dierbaar om oor te sing nie. Inteendeel, dit was een van die wreedste strawwe denkbaar waar die Romeine en Grieke mense naak aan kruise vasgespyker het en daar gelos het vir die wilde diere en voëls om hulle lewend op te vreet. Ander kere is hulle ledemate deur soldate afgekap om hulle dood te verhaas.


Daarom het Paulus se prediking oor die Verlosser wat gekruisig moes word om sondaars met God te versoen, nie lekker op die oor van baie Jode en Grieke geval nie. Des te meer was Paulus se prediking van hierdie gekruisigde Verlosser Jesus, se opstanding uit die dood vir hulle ondenkbaar en lagwekkend. Die boodskap dat God mense tot bekering wil roep en die kruis uitgekies het daarvoor, het net nie sin gemaak nie.


Die Jode het bewyse en tekens gesoek dat Jesus die Messias is. Vir hulle was die Messias die een wat politieke bevryding en vrede sou bring, nie iemand wat aan ‘n veragte houtkruis sou hang nie. Vir die Grieke was die gode te heilig om mens te word om te ly. Én dan te sterf net om ‘n paar dae uit die dood uit op te staan. Nee, nie maklik nie! Dit is dwaasheid! Daarom het hulle Paulus uitgelag.


Gelukkig werk God se genade in mense se lewe dat baie tog hierdie ‘dwaasheid’ glo en met hulle lewe daaraan vasgryp. Dit is net aan God te danke dat ek en jy Sy genadegawe van geloof ontvang het wat uitstyg bó menslike denke. Die gawe van geloof wat God vir ons uit liefde geskenk het, reik dikwels heelwat verder as menslike verstand. En daarvoor kan ons Hom loof. Daarvoor kan selfs elke mens met die hardste hart, hom of haar bekeer en nie saam met die spotters in hulle koor sing terwyl hulle die hel tegemoet hardloop nie!


As Christene verbly ek en jy ons in die kennis dat Jesus Christus opgestaan het uit die dood en vir ewig leef – en ons daarom ook leef! Hoe hard hulle ook al probeer, sal skeptici nóóit daarin slaag om ons koppe te swaai dat Jesus nié gekruisig is, gesterf het en uit die dood opgestaan het nie. Alle stoflike dinge kry ewigheidswaarde omdat ons Here vir altyd opgestaan het. Sy oë rus vir altyd op ons en Sy helpende hande omvou ons in seëning. Elke dag. Al die dae!


“Met Jesus se opstanding vier ons die toekoms van die wêreld. Dit is die belofte dat ook ons liggame, soos sy opstandingsliggaam, herstel en verheerlik sal word” (David Martyn Lloyd-Jones).


Gebed: Opgestane Here, baie dankie vir die heerlike versekering dat dié wat in U glo, nooit sal sterwe nie. Dankie vir die opstandingsgeloof. Wees asseblief by my, teenaan my, ál my dae. Ek loof en prys U daarvoor. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page